Wiskunde was ‘makliker as verwag’

(Argieffoto: pixabay)

Matrikulante wat die eerste wiskundevraestel Vrydag geskryf het, sê dit was “makliker as wat hulle verwag het”. Dieselfde kan egter nie van die vraestel vir wiskunde geletterdheid gesê word nie en leerders is redelik benoud oor hul uitslae.

Volgens leerders en onderwysers met wie Maroela Media gepraat het, was die wiskundevraestel op standaard en heeltemal billik en doenbaar.

“Nie een van die leerders het gesê die vraestel was onmoontlik nie. So ek dink dit was regtig ʼn goeie vraestel,” sê ʼn onderwyser van Pretoria.

Daniella Maritz, Kara Jansen van Rensburg en Marli Swart, almal leerders van Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria, sê hulle het meer as genoeg tyd gehad om die vraestel te voltooi.

Hulle is wel effens onkant betrap deur vraag 9, wat buitengewoon moeilik was. Die vraag het agt punte getel en gehandel oor differensiasietoepassing.

“Ons was onseker wat van ons in die vraag verwag word,” meen die leerders.

Volgens Nerine Bezuidenhout, ʼn leerder aan die Hoërskool Bredasdorp in die Wes-Kaap, was die vraestel heelwat makliker as die rekordeksamen s’n en sy het verwag dat van die vrae moeiliker sou wees.

Sy hoop om 85% vir die vraestel te behaal. “Omdat vraag 9 so moeilik was, kan ek dalk 80% of selfs minder kry, want dit was regtig ʼn moeilike vraag,” vertel Bezuidenhout.

Sy is mal oor wiskunde en wil na skool BSc met fisika en wiskunde gaan studeer.

Wiskunde geletterdheid

Volgens nog ʼn onderwyser van Pretoria was die vraestel vir wiskunde geletterdheid op ʼn hoër standaard “as waaraan die leerders gewoond is”. ʼn Ander onderwyser sê daar was baie van die langer vrae in dié vraestel wat nie duidelik deurgegee is nie en ook dubbelsinnig voorgekom het.

Die leerders het veral met die finansiële afdeling gesukkel en die ergste kleigetrap met die laaste vraag in die vraestel, wat oor renteberekening gehandel het, sê die onderwysers.

“Ek glo wel nie die leerders sal té erg met die laaste vraag benadeel word nie en sal wel opvolgpunte vir hul pogings kry.”

’n Onderwyser van KwaZulu-Natal meen daar was ook makliker vrae en sê ondanks die moeilike vrae, is sy nie te bekommerd oor die uitslae nie.

“Die kinders is egter benoud,” sê die onderwyser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chantel ·

Ek sê steeds hoekom maak hulle dit ‘n verpligte vak. Dis belaglik, daar is net eenvoudig kinders wat regtig nie aangelê is vir Wiks nie, maak nou nie saak hoe mens daarna kyk nie. NIE ALMAL kan en hoef Wisk te kan doen nie.

Dapper Patriot ·

Die feit dat mens 30% nodig on te slaag maak nie res van die vraestel maklik nie.
Maar ek nooi jou uit om bietjie die vraestelle te gaan skryf, dan kyk ons of dit só maklik is.

JohanR ·

Dink net as die minimale kriteria om ‘n vak deur te kom 75% was. 75% of hoer, of jy dop.

Jaco ·

Ouer lesers wat voor 1994 gematrikuleer het, moet net gaan kyk net na die matriek hersieningsprogramme op DSTV. Dis skokkend hoe maklik alles nou is.
Plus lyfstraf is weg
Plus leerders mag amper onderwysers aanrand
Plus alle leerders het nou “menseregte”
Kortom, skool is nou ‘n fees.

Dapper Patriot ·

Nou gaan skryf bietjie van die vraestelle dan kyk ons hoe gaan dit ;)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.