Worcester-juwelier tydens roof vermoor

Charl Munnik (Foto: Facebook)

Inwoners van Worcester is geruk deur die moord op die eienaar van een van die bekendste juwelierswinkels op die dorp, Munnik Juweliers. Charl Munnik (44) is Vrydagoggend tydens ’n rooftog in sy winkel doodgeskiet.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, sê volgens berigte het vier gewapende mans die juwelierswinkel in Hoogstraat in Worcester Vrydag omstreeks 09:30 betree. Hulle het ’n personeellid in die winkel met vuurwapens gedreig.

Munnik, wat ook ’n bekende sakeman op die dorp was, is tydens die rooftog noodlottig gewond.

“Die verdagtes het van die toneel af gevlug met ’n onbekende bedrag geld,” sê Rwexana.

’n Saak van moord en sakeroof word ondersoek en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die polisie is tans op die toneel om dit te fynkam en  bewysstukke in te samel.

Die BFW – Breede Valley-plaaswag, brandweer- en reddingsdienste het op hul Facebookblad gesê dat die polisie die publiek vra om op die uitkyk te wees vir ’n blou Honda Civic met ’n registrasienommer CW 77835. Die verdagtes het glo in dié voertuig gevlug.

Volgens Munnik Juweliers se webblad is dit ’n familiebesigheid wat in 1974 deur Charl se pa, Kallie Munnik, begin is. Sy vrou en Charl se ma, Esmé, het gou by hom aangesluit en saam die onderneming opgebou.

Charl het van jongs af tyd in die winkel en werkswinkel deurgebring, en só onbewustelik ’n liefde vir fyn juwele en ontwerp ontwikkel wat later ’n passie van hom geword het. Hy het in 1995 by sy ouers in die winkel aangesluit.

Luidens boodskappe wat die inwoners van Worcester op sosiale media geskryf het, voel inwoners dat hulle ’n groot sakeman en vriend verloor het. Medelye vir Munnik het op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kirst ·

Volgens BFW wou hulle sy ma beroof en het hy met ‘n vuurwapen haar te hulp gesnel toe hy in die agterkop noodlottig gewond is. Hulle het ook ‘n foto van twee van die verdagtes versprei. Kan MM dit nie ook plaas nie; of sou dit die arme “onskuldig tot anders bewys” mense se regte skend?

Charl het net twee weke gelede ‘n pragtige getuienis gedeel van hoe hy herstel het van Covid nadat sy longe deurtrek was van bloedklonte. Hy het eendag in die hospitaal “gevoel het hier is dit nou” en het sy ma gebel en gevra dat sy en almal vir hom moet bid, hy gaan dit nie maak nie. Hy het toe wonderbaarlik oorleef. En vanoggend neem ‘n lafaard wat geen gewete het nie sy lewe.
Mag die Here hulle vergewe en tot inkering bring, en die familie in hulle diepste seer omvou.

Misky ·

Dit is so hartseer en tragies. Hoop die gemeenskap kry hulle voor die polisie……

Inkpot ·

Ek hoop ook so!! Dis al hoe die moorde gestop gaan word. Die gemors sal twee keer dink voor hulle so roof en moord pleeg as hulle weet hulle gaan boet vir hulle dade.

Tanniepetoors ·

Dis baie hartseer nuus. Só jammer om dit te hoor. Sterkte aan familie en vriende. RIV

Cathaldus ·

Hierdie virus rig meer skade as COVID aan en die staat doen die minste moeite hier

Karina ·

Nog ‘n persoon sterf onnodig. Waarom nie net vat wat hulle wil vat en dan die pad vat nie, waarom altyd die onsinnige moord daarby. Ek dink hulle roof net om sommer ook te moor.

Gert ·

Dit is so onnodig, nog ‘n goeie man vermoor deur bloeddorstige rowers. Bring die doodstraf terug.

Inkpot ·

Dan wil die regering ons nog ontwapen. Hoekom?
Dis sodat die moordenaars en rowers nie doodgeskiet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.