Wetsontwerp wil ministeriële handboek se (voordeel-) vlerke knip

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Esa Alexander/AFP)

Die kabinet kos Suid-Afrikaanse belastingbetalers sowat R1 miljard per jaar.

“En wat is die opbrengs op dié belegging vir Suid-Afrikaners? Fase 6-beurtkrag, ongebreidelde misdaad, toenemende armoede en dienste wat ineenstort,” sê dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Daarom het die DA nou amptelik sy wysigingswetsontwerp oor die besnoeiing van kabinetsvoordele (bekend as die Cut Cabinet Perks Bill) in die parlement ter tafel gelê. Die wetsontwerp maak voorstelle vir wysigings aan die Wet op die Vergoeding van Openbare Ampsdraers.

“Dit is daarop gemik om die obsene vermorsing van waardevolle staatsgeld, wat tans gebruik word vir die finansiering van 30 ANC-ministers en 34 adjunkministers se rockster-leefstyle, te verminder.”

In inligting wat die DA verkry het deur ʼn reeks parlementêre vrae wat gestel is, het hy vasgestel dat belastingsbetalers jaarliks sowat R1 miljard opdok vir voordele soos BBP-beskerming, steunpersoneel, luukse voertuie, asook gratis krag en water.

“Dit is bykomend tot die onderskeidelik R2,4 miljoen en R2 miljoen wat ministers en hul adjunkte in salarisse verdien,” sê Schreiber.

Die voordele is ook benewens die 97 huise waarin ministers en adjunkte in Pretoria en Kaapstad woon en wat gesamentlik sowat R1 miljard werd is. Dit sluit ook nie die ministers en adjunkte se salarisse in nie (dit voeg nog R144 miljoen by die jaarlikse koste).

“Dit beteken dat die Suid-Afrikaanse kabinet belastingbetalers byna R1 miljard per jaar kos,” sê Schreiber.

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat die hulpbronne gemors word op ʼn kabinet vol “onbevoegdes” en mense wat by staatskaping betrek word, terwyl daar geweldige groot nood in die samelewing is. Dit is eenvoudig nie volhoubaar nie en kan ook nie regverdig word nie.

Die wetsontwerp beoog ook om die geheimhouding om die ministeriële handboek te beëindig. Die DA het verlede jaar onthul dat pres. Cyril Ramaphosa wysigings aan die handboek goedgekeur het om meer personeel vir ministers en hul adjunkte te magtig, en om die beperking op gratis water en elektrisiteit te verwyder.

Dit is ná openbare druk geskrap.

Dr. Leon Schreiber. (Foto: DA)

“Die DA se wetsontwerp gaan ʼn einde aan die geheimhouding maak deur die president te dwing om enige voorgestelde wysigings by die parlement aan te meld en om die Nasionale Vergadering in te lig oor die koste verbonde aan al hierdie voordele.”

Schreiber sê dit lyk ook nie of daar enige wetgewing bestaan oor die voordele wat ingevolge die ministeriële handboek toegeken word nie. Die party win regsadvies hieroor in. Die DA sê die wysigingswetsontwerp sal die handboek onderworpe maak aan volle parlementêre oorsig en goedkeuring.

“Dit sal die president se diktatoriale magte oor die handboek beëindig. Die president se huidige onbelemmerde magte om eensydig meer voordele vir homself en sy kabinet-kamerade toe te wys, is ʼn ooglopende botsing van belange.”

Ingevolge die wysigingswetsontwerp sal Ramaphosa gedwing word om aanbevelings van die onafhanklike vergoedingskommissie te kry, ʼn behoorlike kosteberekening te doen en die breër ekonomiese omgewing in gedagte te hou voor enige nuwe voordele ingestel word. LP’s sal ook kan stem oor wat hulle as gepaste voordele vir die president, sy adjunk, ministers en hulle adjunkte beskou.

Die wysigingswetsontwerp sal ook die president en die parlement dwing om die ganse ministeriële handboek binne ʼn jaar te hersien en maak die handboek onderworpe aan hersiening elke vyf jaar daarna.

Die party het ʼn beroep op mense gedoen om kommentaar oor die wysigingswetsontwerp na [email protected] en [email protected] te stuur.

  • Luister ook hier na ʼn klankgreep van dr. Leon Schreiber:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

domheks ·

Hoe kan julle die kaders so wil beperk? Hulle is mos verhewe bo ons algemene mense! LOL!

Dr Pieter ·

Die begrotingsyfers hierbo vir die kabinet, sluit nie in amptelike behuising in twee stede en kantoorspasie in twee stede en verwante uitgawes nie.
Behalwe vir die minister, het elke personeellid ook ‘n kantoor, telefoon, rekenaar, ens, ens.
Die werklike koste is dus baie meer as R 1 Miljard.

Danie ·

Daar n groter kans dat hulle limiet of krediet kaarte verhoog sal word.

Chris dupreez ·

Asof die anc in die parlement nou daarvoor sal stem.

Johan ·

Die kans dat hierdie wetgewing ooit goedgekeur sal word, is zero.

annie ·

Dit is ‘n ware voorbeeld van hoe Marxisme werk. Ons sosialistiese kommuniste met Mantashe en Gordhan en… wie is nou weer ons besige minister van handel en nywerheid met selfverryking as motto, en die uniebase, wat al vir dekades die rooi vlag met hamer en sekel wapper, en die res nog nie in die tronk nie, stel ‘n mooi voorbeeld aan die 60++ miljoen inwoners van hoe dit gedoen word. Veels geluk! Ons vorder! Een van die dae vlieg hulle ons na die maan om dit ook reg te ruk.

Danie ·

Wil of gaan nog of dalk nooit.Doen dinge vir n slag sonder om te huiwer.

Chris ·

Hierdie vermorsing moet aan elke inwoner bekend gemaak word, sodat hulle wat nou na apartheid kan sien wie is vir hul armoede en werkloosheid verantwoordelik is vir meer as 30 jaar.

Herman L ·

Dit sal wonderlik wees as die DA suksesvol is hiermee. Ek sal egter nie my asem ophou nie. Om ‘n miljard prys te gee is maar ‘n druppel aan die emmer in vergelyking met die miljarde wat deur die grys kanaal vloei en wat nooit teruggekry sal word nie.

LANA is ELANè ·

Dit is belaglik oor hoe politici met al hul voordele die belastingbetaler uitbuit. Almal kry mos ñ salaris hoekom kan hulle nie, nes alle ander gewone mense, al hul voordele uit hul eie belaglike groot salarisse dek nie?? Huis, petrol, karre, krag, skoolgeld vir kinders, medies ens.

Kokerboom ·

Hier kom ‘n dinge. Voordele baie meer belangrik vir kaders as werk of omgee vir jan alleman!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.