Zuma ís verkiesbaar, hou regspan vol

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Ihsaan Haffejee/AFP)

Enigiemand het die reg om as openbare verteenwoordiger te staan, of hy of sy nou gewild is of nie.

Só het die kieshof, wat in die hooggeregshof in Johannesburg sit, Maandag gehoor tydens die uMkhonto weSizwe (MK)-party se appèlaansoek teen die beslissing van die Verkiesingskommissie (OVK) wat oudpres. Jacob Zuma verhoed om ʼn LP te word.

Maroela Media het vroeër berig die OVK het verlede week beslis dat Zuma, wat nou lid is van die MK-party, nie as ʼn kandidaat aan vanjaar se verkiesings mag deelneem nie omdat hy ʼn bepaalde misdaadrekord het.

Zuma is in 2021 op ʼn klag van minagting van die hof skuldig bevind en tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis. Die voormalige president se regspan, onder leiding van adv. Dali Mpofu SC, het egter volgehou dat Zuma se vonnis hom nie diskwalifiseer nie.

Mpofu het verder aangevoer Zuma en die MK-party se grondwetlike regte word vertrap, én dat “miljoene mense” die reg ontneem word om te stem vir wie hulle wil. Zuma was Maandag self in die hof gewees.

“Ons kan nie kiesers dié reg ontneem nie, daar sal geen demokrasie wees as mense nie kan stem vir die party van hul keuse nie,” het Mpofu betoog.

Hy het hom beroep op bepalings in die Grondwet hieroor.

“Ingevolge art. 19 het enigiemand die reg om as openbare verteenwoordiger te staan, of ons nou van hulle hou of nie. As hulle verkies word, mag hulle ʼn openbare amp beklee.”

Mpofu het voorts betoog die OVK oorskry sy magte en dat die kommissie nie by magte was om Zuma uit te sluit nie.

In dié verband het Mpofu gesteun op art. 47 van die Grondwet wat bepaal dat enigiemand wat mag stem, ʼn lid van die parlement mag word as hulle verkies word. Volgens Mpofu het die OVK slegs die reg om verkiesings te bestuur om te verseker dit is vry en regverdig en die uitslag daarvan bekend te maak.

Een van die vyf regters wat die saak aangehoor het, regter Dumisani Zondi wou by Mpofu weet wat van dié artikel se bepaling dat diegene, wat in die voorafgaande vyf jaar tot tronkstraf van langer as 12 maande gevonnis is, nie verkiesbaar vir ʼn openbare amp gestel mag word nie.

Volgens Mpofu mag die parlement en die Nasionale Raad van Provinsies hieroor besluit en nie die OVK nie. Hy het die hof ook daarop gewys dat Zuma nooit skuldig bevind is nie omdat die Konstitusionele Hof hom destyds nie aangekla het nie en hy nooit gepleit het nie.

“Sy [Zuma] verhoor het nie voldoen aan die beginsel van art. 35 [van die Grondwet] wat almal die reg op ʼn regverdige verhoor gee nie. Daar was geen hofsaak nie, geen pleitverduideliking nie … en daarom argumenteer ons dat sy vonnis nie onder die bepalings van art. 47 val nie en uiteindelik dat die OVK nie daarvolgens ʼn beslissing kan maak oor sy [Zuma se] vonnis nie.”

Adv. Tembeka Ngcukaitobi SC, vir die OVK, het op sy beurt aangevoer die kommissie het wél binne sy magte opgetree.

“Elke  aansoek van ʼn kandidaat moet vergesel wees van ʼn verklaring van die party dat hy of sy aan die vereistes voldoen om ʼn kandidaat te wees. Dit is dus duidelik dat volgens die relevante wetgewing die OVK mag besluit oor ʼn beswaar,” het Ngcukaitobi betoog.

Hy het bygevoeg: “Mense wat bankrot verklaar is, geestesgesondheidsprobleme het of wat die afgelope vyf jaar tot meer as 12 maande se gevangenisstraf gevonnis is, kan nie in ʼn verkiesing staan nie.”

