Zuma kap na ‘korrupte’ Ramaphosa

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

“Julle president het hoogverraad gepleeg en julle almal bly stil … Julle president is korrup.”

Só het oudpres. Jacob Zuma Saterdagmiddag aan Suid-Afrikaners gesê by sy eerste mediakonferensie sedert hy uit die tronk vrygelaat is. Die Jacob Zuma-stigting het na die mediakonferensie as “Zuma se toespraak aan die nasie” verwys.

Zuma het van die geleentheid gebruik gemaak om na sy opvolger, pres. Cyril Ramaphosa, en die sogenaamde Phala Phala-skandaal te kap.

“Geen president behoort privaat sake te doen terwyl hy in sy amp is nie. Dit strook nie met die ampseed wat deur [die] president afgelê is nie … Ons land se probleme is te groot vir ’n president wat besig is om agterlangs sake te doen.”

Zuma sê die media is doodstil oor die Phala Phala-skandaal, terwyl verslaggewers destyds baie te sê gehad het oor die “standaard”-sekerheidsopknappings aan sy privaat woning in Nkandla in KwaZulu-Natal.

“Ek wonder gereeld wat die situasie sou wees as ék die een moes wees wat daarvan beskuldig word dat ek miljoene dollars onder my matras weggesteek het.”

Zuma het voorts gesê Ramaphosa het adv. Busisiwe Mkhwebane – ’n aanstelling van Zuma – as Openbare Beskermer (OB) geskors om die Phala Phala-skandaal toe te vee.

“Julle president is korrup.”

Zuma het ook daarop gesinspeel dat Suid-Afrika agteruitgegaan het toe Ramaphosa tot president verkies is. “Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is weg. Ekskom is ’n gemors.”

Volgens Zuma was beurtkrag boonop iets van die verlede toe hy president was.

“Beurtkrag het onmiddellik begin nadat sekere ooreenkomste met onafhanklike kragprodusente gesluit is. Waarom slaag die huidige leierskap nie daarin om die kwessies van Eskom te hanteer nie?”

‘Ek vrees nie die tronk’

Zuma is steeds oortuig daarvan dat hy verlede jaar sonder ’n verhoor in die tronk gegooi is vir minagting van die hof weens sy versuim om voor die Zondo-kommissie na staatskaping te getuig. Hy glo egter hy het bloot sy regte verdedig toe hy nie voor die kommissie verskyn het nie.

“Lyk my regte geld vir almal, maar nie vir Jacob Zuma nie,” het die oudpresident sarkasties gesê.

“Ek vrees nié die tronk nie. Ek sal nooit enige inhegtenisneming vrees nie. Dit bly wel ’n skok dat ’n demokratiese staat sy eie burger sonder ’n verhoor in hegtenis geneem en in die tronk gehou het.”

“Die feit is dat die hoogste hof in die land die wet oortree het.

“Ons moet seker maak dat regters nie tot politici gereduseer word nie. Indien ons nie opstaan en lede van die regbank aanspreeklik hou nie, sal ons ’n geregtelike diktatuur in hierdie land skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Sê die pot vir die deksel dat hy korrup is. Hierdie ou bitterbek moet liewers gaan beeste oppas

Sandra ·

O liewe land! Kyk wie praat! Absoluut lagwekkend. Wat ‘n sirkus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.