Wes-Kaapse boere ly vloedskade van R1 miljard

Die Wes-Kaap se departement landbou wil die vloedgeteisterde gebiede tot rampgebied verklaar. (Foto: Facebook/Stephen du Plessis Grondverskuiwing)

Ná die onlangse hewige oorstromings in die Wes-Kaap, het die provinsie se departement van landbou (WKDL) ʼn bygewerkte verslag van die geraamde finansiële koste van dié skade vrygestel.

Maroela Media het vroeër berig dat daar middel verlede maand erge reënbuie wydverspreid oor die Wes-Kaap voorgekom het – en dit het tot hewige oorstromings gelei.

Daniel Johnson, woordvoerder van dr. Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, sê ʼn aanvanklike assessering wat einde verlede maand gedoen is, het skade aan primêre landbou aan die Weskus, die Kaapse Wynland‑distrik en die Overberg bereken en die uitgebreide skade aan rivieroewers, besproeiingstoerusting, private paaie en wingerde en vrugteboorde wat onder modder toegespoel het, op R1,053 miljard bevestig.

Die geraamde koste van die skade is:

  • Besproeiing: R7,7 miljoen
  • Omheining: R1,4 miljoen
  • Sediment wat in riviere stroomaf gespoel het en oor rivieroewers, wingerde en boorde gespoel het: R748 miljoen
  • Oesverliese: R278 miljoen
  • Verlies aan inkomste (seisoenale werkers): R18,7 miljoen
  • Koste om ʼn keerwal skoon te maak om drinkwater aan 400 mense te voorsien: R120 000.

Bogenoemde ramings neem nie potensiële verliese hoër op in die landbouwaardeketting in ag nie, en ook nie die uitwerking op toekomstige uitvoere nie.

Johnson sê die departement is gereed om dié boere te hulp te snel. “Gewapen met ʼn meer geloofwaardige, hoewel konserwatiewe skatting, sal amptenare saam met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die nasionale rampbestuursentrum nader om die vloedbeskadigde gebiede tot ʼn rampgebied te laat verklaar en die gepaardgaande finansiering te ontsluit sodat ondersteuning verskaf kan word.

“Intussen sal die WKDL verseker dat geraakte produsente toegang tot die beste tegniese inligting deur sy voorligting- en konsultasiedienste kry.

“Daarbenewens sal die departement ook sy huidige program vir rivierbeskermingswerke uitbrei na vloedgeteisterde rivierstelsels, aangesien dit die uitwerking van toekomstige oorstromings sal versag.”

Johnson sê die WKDL sal bestaande noodtoewysings herprioritiseer en die nasionale sektordepartement en nasionale rampbestuursentrum via die provinsiale rampbestuursentrum nader om die koste van rivierbeskermingswerke te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.