Wes-Kaapse skoolaansoeke nou gesluit

Foto bloot ter illutrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Aansoeke om plek in Wes-Kaapse skole het nou gesluit en alle aansoeke wat voortaan ontvang word, sal as laat aansoeke beskou en slégs oorweeg word nadat skole die aansoeke wat betyds ontvang is, oorweeg het.

Wes-Kaapse skole het nou net meer as ʼn maand om die aansoeke te hanteer.

David Maynier, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, sê die provinsiale departement van onderwys het gedurende die maandlange aansoekperiode, wat Vrydagaand verstryk het, altesame 503 763 aansoeke ontvang.

Dit kom neer op 156 150 leerders (omdat leerders vir plasing by meer as een skool kan aansoek doen). Dié leerders moet almal volgende jaar plek in een van die provinsie se skole kry.

Maynier het Maandag gesê aansoeke kan steeds op die Wes-Kaapse departement van onderwys se aanlyn stelsel ingedien word. Hierdie aansoeke sal wel as laat aansoeke gemerk word.

Die sperdatum vir laat aansoeke is 25 Mei 2023.

“Dit is noodsaaklik dat ouers nie verder uitstel om aansoek te doen nie. Dit beïnvloed ons beplanningsproses en kan lei tot vertragings in die plasing van leerders,” waarsku Maynier.

Ouers behoort teen 29 Mei die uitslag van ʼn leerder se plasingsaansoek te ontvang.

“Ouers moet dan suksesvolle aanbiedinge aanvaar of van die hand wys en ons moedig hulle aan om dit so gou moontlik te doen. Dit is veral belangrik dat ouers hul keuse van skool spoedig bevestig wanneer hulle aanbiedinge van verskeie skole ontvang het,” sê Maynier.

Sou ouers nie dadelik ’n aanbod van ’n skool aanvaar of van die hand wys nie, sal die stelsel die leerder outomaties in sy of haar voorkeurskool plaas indien dié skool ʼn aanbod gemaak het. Alle ander aanbiedinge sal dan verwyder word, sodat daardie plekke aan ander leerders gebied kan word.

“Ouers wat nie ʼn aanbod ontvang nie, moenie moedeloos word nie: Daar gaan altyd plekke oop soos ouers hul finale keuses bevestig,” het Maynier verseker.

“Ons sal geen steen onaangeroer laat in ons pogings om elke leerder wie se ouers betyds aansoek gedoen het, so vinnig moontlik te plaas nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TruthDealer ·

Bou nog skole. Is that Difficult?? Wish i was president and could change the Constitution. No more excessive human rights for violent criminals. They would be working on chain gangs building schools, hospitals, etc.

anko ·

Pas gesinsbeplanning toe. Met geboorte van kinders in ‘n bepaalde jaar kan daar reeds bepaal word minus persentasie, hoeveel kinders skool toe gaan in ‘n bepaalde jaar, of is ek nou toetentaal verkeerd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.