Woordmisdade en die rol van taal in regsake

filosofie-denke-boeke-biblioteek

(Foto: Giammarco Boscaro/Unsplash.com)

Forensiese linguistiek, oftewel die studie van taal in ʼn regswetenskaplike domein, is wêreldwyd ʼn relatief nuwe veld binne die toegepaste taalkunde.

Tog is daar reeds talle voorbeelde van regsake wat op grond van forensies-linguistiese ontledings gewen is.

Dr. Annelise de Vries, ʼn kenner op die gebied van forensiese linguistiek, vertel aan Maroela Media dat sy onlangs ʼn deskundige getuie vir Solidariteit was in die aanklag van rassisme teen Anneke Smit.

Smit is in 2019 deur ʼn gr. 11-leerder van rassisme beskuldig nadat sy die woord “polisiemannetjie” in die klas gebruik het. Die leerder het beweer dat Smit haar ʼn “police monkey” genoem het. Met behulp van ʼn forensies-linguistiese ondersoek het De Vries-hulle bewys dat dit ʼn valslike beskuldiging van rassisme was.

Nog ʼn bekende voorbeeld wat De Vries ook in haar doktorale proefskrif aanhaal, is die Unabomber-saak. Dit handel oor ʼn Amerikaanse burger wat tussen 1978 en 1995 ʼn aantal bomme na verskeie persone gestuur het.

“Unabomber” is ʼn samestelling van die woorde “university”, “airline” en “bomber”, omdat slagoffers by universiteite en lugrederye gewerk het.

Die skuldige is later as Ted Kaczynski, ʼn VSA-terroris, anargis en voormalige assistentprofessor in wiskunde, geïdentifiseer.

Bewysstukke in die Unabomber-saak wat deur middel van forensiese linguistiek ontleed is, was bomdreigemente en ʼn anonieme manuskrip wat in Washington Post verskyn het. Genoegsame bewyse wat aandui dat die idiolek in die tekste ooreenstem, het daartoe gelei dat Kaczynski korrek uitgewys is.

In eenvoudige terme verwys forensiese linguistiek dus na die kennis van taal wat gebruik word om ʼn verskeidenheid gesproke en geskrewe tekste vir regsdoeleindes te ontleed.

Geskrewe tekste wat in howe as bewysstukke kan dien, sluit onder meer dokumente soos selfmoordbriewe, bomdreigemente soos in die Unabomber-saak, teksboodskappe en eedverklarings in, terwyl tolkhulpbronne in howe by die gesproke aspekte van taal betrokke is.

Ander maniere waarop linguistiese bewysstukke ondersoek kan word sluit onder meer plagiaat, handelsmerkdispute, produkaanspreeklikheid, misleiding en bedrog, in.

Volgens De Vries is hierdie ondersoekveld nie net verruimend vir die regspraktyk is nie, maar lewer dit ook ʼn noemenswaardige bydrae tot die gemeenskap se behoeftes.

“Vandat ʼn persoon in hegtenis geneem word tot die dag wat hy of sy in die hof verskyn, bevind hulle hulself in die linguistieke webbe van die regstelsel.

“Dit is werklik vir my ʼn hartsaak om hierby betrokke te wees. Mense moet bewus gemaak word van die enorme rol wat taal speel,” sê sy.

Annelise de Vries is onder meer ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia. (Foto: Verskaf)

Afgesien van Jan Publiek wat hierdeur geraak word en regspraktisyns, kriminoloë en wetstoepassers wat daagliks hiermee te doen het, is dié vakgebied ook van waarde vir joernaliste, taalpraktisyns, sielkundiges en gedragsontleders wat tekste moet ontsyfer.

“ʼn Mens moet onthou dit gaan uiteindelik oor taal. Linguistiese kennis van taal is van toepassing op enige teks wat voor jou is,” sê De Vries.

De Vries is ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia. Sy is onlangs verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en sy is een van die Afrikaanse Taalkommissie se taalkundiges vir die termyn 2022 tot 2024.

Akademia et al., ʼn splinternuwe kortkursusplatform onder die vaandel van Akademia, se eerste kortkursus, “Inleiding tot forensiese linguistiek”, is ʼn ses week lange aanlyn kursus wat op 1 November afskop. Die kursus kos R7 500 en inskrywings sluit op 27 Oktober. Besoek Akademia et al. se webwerf om vir dié kursus te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie ·

Nou vra ek julle waarom is die foresiese middel nie teen malema ingspan nie.En dalk in die daarop volgende sake as dit so suksesvol is.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.