Wetsontwerp gepubliseer om vergrype met grendelstaat te stop

(Argieffoto: pixabay)

‘n Belangrike wetsontwerp word Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer om die magsmisbruik, ondemokratiese misbruik van staatsmag, aantasting van gewone Suid-Afrikaners se menseregte en gebrek aan verantwoordbaarheid van die regering tydens ‘n ramptoestand, soos wat die land tans met die koronavirus-grendelstaat beleef, stop te sit.

Die Wysigingswetsontwerp op Rampbestuur is opgestel deur dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en sal as ‘n private lede-wetsontwerp gepubliseer word.

Groenewald het Donderdag ‘n beroep op die publiek en belanghebbende instansies gedoen om die wetsontwerp te bestudeer en insette te lewer in die dertig dae wat nou vir openbare kommentaar beskikbaar is.

Basies poog die wetsontwerp om ‘n herhaling te voorkom van die huidige situasie wat reeds sedert Maartmaand in Suid-Afrika geld, met die regering wat na hartelus regulasies uitvaardig sonder demokratiese parlementêre insette en sonder parlementêre verantwoordbaarheid. Boonop laat die huidige Rampbestuurwet die regering in praktyk toe om vir ‘n onbepaalde tydperk – teoreties dus vir ewig – op hierdie wyse te regeer al is dit geheel en al strydig met die kernwaardes van die grondwetlike demokrasie.

Al wat die regering hoef te doen om voort te gaan om só per dekreet te bly regeer is om telkens aan te kondig dat die ramptoestand vir nog ‘n maand verleng word, soos die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, dan ook klokslag doen sodra die vyftiende van die maand nader kom – en daar is nie veel maniere om haar te keer om te doen wat sy wil nie.

Groenewald het sowat tagtig lande wêreldwyd se wetgewing oor noodtoestande nagegaan (ander lande gebruik oor die algemeen noodtoestand- eerder as ramptoestand-wetgewing vir hul koronavirus-grendelstate) en het tot die gevolgtrekking gekom dat die Rampbestuurswet verander moet word sodat Suid-Afrikaanse ramptoestande aan dieselfde reëls onderwerp word as wat vir Suid-Afrikaanse noodtoestande geld.

Wat Groenewald se wetsontwerp voorstel is dat ramptoestande nie net onbepaald deur die regering verleng en hernieu kan word soos tans die geval is nie.

As die wetsontwerp aanvaar word, sal die tersaaklike minister steeds ‘n ramptoestand kan afkondig, maar slegs vir ‘n tydperk van 21 dae. Indien die regering die ramptoestand wil verleng, sal 50% plus een van die Nasionale Vergadering ten gunste van so ‘n stap moet stem – die regering sal nie net kan maak wat hulle wil, soos tans nie.

Indien die Nasionale Vergadering ten gunste van so ‘n verlenging stem, sal dit vir ‘n maksimum van drie maande geld. Nadat die drie maande verby is, sal 60% van die Nasionale Vergadering dit moet goedkeur vir ‘n verdere hernieubare tydperk van drie maande, anders is die ramptoestand verby.

In die praktyk sou dit. met die ANC se huidige steunvlakke van 57,5% in die Nasionale Vergadering, beteken die ANC sou nie ‘n ramptoestand op hul eie kon verleng nie – hulle sou met ander partye oor steun moes onderhandel, wat in die Realpolitik beteken die ANC sou toegewings aan opposisiepartye moes maak.

Voorts sal die wetsontwerp, indien dit aanvaar word, ‘n einde maak aan die praktyk dat ministers na willekeur regulasies kan uitvaardig, waarvan die logika en noodsaaklikheid baie mense ontglip.

Regulasies wat kragtens ‘n ramptoestand uitgevaardig word, sal naamlik slegs van krag kan wees as 50% plus een van die lede van die Nasionale Vergadering ten gunste daarvan stem.

In praktyk sal dit ook beteken parlementêre debat en wisselwerking sal so ‘n stemming voorafgaan, en ministers sal hul regulasies in debat moet verduidelik, verwoord en verdedig teen die teenstanders daarvan.

Voorts sal die wetsontwerp, indien dit aanvaar word, inspraak oor die uitvaardiging en regulering van ramptoestande setel in die geografiese gemeenskap waarop dit van toepassing is.

Hoewel die sentrale staat steeds die instel van alle ramptoestande sal moet inisieer, sal die Nasionale Vergadering alle nasionale ramptoestande moet goedkeur voor dit van krag kan word, die tersaaklike provinsiale wetgewer alle provinsiale ramptoestande en die tersaaklike stadsraad alle munisipale ramptoestande.

Dit sou, as die wetsontwerp aanvaar word, ‘n belangrike inperking van die sentralisering van staatsmag beteken.

Nadat die dertig dae vir openbare insette, wat Vrydag afskop, ten einde geloop het, sal die wetsontwerp na die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering verwys word, waar insette verreken sal word en die wetsontwerp meerderheidsteun sal benodig as dit voor die Nasionale Vergadering wil dien vir oorweging.

Ook as die wetsontwerp uiteindelik op die wetboek wil beland om ‘n verskil aan die land te maak, sal dit meerderheidsteun in die Nasionale Vergadering moet trek, wat in die praktyk beteken Groenewald se harde politieke werk begin nou – omdat die VF Plus nie die nodige getalsterkte het nie, sal hy die stemme van ander partye moet werf – spesifiek die ANC sal vir die wetsontwerp moet stem om dit van krag te maak.

Dit is ‘n moeilike taak, maar nie onmoontlik nie – ander opposisiepartye het dit al suksesvol gedoen, en Groenewald het aan Maroela Media gesê dit is ‘n taak waarvoor hy kans sien en waarna hy uitsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico ·

Dankie Dok. Pieter, daar is te veel in die regering wat verkeerd doen.

Dirk Mostert ·

Wat van magsvergrype soos Fikkie se 0% alkohol en ARTOO. Hierdie beoogde wetgewing sal lynreg teenstrydig wees met minister dokter Zwele se beoogde wetgewing om hom ‘n monopolie te gee om vir enige denkbare skeet ‘n grendeling af te kondig.

Gert Johannes ·

Dank die minister van gesondheid en sy trawante af en probleem is opgelos.

Wikus ·

Dankie Dr Groenewald. Kan Maroela Media asb die skakel na die publikasie feel asb .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.