Wildtuin se eerste vrouehoofbewaarder rég vir stropers

Cathy Dreyer, die Krugerwildtuin se nuwe hoofwildbewaarder, saam met een van haar geliefde renosters. (Foto: Verskaf)

Cathy Dreyer het altyd geweet sy wil in die buitelug werk, maar sy wou ook prakties ʼn verskil maak. Dít doen sy vandag beslis. Sy is boonop ʼn kenner wanneer dit by die beskerming van renosters kom.

Dreyer is pas aangewys as die Krugerwildtuin se nuwe hoofwildbewaarder – die eerste vrou in dié posisie by die roemryke park.

“Dit is ʼn opwindende tyd om by die Kruger aan te sluit omdat hulle tans besig is met ʼn omkeerplan. Terselfdertyd voel die wêreld steeds die uitwerking van die Covid-19-pandemie en daar is minder finansiering beskikbaar vir ons bewaringspogings.

“Ek dink die grootste uitdaging gaan wees om die balans tussen veiligheid en bewaringsfunksies in die wildtuin te vind, asook die druk wat dit binne die huidige Covid-19-klimaat op die wildbewaarderskorps gaan plaas.

“Die welstand van die bewaarders is van die uiterste belang en om te verseker die mans en vroue wat hul lewe daaraan wy om ons natuur en wildlewe te beskerm kry die steun wat hulle verdien, gaan altyd ʼn uitdaging wees – maar dit is vir my geweldig belangrik.”

Dreyer het eerstehandse ervaring van dié uitdagings.

Sy het grootgeword in Kaapstad en het graag op Tafelberg gaan stap. Haar liefde vir die natuur was vroeg reeds teenwoordig. Dreyer het natuurbewaring gaan studeer en het praktiese ondervinding in alle aspekte van bewaring opgedoen.

“Ek is nog altyd aangespoor deur die behoefte om ʼn noemenswaardige bydrae tot bewaring te lewer. Om vir die wildbewaarderkorps te werk het my daardie geleentheid gegee.”

Voor haar aanstelling as die hoofwildbewaarder in die wildtuin was Dreyer die bewaringsbestuurder by die Addo-Olifantpark (AENP) in die Oos-Kaap, verantwoordelik vir die mariene en landelike bewaringsgebied.

Dreyer het al in verskeie van die land se parke gewerk. (Foto: SANParke)

Sy is ook ʼn voormalige bewaringsbestuurder van die Groot Visrivier-natuurreservaat, die tuiste van een van Suid-Afrika se sleutel- swartrenosterbevolkings.

Dreyer is egter geen vreemdeling vir die Krugerwildtuin nie en was voor haar werk by die AENP betrokke by die beskerming en bewaring van swartrenosters in die sogenaamde Intensiewe Beskermingsone van die park. Sy het gehelp met die inwerkingstelling van lugverkenningsprogramme en het ʼn beduidende rol gespeel in die opstel van bewaringsplanne en patrollietaktieke om swartrenosters in die wildtuin te beskerm.

“Ek is geweldig geesdriftig oor swartrenosters en hulle bewaring – enige dag waarby ʼn swartrenoster betrokke is, is ʼn baie goeie dag,” sê Dreyer.

Nog ʼn besliste pluspunt van haar werk is dat sy al in soveel van die land se verskeie natuurreservate kon woon en dié plekke haar huis kon noem.

Daar is wel ook slegte dae: Wanneer Dreyer omgewingsmisdaad moet hanteer en die wreedheid sien wat mense op wilde diere loslaat – en terselfdertyd ondervind watter uitwerking dit het op die mense wat dit probeer bekamp.

Dreyer bestempel dit as ʼn voorreg om saam met ʼn span uiteenlopende, vaardige, kundige en ervare wildbewaarders te werk en sê dit is iets waaroor sy deurlopend dankbaar is.

Sy doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om betrokke te raak by die bewaringstryd en glo dat eenvoudige dade ʼn groot verskil kan maak. Dinge soos om jou kinders oor die belang van bewaring te leer. “Dae soos Wêreldrenosterdag herinner ons, onder meer, dat een van die belangrikste geskenke aan ons kinders ʼn waardering van ons wildlewe-erfenis is.”

Sy vra mense om aktief te help.

“Sluit aan by die Erewildbewaarders. SANParke se Erewildbewaarders help met ʼn wye verskeidenheid pligte in die hele park, waaronder gereelde patrollies om strikke te verwyder.

“Steun die wildbewaarders wat ongelooflike werk doen om ons natuurerfenis te beskerm. Ons plaas dikwels klem op die wildbewaarders wat betrokke is by misdadigheid en vergeet van die toegewyde en geesdriftige bewaarders wat dag en nag baklei om ons wildlewe te beskerm.

“Besoek ons nasionale parke en erfenisterreine. Jou steun maak dit vir ons moontlik om Suid-Afrika se wildlewe te beskerm en te versorg.”

Dreyer is beskeie oor haar aanwysing as die Krugerwildtuin se eerste vrouehoofwildbewaarder.

“Ek glo enorme vooruitgang is reeds deur vroue op verskeie gebiede gemaak en hoop my aanstelling is ʼn verdere bewys dat ʼn mens nooit enige beperking op jouself moet plaas nie.

“Daar is niks wat nie deur harde werk, toewyding en die regte mense wat jou ondersteun, bereik kan word nie.”

Dreyer begin op 1 Mei in haar nuwe pos. Sy neem die leisels oor by Ken Maggs wat byna vier dekades lank by SANParke betrokke was en nou aftree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JM ·

Ons wens vir Cathy Dreyer net die beste toe in haar nuwe pos, dat sy van krag tot krag sal gaan. Mag daar ‘n dag aanbreek dat ons land se kosbare wild nie meer gestroop sal word nie!

Jaco ·

Voorwaar ‘n wonderwerk,gegewe haar ras en taals haar ras en taal. In dié rassistiese SA is mos 2 of 3 of 4 stelle ander reëls, afhangend van watter minderheidsgroep (wit, kleurling of Indiër) ter sprake is. Moenie my vir my kommentaar kruisig nie. Ek weet van gevalle waar selfs Solidariteit betrokke was in hofsake ter ondersteuning van kleurlinge en Indiërs wat bevordering geweier is omdat hulle ras glo nie die nasionale demografie weerspieël nie.

Regverdigheid ·

Wens jou voorspoed toe en dat jy die mense vang wat ons diere so uitmoor.

Karina ·

Baie geluk Cathy – wens jou alles van die beste toe met jou werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.