Wes-Kaap: Sommige skole Maandag gesluit; vloede verwag

(Foto: @CityofCT/X)

Skole in die Overberg-, Wynland- en Helderberg (Somerset)-distrik sal Maandag gesluit wees weens die risiko van wydverspreide vloede en gure weer.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het Sondag gesê daar is skole wat reeds skade opgedoen het weens die stormsterk winde en daar is swaar reën op pad.

Die moontlikheid van wydverspreide vloede wat lewensgevaar inhou en tot groot skade aan infrastruktuur kan lei, word vir Maandag vir dele van die Wes-Kaap voorspel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het sy waarskuwing van ʼn oranje vlak 6 tot ʼn oranje vlak 9 verhoog vir die volgende gebiede: Breedevallei, Kaap Agulhas, Drakenstein, Overstrand, Stellenbosch, Swellendam en Theewaterskloof.

Groot skade is reeds deur die stormweer aangerig. Volgens Colin Deiner, hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, is skade aan die Helderberg-hospitaal in Somerset-Wes en die Paarl-hospitaal aangerig. Die Mediclinic Stellenbosch moes ontruim word en drie pasiënte is na ander hospitale verskuif.

Talle paaie is gesluit. Die Hugenote-tonnel op die N1 naby die Paarl is in albei rigtings vir verkeer gesluit. Chapmanspiek- en Clarence-rylaan is ook vir verkeer gesluit. Talle brande woed ook oor verskillende dele van die provinsie en word deur sterk winde aangevuur.

Verskeie risikoverminderingsmaatreëls is intussen ingestel, onder meer die kansellasie van groot openbare geleenthede en die monitering van damvlakke en riviere se vloei. Geen toeskouers word toegelaat by vandag se sokkerwedstryd tussen Cape Town City en AmaZulu in die Kaapstad-stadion nie weens die gure weer.

Winde het die publiek versoek om nie fopnuus te versprei rakende die gure weer in die provinsie nie. Hy het verwys na ʼn voorval waar ʼn vragmotor se sleepwa van die brug by die Hugenote-tonnel afgewaai het. Daar is ʼn boodskap versprei waarvolgens ʼn vragmotor van die brug afgewaai is, maar Winde het bevestig dit was slegs die sleepwa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.