Wits se oudboekhouer gaan sit oor bedrog

Universiteit van die Witwatersrand (Foto: Wits)

Lebogang John Dikobe (38), ʼn voormalige werknemer van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), is in die Johannesburgse gespesialiseerde handelsmisdaadhof 15 jaar tronkstraf opgelê op 30 aanklagte van bedrog vir ʼn bedrag van meer as R3 miljoen.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Dikobe het tussen 2008 en 2014 as ʼn boekhouer in een van Wits se biblioteke gewerk. Sy pligte het ingesluit die rekonsiliasie van alle biblioteekrekeninge en -projekte, BTW-inskrywings en -eise, en die organisering en skedulering van werk om seker te maak bedrywighede verloop glad by die finansieskantoor van die biblioteek.

“Hy het met sy bedrog begin toe hy ʼn maatskappy genaamd Savinet Information Communication and Technology in 2010 op die universiteit se aanskaffingsdatabasis geregistreer het. Hy het nie verklaar hy is ʼn Wits-werknemer nie. Hy het daarna vervalste fakture begin indien om vergoeding te eis wat Savinet nooit gelewer het nie. Hy het boonop handtekeninge van personeellede vervals wat betalings van verskaffers goedgekeur het,” verduidelik Mjonondwane.

Dikobe het sy bedrog tot 2014 voortgesit toe een van die aanskaffingsbeamptes ondersoek ingestel het oor ʼn faktuur wat aan Savinet betaal is. Sy was verward oor die faktuur, omdat Wits met die diensverskaffer Sabinet werk, nie Savinet nie.

“Die instansie het ʼn ondersoek van stapel gestuur en dit het tot Dikobe se bedanking gelei.”

Senior staatsadvokaat Neville Mogagabe het in die hof aangevoer Dikobe se optrede het ʼn negatiewe impak gehad op die universiteit as ʼn geloofwaardige instansie, asook op die biblioteke en die studente. Hy het bygevoeg Dikobe se oortredings is goed beplan en noukeurig uitgevoer. Dit het die werkgewer van vertroue en lojaliteit ontneem.

Die NVG loof die werk van adv. Mogagabe en die ondersoekbeampte kol. Samuel Komane om seker te maak Dikobe word vervolg en dat hy tronk toe gestuur word nadat hy die instansie se vertroue, wat hulle in hom geplaas het, misbruik het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.