Wes-Kaap: Vloede, ontruimings, kragonderbrekings

Oorstromings in Struisbaai. (Foto: Cape Town Weather/ Facebook)

Meiringspoort, die bergpas op die N12 tussen Beaufort-Wes en Oudtshoorn in die Wes-Kaap, is Woensdagaand slegs vir 4×4- en swaarvoertuie oopgestel nadat swaar reën vloede in die omgewing meegebring het.

Dít terwyl dele van Oudtshoorn, Napier, Elim en dele van Struisbaai-Noord kragonderbrekings weens foutiewe kraglyne ondervind het.

Die Kaap Agulhas-munisipaliteit het Woensdag in ’n verklaring gesê vloede is veral in die omgewing van Struisbaai en Elim aangemeld.

Luidens die verklaring het die pad tussen Struisbaai en Bredasdorp gister by Vissersdrift oorstroom terwyl die Elim/Bredasdorp-pad by Mierkraal oorstroom het. Die paaie was ten spyte hiervan vir verkeer oopgestel.

Meiringspoort, asook die Bredasdorp/Napier/Caledon-pad en die Bredasdorp/Struisbaai/Bredasdorp-Arniston-pad, is in dié stadium oop vir verkeer.

Die Swellendam- en Stormsvlei-pad is gesluit.

Oorstromings in Struisbaai. (Foto: Cape Town Weather/ Facebook)

Maroela Media het vroeër berig reusehaelkorrels, vloede en reënbuie is Woensdag in Struisbaai aangemeld terwyl talle paaie en huise oorstroom het.

Volgens die munisipaliteit moes sommige inwoners te midde van die storm hul huise verlaat en hulle word tydelik by onder meer die Struisbaai-woonwapark en plaaslike gemeenskapsaal gehuisves.

Die munisipaliteit sê voorts Eskom is bewus van gebiede wat steeds kragonderbrekings ondervind en werk aan die probleem. Dit is nie bekend hoe lank herstelwerk gaan duur nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê wydverspreide buie en donderbuie, sterk wind en rowwe seetoestande word nog vandag in die Kaap Agulhas-, Kaapstad-, Hessequa- en Overstrand-munisipaliteite verwag.

Motoriste word versoek om versigtig te ry aangesien paaie nat en toestande uiters gevaarlik is.

’n Hulpfonds is intussen gestig ten bate van diegene wat groot skade gely het. Mense, groepe of organisasies word versoek om niebederfbare kos by Meals on Wheels in Struisbaai tussen 08:30 en 14:00 af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.