Winterinisiasieseisoen skop af in Oos-Kaap

Argieffoto (Foto: Dingeman, Wikimedia Commons)

Die Oos-Kaapse winterinisiasieseisoen skop op 17 Junie af, en ongeveer 40 000 jong mans sal na verwagting vanjaar aan dié gebruiklike inisiasie, of kulturele deurgangsrite, deelneem. Sowat 34 jong mans is in Desember verlede jaar in inisiasieverwante sterftes in die Oos-Kaap dood, terwyl die sterftesyfer oor die afgelope dekade op nagenoeg 700 beraam word.

Die Oos-Kaapse huis van tradisionele leiers het ’n beroep op al die betrokke partye gedoen om veiligheid voorop te stel. Mzwethemba Nkantsu, hoof van die Oos-Kaapse huis van tradisionele leiers, het inisiasieskole, ouers, gesondheidswerkers en nieregeringsorganisasies (NRO’s) gevra om te verseker dat die jong mans se lewe nie in gevaar gestel word nie.

“Dit is ’n baie belangrike en gewyde deurgangsrite vir dié jong mans en hulle verdien om veilig en sonder vrees deur die proses te gaan. Ons wil hê hulle moet gesonde mans wees wat gereed is om verantwoordelike en suksesvolle volwassenes te word,” het Nkantsu gesê.

Volgens hom is daar verskeie redes vir die inisiasiesterftesyfers in die Oos-Kaap. Dit sluit in onwettige skole; reeds bestaande mediese toestande; dehidrasie wat op die mite gegrond is dat as jy nie drink nie, jou besnydeniswond vinniger sal genees; verhoogde dwelm- en alkoholgebruik deur die jong mans én die dokters en verpleegsters by die inisiasieskole; swak en onhigiëniese toestande; en die verspreiding van MIV en virale hepatitis.”

Om hierdie kwessies aan te pak het die Oos-Kaapse huis van tradisionele leiers gesondheidsondersoeke vir die jong mans vanaf 10 Junie ingestel, voordat hulle na die inisiasieskole toe gaan. “Dit stel ons in staat om enige potensiële gesondheidskwessies, insluitend Covid-19, na te speur en te hanteer.”

In die Oos-Kaap word die tradisionele deurgangsrite gereguleer deur die Gebruiklike Manlike Inisiasiewet 2 van 2021. “Inisiasie is meer as bloot die besnydenisprosedure. Inisiasie is ’n klomp komplekse kulturele praktyke wat senior, gerespekteerde mense in die gemeenskap toelaat om waardes en lewenswyses deur middel van sielkundige, sosiale en simboliese interaksies en lesse aan jong mans vanaf die ouderdom van 18 jaar oor te dra.

“Ons werk saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die departement van maatskaplike ontwikkeling en betroubare NRO’s om die veiligheid van die proses te verbeter. Die distriksinisiasieforums besoek inisiasieskole voorts om vas te stel of die wet nagekom word, en daar is mediese personeel wat ondersoeke voor en ná die inisiasie doen.

“Ons het egter die gemeenskap se hulp nodig om onwettige skole en enigiets wat die veiligheid van die jong manne kan bedreig, aan te meld,” het Nkantsu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Elke Etniese Groep/ras het sy eie kultuur en gelowe en so moet daar spasie wees vir elkeen in hierdie land om dit te kan uitleef sonder die ANC se wraaksugtige kultuur.

KatjieDeKat ·

Ek stem saam Maar hierdie spesifieke kultuurprakryk klink pynlik en gevaarlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.