Solidariteit se ‘omdraai-agente’ kan Eskom help red

(Argieffoto: ANA)

Meer as 1 000 mense het reeds hul bereidwilligheid getoon om die sukkelende Eskom te help red. ʼn Paneel van kundiges sal nou dié bereidwilligers se kwalifikasies sif tot die beste 100 kandidate oorbly. Dié name sal dan opnuut aan Eskom en die minister van openbare ondernemings voorgelê word om sake by Eskom te help beredder.

“Hierdie top-100 omdraai-agente sal die vermoë hê om ʼn wesenlike bydrae te lewer om Eskom te herstel. Die vraag is of daar werklik die politieke wil van die regering en dus ook Eskom is om hierdie mense met ope arms te ontvang en hulle die geleentheid te gee om die situasie te help omkeer,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het in Mei vanjaar in sy begrotingsrede benadruk dat ʼn gebrek aan “ingenieurs- en tegniese vaardighede en ondervinding” ʼn “noemenswaardige uitdaging” vir Eskom bly en dat dit ʼn voorvereiste vir ʼn groot industriële instelling is.

Solidariteit het nou – nes in 2019 – aangebied om hierdie vaardigheidstekort te help aanvul en Maroela Media het vroeër berig Gordhan het positief gereageer op die aanbod van hulp.

‘Roekeloos’ met vaardighede

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Argieffoto)

Hermann sê egter die huidige Eskom-vaardigheidskrisis kan nie bespreek word sonder om ag te slaan op die historiese konteks daarvan nie. “Eskom was eenvoudig roekeloos met ʼn rassetransformasieprogram,” sê hy.

Sedert 2000 het die kragvoorsiener sogenaamde plekmaak-pakkette vir Eskom-werkers aangebied en in huidige geldwaarde is sowat R1,8 miljard uitbetaal om van vaardighede ontslae te raak. “Die verlies aan vaardighede het ook gelei tot ʼn verlies aan institusionele kennis; dit was té veel, té vinnig,” sê Hermann.

Tot so onlangs soos 2017 het Eskom se program vir regstellende aksie voorsiening gemaak om van nóg 1 700 ingenieurs of tegnici ontslae te raak.

Nietemin het Solidariteit mense opnuut gevra om na vore te kom indien hulle bereid is om Eskom te help, nes in 2019, toe Solidariteit die name van 705 spesialiste aan Gordhan en Eskom oorhandig het. Sowat 30% van hulle was ingenieurs, nagenoeg 50% was gespesialiseerde ambagslui en tegnici en sowat 20% was mense met algemene vaardighede.

Daar het destyds dadels gekom van Solidariteit se aanbod om hulp.

“Die krisis was [in daardie stadium] waarskynlik nie groot genoeg nie. Vanjaar het ons weer gesprekke met Eskom gehad en daar was ʼn behoefte om vaardighede van buite in te bring,” sê Hermann.

Solidariteit se brief oor die aanbod om hulp is op 24 Mei aan Gordhan gestuur en hy is gevra om aan te dui spesifiek watter vaardighede by Eskom benodig word. Die minister se gunstige reaksie daarop is uit verskeie oorde verwelkom.

Benewens die 2019-lys met name, het nog sowat 450 mense reeds bykomend aangedui dat hulle Eskom se kastaiings uit die vuur sal help krap. Daar is nog sowat ʼn week tyd vir spesialiste wat hul vaardighede wil aanbied en die lys met name sal na verwagting oor die volgende paar dae selfs verder groei.

‘Hier is ons’

“Ons wil die name van die meer as 1 000 kundiges verminder tot 100 wat oor die beste vaardighede in die land beskik en dit dan verdeel in opwekking, distribusie en transmissie.”

Hierdie lys sal waarskynlik bestaan uit mense met meer as een kwalifikasie en jare lange ondervinding.

“Dit sal die mees gesogte vaardighede wees wat in die land beskikbaar is.”

Hermann sê daar is groot waardering vir dié kenners wat geen bitterheid toon nie en steeds wil help, selfs al is daar vantevore “roekeloos met vaardighede omgegaan in diens van ʼn rasideologie”.

“Dit is mense wat positief hul hande opsteek en sê ‘hier is ons, ons is gereed om die krisis te help oplos’.”

Die kundiges val hoofsaaklik in drie groepe: mense wat reeds afgetree het en oor jare lange ondervinding beskik. Dan is daar diegene wat elders in die bedryf werk, en laastens kenners wat in die buiteland is, maar steeds wil hand bysit.

Talle van hulle het vantevore by Eskom gewerk.

“Die feit is dat Eskom in ʼn kritieke toestand in intensiewe sorg is. Die regering het min opsies oor en kan eenvoudig nie meer iets soos ʼn goeie vaardigheidsaanbod ignoreer nie.”

Hermann sê dit gaan ʼn groot toets wees oor die kwessie of die regering ernstig is oor die beurtkragprobleem en die oplossing van die kragkrisis. “Ons kan nie meer in Suid-Afrika die luukse van ras bekostig nie. Ons moet nou kyk wie het die beste vaardighede wat ʼn krisis vir alle Suid-Afrikaners kan oplos.”

Kennis oorgedra

Die lys met name van topkenners sal binne die volgende twee weke afgehandel word en Solidariteit sal voor dan met Eskom vergader om te verseker die regte mense word op toepaslike plekke aanbeveel.

Hermann sê enige kontrakte wat aangegaan word, sal waarskynlik op ʼn vaste termyn wees en ook gekoppel word aan ʼn spesifieke nood wat by die kragvoorsiener geïdentifiseer is. Daar sal ook ʼn groot element van vaardigheidsoordrag en opleiding betrokke wees, sodat vaardighede volhoubaar binne Eskom versterk kan word.

“Dit is belangrik dat daar spesifieke uitkomste is, sodat dit ook meetbaar kan wees. Dit is nie ʼn los klomp vrywilligers wat op Eskom neerdaal nie; dit word op ʼn baie georganiseerde manier gedoen.”

Volgens Hermann het Eskom reeds in detail beplan oor hoe só ʼn span kundiges by die instelling ontvang kan word.

  • Registreer hier om jou naam by Solidariteit se netwerk van tegniese beroepe te voeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Ek dink kundiges op alle gebiede is nou nodig om Eskom te red, ook in die finansies en admin Departemente. Sabotasie vind binne en buite Eskom plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.