WVF bekommerd oor onvolledige aansoeke

Al hoe meer Suid-Afrikaners het weens die landwye staat van afsondering hulp nodig. (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) is bekommerd dat sommige werkers se eise afgekeur of vertraag kan word omdat die aansoeke nie volledig ingevul is nie.

Die fonds sê duisende werkers wat moontlik kwalifiseer vir die regering se tydelike verligtingsfonds wat in reaksie op die landwye staat van afsondering ingestel is (Covid-19 TERS), gaan moontlik nie ʼn sent kry nie omdat hul werkgewers óf nie aansoek daarvoor doen nie, óf omdat die inligting op aansoeke onvolledig is. Die WVF kan in die gevalle nie tydige betalings doen nie.

Meer as 220 000 werkers – wat gesamentlik geregtig is op meer as R900 miljoen se voordele – se uitbetalings word vertraag. In sommige gevalle moet hul werkgewers bevestig dat hulle wél in diens is, in ander gevalle verskyn hulle glad nie op die WVF se stelsel nie, of die inligting wat verskaf is, is bloot onvoldoende.

“Wanneer ons aansoeke van werkgewers ontvang, verifieer ons dit om te verseker dat die werkers waarvoor hulle eise indien, wél op ons stelsel geregistreer is. Wanneer ons ongerymdhede identifiseer, kontak ons die werkgewer vir bevestiging,” het Teboho Maruping, kommissaris van die WVF, gesê.

Tot dusver het 77 000 werkgewers aansoeke ingedien. Ná verifikasie het die WVF reeds R2,2 miljard vir TERS-voordele uitbetaal en sedert 16 April meer as R800 miljoen vir gewone voordele.

Ondernemings wat teen 15 Maart by die WVF geregistreer was, mag eise indien.

Enigiemand, van ʼn spaza-winkeleienaar tot ʼn haarkapper of ʼn huiswerker wat tot die fonds bygedra het, mag eis. Diegene wat op ʼn kommissiegrondslag werk of vryskutwerkers kwalifiseer nie vir die voordeel nie.

Geld word direk deur werkgewers, bedingingsrade of werkgewerverenigings uitbetaal. Werkers mag hul werkers vra om tydens die afsonderingstydperk tuis te bly, maar moet hulle steeds help om vir die betaling aansoek te doen sodat hulle nie sonder ʼn inkomste sit nie, het Maruping gesê.

Die WVF het gesê hy bly bekommerd oor ondernemings wat weier om namens hul werkers eise in te dien en het diegene bedank wat hul werkers reeds op dié manier gehelp het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jacobus Andre ·

Waar kan mens navraag doen oor jou eis? Die nommers en eposse wat verskaf word werk nie. Geen terugvoering oor ingediende eise word ontvang nie. Eise al in die begin van die lockdown ingedien.

Pieter ·

Die WVF klink vir my soos die Lotto. Jy wen net as jy konneksies het.

Jan ·

Wel dit is n ervaring om aansoek te doen . Weral as jy dit nie self doen nie. Om jouself op die internet te registreer is n nagmerie. Die vrae wat hulle jou vra dateer van toe ek my eerste telefoon no gehad het. Wie sal dit onthou. Dan probeer ek nou al 2 weke om hulle te bel . Waneer jy wel deurkom. Is jy op die wag lys . Een uur later andwoord niemand. Dan is jou beltyd klaar. Op die lys van wie kan ys is so min dat nie ek of my vrou weet of ons kan ys nie. Sy het nog nooit geis nie en is 2 jaar werkloos en ek is al van September af werkloos. Ons het nooit geis nie want ons het plan gemaak. Nou dat ons dit nodig het kry jy niemand in die hande nie . Hulle bel jou nie eens terug nie. So asn almal sterkte en hou maar moet

Marita ·

Wat van werknemers wat net 2 dae werk en 3 dae tuis moet bly. Hul kry net betaling vir die dae wat hul gewerk het en die dae wat hul af is kry hul geen betaling…. Wonder of hulle geregtig is om UIF te eis? Werkgewers kan baie maklik eise indien en dan nie die werkers betaal vir die dae wat hul beveel is om tuis te bly. Watter bewyse het werkers dat werkgewers namens hulle n eis ingedien het???? Glo my korrupsie gaan weer aan orde van die dag wees….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.