Yslike toename in ontvoerings – verslag

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die ooraanbod van nuus oor ontvoerings die afgelope tyd is nie bloot ʼn toename in mediadekking en bewustheid oor dié onderwerp nie.

Misdaadstatistieke wat Vrydag deur die minister van polisie bekendgemaak is, wys ʼn toename van nagenoeg 25% in die voorkoms van ontvoerings tussen Julie en September vanjaar.

Amper 2 000 ontvoerings is in dié tyd by polisiestasies landswyd aangeteken, ʼn toename van 445 teenoor dieselfde tyd verlede jaar. Die meeste van die voorvalle is in Gauteng (325) aangemeld. Dié provinsie het ʼn toename van 69% in ontvoerings gesien.

Ontvoeringsklagtes het met 34% in Mpumalanga toegeneem en met 28% in KwaZulu-Natal. Dít terwyl die Noord-Kaap en die Vrystaat onderskeidelik 35% en 17% minder ontvoerings aangemeld het.

Cele sê die meeste ontvoerings vind saam met ander misdade soos kapings, mensehandel en verkragting plaas.

Sewe ontvoeringsvoorvalle in die land het met mensehandel verband gehou, terwyl ’n losprys in 52 gevalle van ontvoerings geëis is. Die meerderheid van die voorvalle is in Gauteng (32) aangemeld.

Onlangs het die ontvoering van die vier Moti-broers veral baie mediadekking geniet. Hulle is vroeër vandeesmaand veilig met hul ouers herenig nadat hulle op pad skool toe deur gewapende mans gekaap en vir drie weke aangehou is.

Kort ná hul terugkoms het gerugte die rondte gedoen dat die broers se ouers miljoene rande vir hul vrylating moes betaal.

Niemand is nog in verband met dié saak in hegtenis geneem nie.

Cele het Vrydag gesê kapingsverwante ontvoerings vind meer gereeld plaas omdat iemand dikwels teen hul wil van een plek na ʼn ander geneem word.

“Daar is verskeie misdade wat ook onder die vaandel van ontvoering val, juis omdat mense se vryheid van beweging geskend word.”

Altesaam 270 kapingsverwante ontvoerings is in Gauteng aangemeld, 64 in KwaZulu-Natal en 59 in Mpumalanga. In 59 van die ontvoeringsgevalle in KwaZulu-Natal is die slagoffer ook verkrag.

Mike Bolhuis, privaat speurder, het vroeër vandeesweek genoem dat daar oor die afgelope drie jaar ʼn toename in die vraag na private lyfwagte en eksterne veiligheidsmaatskappye is.

“Wanneer booswigte sien dat dié soort misdade werk, sal daar net nog meer daarvan plaasvind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Perdeby ·

2000 maar jy hoor net van 3 wonder waar kom die ander nulle vandaan, dis hoekom hulle nie die verskil tussen 100 en miljoen weet nie

annie ·

Hoekom nie mense waarsku nie? Welaf burgers word uitsnuffel en hul sake, doen en late bestudeer. Foonnommers gee toegang tot alles. Tegniese kundiges en bankamptenare is dalk ook betrokke. Meer as een persoon werk aan sulke planne. Ons het talle veiligheidsinstansies met vreemde take maar gewone landsburgers wat die brood en botter verskaf het geen verweer nie. Wie is aan wie se kant?

Bertie ·

As ek reg verstaan, was daar 2000 ontvoerings in 3 maande? Dit beteken 22 per dag? As dit korrek is, bevestig dit hoe die ANC toegelaat het dat die land ‘n misdaadparadys geword het. Ek wonder of hulle dit doelbewus toegelaat het en of dit net onbevoegdheid kan wees? Hulle moet mos ten minste diegene wat vir hulle stem, ondersteun en beskerm?

Di ·

Hulle is nie daar om ‘n diens te lewer vir landburgers nie, hulle is net in daardie posisies om hulle self te verryk en die land in die afgrond in te bestuur.

Di ·

KRIMINELE regeer mos die land – danksy die regering wat almal nooi om hier te kom plak het ons land ‘n hool nes geword. Miljoene onwettige immigrante wat die land insypel het aandeel in die kriminele dade wat gepleeg word, van moord, verkragtig, dwelm smokkel, roof en transito rowery. EFF nooi mos almal om hier te kom plak! Malema moet eerder terug gaan Zimbabwe toe waar hy hoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.