Werkloosheidskoers nou op 32,1%

Miljoene Suid-Afrikaners is steeds werk en baie van dié wat wel werk het, se indiensneming is onseker. (Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die amptelike werkloosheidsyfer vir die vierde kwartaal van verlede jaar staan op 32,1%, ʼn toename van 0,2% op die vorige koers.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag die uitslae van sy kwartaallikse indiensnemingspeiling bekend gemaak. Daarvolgens was daar 22 000 minder mense met werk as in die derde kwartaal van 2023. Altesame 16,7 miljoen mense het werk.

Die getal werkloses het met 46 000 tot 7,9 miljoen in dieselfde kwartaal toegeneem. Bykomend het die getal mense wat nie ekonomies aktief is nie – vir redes anders as dat hulle ontmoedigde werksoekers is – met 218 000 tot 13,4 miljoen toegeneem. Ontmoedigde werksoekers het in die vierde kwartaal van verlede jaar met 107 000 afgeneem (in vergelyking met die derde kwartaal). Dit het ʼn netto toename van 111 000 in die nie-ekonomies aktiewe bevolking tot gevolg gehad.

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer bly hardnekkig hoog, ʼn situasie wat groot uitdagings vir die ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling van die land skep. Casey Sprake, ʼn beleggingsontleder by Anchor Capital, sê ʼn ingewikkelde reeks faktore dra hiertoe by.

“ʼn Kombinasie van strukturele tekortkominge soos ʼn gebrek aan vaardighede, beperkte toegang tot gehalte onderrig en opleiding en ontoereikende werkskepping het beteken dat ʼn groot gedeelte van die bevolking nie teen vergoeding kan werk nie,” sê Sprake.

Sy sê ook die syfers dui op groeiende pessimisme onder die Suid-Afrikaanse werksmag.

Luidens die syfers het indiensneming in die formele sektor met 128 000 in die vierde kwartaal afgeneem, terwyl indiensneming in die informele sektor in dieselfde tydperk met 124 000 toegeneem het.

Die bedrywe wat tot die afname bygedra het, sluit in gemeenskap- en maatskaplike dienste (-171 000), konstruksie (-36 000), landbou (-35 000), handel (-28 000) en vervaardiging (-1 000).

Bedrywe met die grootste styging in indiensnemingsyfers sluit in finansies (+128 000), vervoer (+57 000), mynwese (+37 000) en private huishoudings (+18 000).

Provinsiaal is indiensnemingsverliese in die Oos-Kaap (-111 000), Limpopo (-40 000), Noordwes (-30 000) en die Noord-Kaap (-2 000) aangeteken.

Die grootste indiensnemingstoenames was in KwaZulu-Natal (+62 000), Mpumalanga (+48 000) en die Wes-Kaap (+23 000).

Die werkloosheidskoers ingevolge die uitgebreide definisie (wat insluit ontmoedigde werksoekers) is egter ʼn veel meer akkurate weerspieëling van die werklike getal werklose Suid-Afrikaners.

Dié syfer staan op ʼn kommerwekkende 41,1%.

“Dit dui op langertermyn, strukturele kwessies in die plaaslike ekonomie, omdat dit moeilik is om ontmoedigde werksoekers terug na die werksmag te lok of hulle te herinkorporeer,” sê Sprake.

Nog ʼn bron van kommer is langtermynwerkloosheid, dus diegene wat vir ʼn jaar of meer al sonder werk sit. “Dit het die afgelope dekade geleidelik toegeneem: van 65,5% in die eerste kwartaal van 2013 tot 77,1% in die vierde kwartaal van 2023.

“Suid-Afrika se werkloosheidsprobleem is ook akuut onder die jeug, waar hoë werkloosheidsvlakke hul vooruitsigte belemmer en maatskaplike ongelykhede vererger.”

Nagenoeg 3,4 miljoen (33%) uit 10,2 miljoen jong mense (diegene tussen 15 en 24 jaar oud) is werkloos, en ontvang ook geen verdere onderrig of opleiding nie.

Syfer is ‘geen verrassing’

Sprake sê die jongste toename in werkloosheid is geen verrassing nie, omdat die indiensnemingsgroei wat in die tweede en derde kwartaal van 2023 gesien is, nooit in verbruikerbestedingsdata weerspieël is nie.

“Ongeag die presiese data, hou ons vol dat die amptelike hooflyn-werkloosheidsyfers nie die volle ware omvang van die werkloosheidskrisis in die land ten volle weerspieël nie.

“Die manier hoe werkloosheid gemeet word, is geneig om spesifieke segmente van die bevolking mis te kyk, soos ontmoedigde werksoekers wat nie as deel van die aktiewe werksmag beskou word nie.

“Die amptelike statistieke meet ook nie informele werkers en onderindiensneming nie. Die amptelike werkloosheidsyfer gee moontlik ook nie volle rekenskap van die gehalte van werk wat beskikbaar is, of die mate van werksekerheid nie.

“Baie mense in Suid-Afrika is vasgevang in laaggeskoolde en onseker werk en dit lei tot onderindiensneming en aanhoudende armoede.”

In die plaaslike ekonomie het noemenswaardige werkskepping ook net gebeur wanneer BBP-groei 3% per jaar nader.

“In hierdie stadium is sakeondernemings steeds onder geweldige druk weens die uitwerking van beurtkrag, wat ook ʼn uitwerking op indiensneming en werkloosheidsyfers het. Die ekonomie groei eenvoudig net nie teen ʼn genoegsame koers om vooruitsigte vir langermynindiensneming volhoubaar ʼn hupstoot te gee nie,” sê Sprake.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niklaas ·

Dis nou a.g.v. korrupsie en die Kader regering se onbeholpenheid dat sake so sleg lyk in SA. Maar raai vir wie gaan die meerderheid van hierdie werkloses stem in die verkiesing.

Papsak ·

Wie bedank ons vir die werkloosheid syfer die ANC maar nog stem hulle vir die ANC so ja

Net-my-opinie ·

Wys die vir die ANC se slimjanne wat na geen raad of voorstel van wysheid, kennis en ervaring wil luister nie en ook nie ag slaan daarop nie. Selfs al kry hulle dit met ñ lepel in.

Jo-Anne ·

Sal my nie verbaas as persentasie baie hoër is nie. Net sekeres mag mos werk kry.

Blikkies ·

@Jo-Anne, ek stem beslis met jou saam, ek dink ook die persentasie is baie hoër as wat hulle skat, juis agv blankes wat nie aangestel wil word nie. Maatskappye is tog te bang vir boetes wat hulle opgelê sal word, al het die howe al beveel aanstellings op grond van ras is ongrondwetelik. Ek weet nie of daardie persentasie eers na gekyk word nie.

Miskruier ·

En ons jong mense het die land verlaat en werk wereldwyd… Amptelik is hul ook by die werkloosheidsyfer.

Jaco ·

Is dié syfers regtig korrek? Gedurig moet wit werksoekers hoor dat hulle velkleur “verkeerd” is om werk te kry. Dit gebeur selfs toenemend met kleurlinge en indiërs. So as net die “regte” velkleur ‘n werk waarborg waarom is daar dan amper 8 miljoen werkloses? Iets maak nie sin nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.