Zuma teken appèl aan teen OVK-besluit

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Oudpres. Jacob Zuma het Dinsdag appèl aangeteken teen die OVK se besluit wat hom verhoed om aan die verkiesing deel te neem.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het verlede week beslis dat die 81-jarige politikus, wat nou deel is van die MK-party, nie as ʼn kandidaat aan die verkiesing mag deelneem nie, as gevolg van ʼn skuldigbevinding in 2021 op aanklag van minagting van die hof.

Prokureurs vir Zuma en die party voer egter in die hofdokumente aan, wat AFP onder oë gehad het, dat die vonnis hom nie diskwalifiseer nie.

“Die OVK het geen geldige rede om die politieke regte van pres. Zuma te skend nie,” lui die dokumente. “[Zuma] was nie ʼn beskuldigde nie. Hy is nie aangekla van ʼn oortreding deur ʼn strafhof nie. Hy was nie betrokke by enige strafregtelike verrigtinge nie.”

Zuma is in Junie 2021 vyftien maande tronkstraf opgelê ná hy geweier het om te getuig voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Die OVK het gesê volgens die Grondwet mag “enigiemand wat skuldig bevind is aan ʼn oortreding en meer as 12 maande tronkstraf opgelê is sonder die opsie van ʼn boete” nie aan ʼn verkiesing deelneem nie.

Die verkiesing is vir 29 Mei 2024 geskeduleer. Dit sal na verwagting die mees mededingende verkiesing wees sedert die 1994-verkiesing.

Zuma was die uMkhonto we Siswe (MK)-party se nommereenkandidaat voor die OVK se beslissing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jasmyn ·

As hy nie stemreg het kry ANC nog meer stemme by… So die arme siel en sy party moet eerder maar gaan stem.

Ore ·

Kan iemand my dalk help met die dokter/s se besonderhede wat Shaik en Zuma van ‘n gewisse dood gered het? Hy , Zuma is dodelik siek as dit by hofsake kom maar springlewendig as hy verkiesingsveldtogte lei. En die beste van alles is is dat hy elke keer sy sin kry. Wanneer gaan die meneer ophou?

Michael ·

Hy is gevonnis deur ‘n hof wat nie mag het om vonnisse te gee nie. Hy moet deelneem, ek hoop sy prokureurs gebruik die feit dat die Konhof onwettig opgetree het

Kokkies ·

Hy is veronderstel om in die tronk te wees. Hy moet geen regte hê nie, wat nog te staan vir ‘n party.

Koen ·

Net soos Trump weer vir die VSA gaan lei, gaan Zuma weer SA lei. Miskien verdien ons dit.

Cassie Carstens ·

Hierdie man is soos ‘n kat met 9 lewens. Hy was so siek in die tronk met ‘n lewensbedreigende siekte, en nou dans hy alweer met sy masjiengeweer. Nee Koen, hy sal beslis nie weer aan die bewind kom soos wat jy se nie. Ek dink hy gaan weer anargie skep. Wat ‘n totale politieke gemors en vermorsing van belastingbetalers geld.

koos10 ·

Ek is ‘n persoon wat van die ware feit hou.
1. Hy is gevonnis deur ‘n gewone hof vir die verontagsaming van ‘n hof bevel, wat hom beveel het om voor die Zondo kommisie te verskyn. Hy het vir sy vonnis aangemeld en is daarna op mediese parool vrygelaat.
2. Sy mediese parool is deur die hooggeregs hof omgekeer en hy moes terug tronk toe. Ramaphosa het toe hom en sowat 10000 ander gevangenisse vrygelaat met sy presidentiele magte.
3. So, hy is nie op mediese parool uit nie, en is die die president van die land vrygelaat. Sy vonnis het ook intussen verstryk. So, wetlik is daar geen rede waarom hy nou in die tronk moet wees nie.
4. Hy mag egter nie in die parlement/regering dien nie, want die grondwet van ons land bepaal dat: geen persoon wat ‘n vonnis van langer as 12 maande sonder die opsie van ‘n boete mag dien nie.
5. Vir hom om in die regering/parlement te dien, moet die grondwet van die land verander, en om dit reg te kry moet daat ‘n twee derde meerderheid stemme in die parlement wees daarvoor. Die proses kan maande en selfs jare duur, voordat dit by stem uitkom.
6. Die verkiesing kan nie uitgestel word nie, behalwe in baie baie uitsonderlike gevalle (Noodtoestand soos tydens COVID), wat dan beteken dat ‘n tydelike regering saamgestel moet word, aangesien die huidige regering op 29Mei 2024 tot ‘n einde kom.

Hy appeleer, want dit is al wat hy nog sy hele lewe lank doen, en sy ondersteuners dreig met geweld, want dit het gewerk toe hy die eerste keer tronk toe is.

domheks ·

Ek dink teen die tyd dat die apelhofsaak afgehandel is, is daar al 6 voet onder die grond vir hom plek gemaak.

Nico ·

Die howe is besig om die belasting betaler se geld te mors, doen wat reg is, handel die sake af die hof sittings af, doen wat reg is.

Di ·

Hie howe moet ophou om hierdie nar te “entertain”. Gee aandag aan die duisende kriminele sake wat jare sloer om aangehoor te word. Die ou man moet op pensioen gaan, hy is hopeloos te OUD om enige pos te beklee nog minder ‘n land regeer!

koos10 ·

Di, jy is 100% reg, maar ongelukkig is die hof stelsel van so ‘n aard dat appelering toegelaat moet word.

Ek sou wel wou sien dat met elke appelaansoek ‘n sekere bedrag as sekuriteit inbetaal moet word, en as jou appel slaag, kry jy jou geld terug, indien nie en daar is ‘n koste bevel, dan is die geld klaar betaal.

Zuma se regspan is baie slim, want hulle verseker hom van sy oorwinning, en so ook vir hulle aaneenlopende werk. Volgende sal hulle seker appeleer teen kostebevele, en dan op die heel einde sal hulle hom bankrot laat verklaar, want hy het mos nie vaste eiendomme op sy naam nie. Nkandla is stam grond en sy huis in JHB was mos met ‘n VSB lening gekoop, en al weer klaar verkoop ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.