Oor Zuma se vonnis het Ngcukaitobi betoog dat die klag van minagting van die hof ʼn misdaad is.

“Selfs in Zuma se minagtingsaak is minagtig van die hof beskryf as ʼn misdaad en oortreding. Mense word slegs vir ʼn misdaad gevonnis. Die verdediging se besware oor die vonnis is dus nie geldig nie.” het Ngcukaitobi gesê.

Hy het verder aan die hof uitgewys dat Zuma nie die reg op appèl gegee is hieroor nie.

“Dit sal dus ongrondwetlik wees van die OVK om te verskil van die hof se beslissing.”

Hy het ook aangevoer dat Mpofu se argument – dat Zuma se oorspronklike vonnis later verminder is – nie geldig is nie. Die vermindering het geen uitwerking nie; die oorspronklike vonnis was meer as 12 maande. “Dit is so eenvoudig soos dit. Daar kan nie nou ʼn uitsondering vir Zuma gemaak word nie.”

Zuma kan wel oor vyf jaar verkiesbaar wees, maar volgens Ngcukaitobi het daar nog nie vyf jaar verstryk sedert Zuma sy verminderde vonnis uitgedien nie.

“Dit is dus verkeerd van Zuma se regspan om te sê die OVK oorskry sy magte.

“Dit is die wet wat hom van die verkiesing uitsluit. Ons het hier te make met ʼn veroordeelde misdadiger,” sê Ngcukaitobi.

Mpofu het nie hiermee saamgestem nie en meen Zuma se vonnis is uitgedien toe hy op 11 Augustus 2023 vrygelaat is. “As Jesus Christus jou vergewe moet jy dan tot oordeelsdag wag voordat jou sondes verdwyn?” het hy aan die hof gesê.

Die hof sal Dinsdag uitspraak lewer en later redes verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

koos10 ·

Dali Mpofu, jy redeneer soos ‘n passer. Hoe langer jy praat, hoe meer klink jy onbevoeg. Jy is ‘n regsgeleerde. Haal jou emosies en persoonlike gevoelens uit jou regsargumente, en luister dan na jouself. Dan sal jy saam met my moet stem.

Delia ·

Phofu, los maar vir Jesus uit jou argument. Dis mos nou belaglik

DEON ·

Die gemors is ñ krimineel, so ñ moordenaar in die tronk kan ook vir president staan. Hy hoort in die tronk met ñ sel deur wat se sleutel weggegooi moet word vir al sy kriminele aktiwiteite.

annie ·

Zuma glo of hoop duidelik dat hy geen erge fout begaan het as president nie; dat hy geen misdaad gepleeg het of die wet oortree het nie… Óf hy is ‘n opperste skelm en dit beteken dat hy as parlementslid heel moontlik weer misdrywe sal pleeg. Sou hy kon voortgaan en weer staan in die verkiesing kan enige ander persoon wat ‘n misdaad begaan het en skuldig bevind is, ook in die parlement dien, wat beteken dat die wetboeke gewysig sal moet word. Die Gupta’s sal seker dan ook mag terugkeer en die land verder uitsuig. Sou Zuma verhoed word sal daar sekerlik die een of ander gruwel voordoen voor of tydens die verkiesing.

Ore ·

Skielik is Zuma fiks en gesond. Moet dalk sy naam verander na Lazarus Zuma. Dikvellig verby en glo my , hy gaan die hofsaak wen.

Michael ·

Hoop Zuma wen die saak, hy is onwettig gevonnis deur die KonHof.

Kokerboom ·

Ek stem saam Koos. Kwaliteit regsgeleerde?! Kyk maar net wie is sy kliente!
Rerig Michael? 1 April is verby!
Hoe het ons tot die vlak gedaal?!!!!!

Anel ·

Regtig? Hy kon nie tronk toe gaan nie want hy was op die randjie van die dood!!! Wil mense nog so ‘n misdadiger as president hê? Die affêre hoort in die tronk en die sleutel moet weggegooi word. Die gemors waarin die land is is sy skuld!!! En wie drae al hierdie regskostes???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.