Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake net ‘poging om geld te gryp’

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Die DA en ActionSA het die goedkeuring van die wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake verwerp, en onder meer gesê dit is niks minder nie as ’n poging deur die ANC om “geld te gryp”.

Dié wysigingswet, wat maar in Desember ter tafel gelê is, is Dinsdag met 240 stemme teenoor 90 in die Nasionale Vergadering goedgekeur.

Opposisiepartye sê dat dié wysigingswet die sogenaamde finansieringsformule sal verander waarvolgens openbare politieke befondsing versprei word.

Die ANC stel met die wysigingswet voor dat die befondsingsformule van 66% proporsioneel en 33% billik na ʼn 90% – 10 % verander.

Volgens die DA sal dit gans te veel ruimte laat vir korrupsie en diefstal deur korrupte politici.

Adriaan Roos, die DA se woordvoerder oor binnelandse sake, sê artikel 236 van die Grondwet bepaal dat nasionale wetgewing voorsiening moet maak vir die “befondsing van politieke partye wat op ’n billike en proporsionele grondslag aan nasionale en provinsiale wetgewers deelneem”, juis om veelparty-demokrasie te bevorder.

“Klousule 29 van die wetsontwerp doen presies die teenoorgestelde. Dit verhoog die proporsionaliteit van die partyfinansieringstoekenning van 66,6% tot 90% en verlaag die billike toekenning van 33,3% tot 10%,” het Roos gesê.

“Die proporsionele gedeelte word tussen verteenwoordigde partye verdeel volgens hul deel van setels in die betrokke wetgewer terwyl die billike toekenning gelykop tussen alle verteenwoordigde partye verdeel word. Dit sal beteken dat ’n bykomende R50 miljoen in die volgende jaar alleen na die ANC gaan terwyl kleiner partye se inkomste drasties verminder word. Aangesien onafhanklike verteenwoordigers tot een setel beperk is, sal hul toekenning meer as gehalveer word.”

Roos het verder na ’n ANC-voorlegging in 2017 oor die Wet op die Befondsing van Politieke Partye (PPFA) verwys wat lui dat “fondse proporsioneel tussen partye verdeel moet word”, grootliks in ooreenstemming met huidige praktyk.

“Bykomende hulpbronne moet egter aan die kleinste partye toegewys word om politieke diversiteit te ondersteun en te verhoed dat die stelsel bevoordeel word.

“’n Impakbeoordeling van die PPFA moet gedoen word om enige beduidende veranderinge, insluitend befondsingstoekennings, in ’n toekomstige Verkiesingswysigingswetsontwerp te adviseer.”

Roos sê die parlementêre regsdiens het die portefeuljekomitee oor binnelandse sake voorheen gewaarsku dat sou die formule verander, dit onafhanklike verteenwoordigers onregverdig kan benadeel of tot diskriminasie teen kleiner party sal lei.

Daar moet dus ’n rasionele, wettige regeringsdoel agter enige wysigings wees.

“Die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, kon nie die wettige regeringsdoel verduidelik nie.”

ActionSA sê LP’s se gekibbel oor hoeveel van die R1,5 miljard se openbare fondse elkeen moet kry, ’n belediging is vir Suid-Afrikaners wat reg oor die land swaarkry.

Die party sê dié LP’s is heeltemal uit voeling met die werklikheid.

“Die realiteit is dat daardie partye in die Nasionale Vergadering óf in die regering misluk het óf in die opposisie misluk het. Dit is juis hoekom gevestigde partye die afgelope paar verkiesings óf gestagneer óf agteruitgegaan het – omdat Suid-Afrikaners moeg geword het vir hul mislukkings,” het Alan Beasley, ActionSA se woordvoerder oor finansies, gesê.

“Suid-Afrikaners het groot uitdagings verduur terwyl begrotings vir polisiëring, onderwys en gesondheidsorg elke jaar verminder word. Dít terwyl hierdie einste LP’s gestem het om R1,5 miljard se belastingbetalersfinansiering te ontvang.

“Die enigste oplossing vir Suid-Afrikaners is om anders te stem in hierdie verkiesing.”

Die ANC het die goedkeuring van die wysigingswet verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

CHRISTINE ·

Ons het nou al geleer om niks anders van die anc te verwag as om alles te VAT en te vermors nie.

Oosieoos ·

Alweer cANCer taktiek wil met laaste stuiptrekkings nog kyk wat kan hulle inpalm

minnie muis ·

MY bekommernis is dat sa het a forex rekening — SARB .soort van noodgeval tipe rekening wat ek kon verstaan oor radio – artikel oor radio … biljoene sterk .. anc will nou daai rekening ook oop he ……maar niemand praat daar oor nie , was oor radio 2000 22 of 23 feb

Karoo ·

As… “ek” dit nie “vat” nie… wel dan is daar die geleentheid vir “jou” om dit te “vat”.

Papsak ·

Regtig asb net nie weer die anc vir regering nie genoeg is genoeg asb ja bly skelm die anc wil net meer en meer he regtig weg met anc !!!??

Henry ·

die anc, die grootste ramp wat enoige land kan tref. lae klas gemors

skurweberg ·

Hoekom onderskat die ANC altyd die IK van die stemgeregtiges in SA?. Is dit omdat hulle elke keer daarmee wegkom of weet dat hulle die meerderheid stemmers in die land het.

Cassie Carstens ·

Nee, nou het ek alles gesien. Laaste blatante gryp van staatsgeld vir die kaders se sakke. Ons land kan nie ANC lankal nie meer bekostig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.