‘Yoh yoh yoh …’ Dié kannetjie mág maar ʼn Boran bemark

Klein Zak Thuynsma (Foto: Verskaf)

Plaasseun Zak Thuynsma (8) kén ’n Boran.

Hy skroom ook nie om sy pa, Niel Thuynsma, van die Thuynsma Boran-stoet naby Hoopstad se beeste namens hom te bemark nie. Selfs al kos dit hom ook nou om in sy beste kortmou-kakiepakkie in die bittere Vrystaatse koue voor die kamera in te skuif.

“Hallo, oom. Welkom op ons plaas. Vandag gaan ek vir oom báie mooi beeste wys,” trek dié kannetjie dan weg.

Die jonge Zak maak egter seker dat dit nie nét sy pa (en dié se Boran-beeste) is wat voordeel uit dié bemarkingsvideo trek nie.

“Ek hoop oom het ’n mooi dogter by die huis, want ek kan lobola betaal.”

Zak se ma, Mart, het haar donkerkop-plaasseun verlede week ingespan om die bemarkingsvideo vir hul stoet in aanloop tot die nasionale Boran-veiling te bemark. Die veiling vind volgende maand op Parys plaas.

Die video is al sowat 700 keer gekyk en as dít enige aanduiding van die sukses van die veiling is, gaan daar fluks beeste verkoop word.

“Hy is so bietjie van ’n nar. Hy is vreeslik lief vir aandag en perform. Hy is ook vreeslik lief vir terg,” vertel Mart aan Maroela Media.

Klein Zak Thuynsma (Foto: Verskaf)

“Die mannetjie is ook altyd tussen die beeste. Hy is vreeslik lief vir die beeste.”

’n Kordate Zak sinspeel in sy pittige video ook op sommige van bekende afslaer Johan van der Nest se sêgoed in aanloop tot die nasionale veiling.

“Kyk net daardie bulkalf. Soos die wyse man, oom Johan van der Nest, sal sê: ‘Yoh, yoh, yoh’.”

“Zak is vreeslik erg oor Johan van der Nest,” vertel Mart. “Hy wil nes oom Johan ook eendag beeste verkoop.”

Volgens Mart het Zak verlede week daarop aangedring om sy kortmou-Boerboel-kakie-uitrusting vir die verfilming van die video aan te trek. Boerboel Wear is ’n gewilde Suid-Afrikaanse handelsmerk wat bekend is vir sy twee-skakering-hemde en lekker styfpassende broeke.

“Die seuntjies gaan deur ’n vreeslike Boerboel-fase hier by ons op die platteland,” verduidelik sy. “Hy sal permanent daardie pakkie aantrek as hy ’n keuse gehad het.

“Ek sê toe vir hom: ‘Boeta, ons gaan hierdie video maak en dis koud. Moet mamma nie vir jou ’n oorpak of ’n ding aantrek nie?’ Toe sê hy ‘dit maak nie saak nie, mamma. Ek trek my boerklere aan’.”

Mart vertel dat Zak self aan sommige van die pittige sêgoed in die video gedink het en sy moes allermins vir hom voorsê wat om in die video kwyt te raak.

“Hy het my baie vermaak. Ek het my pap gelag … daardie lobola. Dit was vir my moeilik om nie te ruk en pluk aan die kamera soos ek gelag het nie.”

Die Engels-pratery suig nog maar bietjie aan die agterspeen en Mart en ’n getroue (en geduldige) plaaswerker moes hand bysit met die Engels en Setswana in die video.

“Sy juffrou sê sy kan sien hy is nie ’n seuntjie wat juis televisie kyk nie,” lag Mart. “En dit is die waarheid. As ek hom soek, is hy buite.”

Die nasionale Boran-veiling vind op 15 Julie plaas en Mart sê dit is ’n gelukskoot dat die veiling in die skoolvakansie plaasvind. “Daar is net geen manier dat ek my seuntjie hier kan los nie. Hy sal dit glad nie oorleef nie. Hy is sy pa se skaduwee.

“Dit is altyd oorlog as dit skooltyd is en hy moet ’n veiling misloop.”

Mart lag dan.

“Hy vertel altyd op die dag van ’n veiling vir al wat ’n oom is dat hulle na ons beeste moet kom kyk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Martie Smartie ·

Hy het baie moontlikhede vir n loopbaan: beesboer, akteur, model, afslaer

SjN ·

Knap gedaan, oom Johan het kompetisie en n moontlike opvolger in die afslaersbedryf.

Jeanette ·

Pragtige diere boeta, en jy is te oulik wens ek kon jou voorstel aan my klein dogter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.