‘Wonderwerk’ sal brandstof weer onder R20 kry

(Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Kenners meen dis seker nie onmoontlik dat die prys van brandstof ooit weer onder R20 per liter sal daal nie, maar sê dis hoogs onwaarskynlik.

Luidens berigte wag nóg ʼn brandstofskok in Oktober op motoriste, nadat petrol en diesel albei hierdie maand naby R25 per liter gaan draai het.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, sê dit is seker moontlik dat die brandstofprys weer tot onder R20 per liter kan daal, sou die internasionale olieprys onveranderd bly en die rand weens een of ander rede tot R17 teenoor die dollar verstewig. Die rand verhandel egter tans R18,90 teenoor die dollar.

“Dit is nie onmoontlik nie. Maar dit is nie baie waarskynlik nie,” erken Roodt.

Sou die rand egter nie verstewig nie, sal die internasionale olieprys van $95 tot $75 per vat moet daal vir die brandstofprys om weer tot onder R20 per liter skiet te gee.

Roodt sê die kanse daarvoor is effens beter.

Layton Beard, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie (AA), wil dit nie waag om ’n voorspelling oor die brandstofprys te maak nie.

“Dit is byna onmoontlik om te bepaal wat met die brandstofprys gaan gebeur weens die wisselvalligheid van die rand-dollar-wisselkoers en die internasionale olieprys.

“Ek kan nie daardie som maak nie, want ons weet nie wat gaan gebeur nie. Die prys van olie kan weer onder $80 per vat daal. Daar kan ook ʼn wonderwerk gebeur en die rand kan teenoor die dollar verstewig. Jy weet nie hoe hierdie ding gaan uitspeel nie.”

Dr. Sandra Adendorff, kenner in internasionale handel en dosent in ekonomie by Akademia, glo die brandstofprys kan weer daal, mits die regering ordentlike ekonomiese beleid daarstel en politieke stabiliteit, wat beleggersvertroue inboesem, bevorder.

Maroela Media het vandeesweek berig dat petrol dalk in Oktober met sowat R1,20 per liter kan styg, terwyl diesel motoriste R2 per liter meer uit die sak kan jaag.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Sou die beduidende stygings realiseer, sal dit brandstofpryse opstoot tot by vlakke wat laas in Julie verlede jaar gesien is.

Die voorspelling kom nadat diesel van 0,05 sulfaat en 0,005 sulfaat hierdie maande onderskeidelik met ʼn astronomiese R2,84 en R2,76 per liter toegeneem het. Albei grade petrol (93 en 95) het ook op 6 September R1,71 per liter duurder geword.

Roodt vermoed nou dat die internasionale olieprys oor die volgende paar maande effens kan daal en dat die rand tot R19 teenoor die dollar kan verstewig, wat ’n effense laer brandstofprys teweeg sal bring.

Roodt voorsien egter op lang termyn swarigheid vir Suid-Afrikaners, met die rand wat oor die volgende ses maande tot na ’n jaar al swakker gaan word.

“Dit is omdat die staat se finansies besig is om in duie te stort,” verduidelik hy. “Dit gaan lei tot hoë vlakke van inflasie wat weer die rand se waarde gaan ondermyn.”

Adendorff meen egter ons rand is verkeerd geprys. “Dit is skokkend hoe onderwaardeer die rand tans is.”

Volgens Adendorff word die brandstofprys ook verkeerd bereken wanneer die heffings en Padongelukkefonds in ag geneem word. “Indien die regering die hele brandstofprys herbereken, kan ons by ’n meer realistiese brandstofprys uitkom.”

Layton wys egter daarop dat dit nie net Suid-Afrikaners is wat les opsê by die brandstofpomp nie.

“Hoë brandstofpryse is nie uniek tot Suid-Afrika nie. Byna almal sit met dieselfde probleem weens die internasionale olieprys. Griekeland betaal byna R45 per liter. Ten spyte van die heffings, is ons brandstof beslis nie die duurste in die wêreld nie.”

Roodt gee ook toe dat Europeërs baie duurder vir brandstof betaal.

“Maar die Europeërs se geldeenheid is meer werd,” verduidelik Roodt. “So wat koopkrag-variëteit betref, betaal hulle minder as ons, want hulle maak meer geld as ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.