‘Wes-Kaapse jeug kan Eskom help’ – premier

Premier Alan Winde.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, is oortuig daarvan dat dié provinsie se jong geleerdes die nodige kennis het om Eskom uit sy voortslepende kragkrisis te help.

“Die Wes-Kaap het die ontluikende vaardighede om Eskom te help en die plaaslike regering is meer as gewillig om enige hulp te bied wat hy kan,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat Solidariteit aangebied het om Eskom se beduidende vaardigheidstekort te help aanvul. Anders as toe Solidariteit ʼn soortgelyke aanbod in 2019 gemaak het, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, dié keer positief op die aanbod van hulp gereageer.

Winde deel Solidariteit se sentiment dat die kragvoorsiener dringend senior ambagsmanne en ervare ingenieurs nodig het om die land se kragtoevoer te stabiliseer.

“Die jongste episode beurtkrag is dalk verby, maar die land se kragstelsel is steeds onder druk en die bedreiging van verdere massa-onderbrekings bly ʼn werklikheid,” het hy gesê.

“Die Wes-Kaapse regering gee toe dat beurtkrag nie net ʼn Eskom-probleem is nie, maar ʼn uitdaging vir die hele land. Elke lewensvatbare oplossing, maak nie saak wie dit behels nie, moet oorweeg word as ons verdere kragonderbrekings wil beëindig.”

Volgens Winde moet die kragvoorsiener sy oë op die Wes-Kaap rig vir ʼn lewensvatbare oplossing tot sy probleem. Dié provinsie is glo reeds besig om sy jeug op skoolvlak met die nodige vaardighede toe te rus om uitdagings soos beurtkrag te takel.

“Die Wes-Kaapse departement van onderwys het ʼn STEAMAC-fokus aangeneem – Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese, Landbou, Wiskunde, Kuns en Kodering – om te verseker dat ons leerders die soort vaardighede ontwikkel wat ons provinsiale en nasionale ekonomie nodig het, nou sowel as in die toekoms,” sê David Maynier, provinsiale LUR van onderwys.

“Ons het hard gewerk om toegang tot leergeleenthede in tegniese rigtings uit te brei en in werkswinkels en ander fasiliteite te belê sodat ons leerders praktiese ervaring kan opdoen om hulle voor te berei vir naskoolse opleiding en indiensneming.”

Die departement het reeds 25 vaardigheidskole in die provinsie, twee openbare skole wat ʼn vaardigheidsrigting nastreef en ʼn loodsprojek wat gr. 8‑ en gr. 9‑vaardigheidsvakke in 23 geselekteerde openbare hoërskole aanbied.

“Die provinsie se jeug en diegene wat van voorneme is om loopbane na te streef in die veld van energieproduksie kan Eskom beslis in die toekoms van hulp wees,” meen Winde.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het reeds Solidariteit se aanbod om hulp, sowel as die databasis wat die vakbond al jare lank opstel, verwelkom.

“Ons ondersteun André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, se oproep om ambag- en tegniese opleidingsprogramme te laat herleef. Dié tipe fokus op opleiding, waarvoor Eskom bekend was, het oor die afgelope twee dekades verlore gegaan en soos ek verstaan is oproepe om hierdie programme weer van stapel te stuur, met weerstand van vakbonde begroet – behalwe deur Solidariteit,” sê hy.

Winde het bygevoeg dat dié provinsie sal voortgaan om sy jeug op só ʼn manier op te lei sodat die land in die toekoms nie meer onder beurtkrag gebuk sal gaan nie.

“Die Wes-Kaapse regering is proaktief en sal so bly in sy strewe daarna om vaardighede vir die toekoms te kweek om te verseker dat ons verdere beurtkrag in die komende jare kan vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Swerwer ·

Ongelukkig sal daar nie bevoegde Mannekrag in Eskom aangestel kan word voor hul nie met die BBEEE wegdoen sowel die ANC en EFF nie.

Nie Verbaas ·

Ek stem. Voor 1994 56 Gigawatt met 17000 mense en nou skaars 27 Gigawatt met 47000 mense. Weereens n bewys van ANC BBEEE wat geensins naby aan effektief is nie maar eerder n grap.

domheks ·

Dankie! As cANCer maar ‘n plan kon beraam! Al planne is om hul sakke te vul.

Nie Verbaas ·

Mnr Winde daar is ongelukkig nie tyd vir leer by Eskom nie. Die manne met die kennis en ondervinding van die toerusting moet weer in diens geneem word en dan moet daar ook van die onbeholpe oorbevolking by Eskom van ontslae geraak word. Dan egter eers kan hulle jong top presteerders in die veld aanstel.

Pieter ·

Ek dink Mnr. Winde los paar winde. Daar is nie nou tyd vir leer nie. Dis ‘n spesialis veld en dus word kundigheid benodig en nie jong mense wat dink hulle het kundigheid nie. Hulle kan wel opgelei word deur die met kundigheid.

Delia ·

Ek glo in ander provinsies is daar ook bevoegde mense. Maatskappye sal dalk net gratis moet werk

Anel ·

Ek kan nie dink dat net die kaap bevoegde jong mense het nie. Alles kan nie net om die kaap draai nie!!!!

Blikkantien ·

Ten minste beplan die Weskaap vooruit, nie seker van ander provinsies nie.

Witbaard ·

Jarelange ondervinding op die ouer kragstasies is van kardinale belang. Boekekennis alleen gaan nie die probleem oplos nie. Kan nie dink Winde is so kortsigtig nie.

philippus ·

En dis hoekom ek nie DA stem nie. Net so pateties soos ANC. Soek nie nog parasite by Eskom nie. Ons soek die voormalige bekwaamde eerlike ou toppies….

Oosie ·

Alleenlik mense met 20 jaar ens ondervinding REEDS kan Eskom help. Tyd is nie aan Eskom se kant so dit gaan nie die oplossing wees om 10+ jaar te wag dat daai studente leer en ondervinding opbou voordat hul in werking kan kom. Teen daai tyd is dit Exkom.. hou op om te traag met die probleme op hande nou..

Vonny ·

Wes kaap voel en lyk nog soos die goeie, skoon en funksionele Suid Afrika♡

Witbaard ·

Ek bly in Weskaap. Moet asb nie dink dis maanskyn en rose nie. Wel beter as ander provinsies, maar BAIE ver van waar dit was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.