Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het vandeesweek gesê pres. Jacob Zuma het tot 30 November tyd om sy saak te stel oor hoekom aanklagte van korrupsie teen hom laat vaar moet word.
Menzi Simelane, die nasionale direkteur van openbare vervolging, het in ʼn verklaring gesê enige verdere vertoë deur Zuma moet nié verband hou met kwessies wat reeds voorheen oorweeg is nie. Dit beteken Zuma se vertoë kan slegs kwessies van ná 2009 opper.
Pres. Zuma en die NVG het die appèlhof vroeër genader nadat die hooggeregshof in Pretoria verlede jaar beslis het dat die besluit om Zuma nié te vervolg nie irrasioneel was en dat die 783 strafregtelike aanklagte teen die president weer ingestel moet word. Die appèlhof het Zuma en die NVG se aansoeke om verlof tot appèl op 13 Oktober met koste van die hand gewys.
Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, het in 2009 besluit om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg op aanklagte van korrupsie, rampokkery, geldwassery en bedrog nie. Zuma was ten tyde hiervan in ʼn magstryd met die voormalige president, Thabo Mbeki, gewikkel.
Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was glo van mening dat McCarthy die proses vir verskuilde doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma president word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
DIS ook hoekom Zuma die Skerpioene tot niet gemaak het nadat hy aan bewind gekom het!! Hulle moet ook Mpshe vervolg omdat hy sy plig teenoor ons land en die konstitusie TOTAAL GEFAAL het!! Hoe kan jy 783 strafregtelike aanklagte NET SO van die tafel afvee?
Laaste sin in tweede paragaaf – is waarskynlik bedoel om ‘slegs’ in plaas van ‘selfs’ te wees.
En is dit iets om oor verras te wees. Nee nie in die volgende 5 jaar gaan zuma die binnekant van ‘m hof sien op al die hpnderde aanklagtes teen hom. Hy sal vry wees tot hy omval
So gebeur daar eintlik niks al vir jare behawe vernietiging van alles om ons agv die man se dom besluite en die anc se geplunder …al om en om hofsaak na hofsaak …niks gebeur !
Ek verstaan nie as ek n misdaad sou pleeg of dit bedrog of korupsie of wat ookal is gaan die polisie my arresteer en die vervolgingsgesag gaan my vervolg waar kom die opsie vandaan om redes te verskaf hoekom ek nie vervolg moet word nie???