Wetsontwerp = tronkstraf vir ‘seergemaakte gevoelens’

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: pixabay)us

Indien die omstrede wetsontwerp op die voorkoming en bestryding van haatmisdaad en haatspraak eindelik deurgevoer word, sal haatmisdaad en haatspraak strafregtelike oortredings word waarvoor oortreders tot agt jaar tronkstraf opgelê kan word.

Dit beteken ootreders kan by (vae) definisie vir agt jaar toegesluit word bloot vir ʼn ondeurdagte belediging wat hulle iemand in persoon of op sosiale media toesnou.

Die wetsontwerp is Dinsdag deur die Nasionale Vergadering aanvaar en sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir oorweging.

Kenners verduidelik

Die bekende advokaat Mark Oppenheimer sê dit is nie soseer die kriminalisering van haatmisdaad nie, maar eerder die kriminalisering van haatspraak wat kommer wek. Dít omdat haatspraak ingevolge die Gelykheidswet al die jare deur middel van boetes of openbare verskonings strafbaar was. “Dit is darem ʼn groot verskil van tronkstraf,” verduidelik Oppenheimer.

Daar word ook gevrees dat die wetsontwerp ʼn algehele bedreiging vir vryheid van assosiasie én spraak inhou.

“Ons praat hier van tronkstraf oor uitlatings wat teoreties iemand se gevoel kón seermaak. Is dit gepas in ʼn grondwetlike demokrasie wat vryheid van spraak vereis vir sy bestaan en gesondheid? Sekerlik nie,” sê Michael Swain, uitvoerende hoof van Freedom of Religion South Africa (FOR SA).

Vir Swain lê die probleem by die uiters vae definisies wat in die wetsontwerp gebruik word om haatspraak te definieer.

Die wetsontwerp op die voorkoming en bestryding van haatmisdaad en haatspraak definieer haatspraak in eenvoudige terme as ʼn uitdrukking wat skadelik is of skade aanhits, en haat bevorder of propageer teen ʼn groep mense wat spesifiek in die wetsontwerp gelys is. Die groepe sluit in ras, geslag, etniese of sosiale oorsprong, seksuele oriëntasie, godsdiens, geloof, kultuur, taal, gestremdheid, MIV-status, nasionaliteit, geslagsidentiteit, albinisme of beroep.

Skadelik word weer gedefinieer as wesenlike emosionele, sielkundige, fisieke, sosiale of ekonomiese nadeel wat die menswaardigheid van die geteikende individu of groepe ondermyn.

“Die wetsontwerp sluit nie net standaardtipes skade soos sielkundig of fisiek in wat relatief maklik is om objektief te identifiseer en te kwantifiseer nie, maar ook subjektiewe emosionele skade. Dit wil sê seergemaakte gevoelens,” sê Swain.

Die wetsontwerp vereis ook nie ʼn uitdruklike direkte oorsaaklike verband tussen jou uitdrukking en enige werklike skade gely nie. Al wat vereis word, is ʼn redelike persoon wat bewus is van die konteks van die feite en omstandighede rakende die uitdrukking, wat die uitdrukking sien (of lees of hoor) en wat dit verstaan as potensieel skadelik of aanhitsend skadelik.

FOR SA beplan nou om kommentaar in te dien wanneer die wetsontwerp weer vir openbare kommentaar oopgestel word.

Wetsontwerp ‘waarskynlik’ deurgevoer

Oppenheimer is egter nie oortuig dat enigiets die deurvoer van die wetsontwerp kan stuit nie.

“Het jy al ooit gehoor van ʼn geval waar die Nasionale Raad van Provinsies besluit het om nié ʼn wetsontwerp deur te voer nie? Ek het nie,” antwoord Oppenheimer eerlik.

Oppenheimer sê dit is wel moontlik dat daar veranderinge aan die wetsontwerp aangebring kan word voordat dit op Ramaphosa se lessenaar beland. Dit is ook moontlik dat Ramaphosa sal besluit om nié die wetsontwerp te bekragtig nie.

“Dit het al gebeur. Dit is egter onwaarskynlik in aanloop tot die verkiesing,” sê Oppenheimer.

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die wetsontwerp hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.