Zuma-onluste: Dodetal styg

Soldate gedurende die onluste in Gauteng. (Foto: GCIS)

Onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het reeds 117 lewens geëis. Dit is ʼn skerp toename oor die dodetal van 72 wat Woensdag bevestig is.

Khumbudzo Ntshaveni, waarnemende minister in die presidensie, het tydens ʼn perskonferensie gesê die situasie in Gauteng is nou “redelik kalm”. Slegs ses voorvalle is oornag aangemeld, danksy bykomende ontplooiing van die SANW, die SAPD en metropolisie in gebiede wat as moontlike brandpunte geïdentifiseer is. Altesaam 10 000 lede van die SANW is tans op die grond ontplooi.

Nog 139 persone is in Gauteng in hegtenis geneem wat die getal inhegtenisnemings op 725 te staan bring. Altesaam 26 sterftes is in Gauteng weens die geweld aangemeld, maar ses liggame is op die dak van Tembisa-winkelsentrum gevind. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen. “Hierdie sterftes hou nie verband met die voorvalle van geweld nie,” het Ntshaveni gesê.

Omstandighede in KwaZulu-Natal, die brandpunt van die onluste, bly egter steeds onstabiel, alhoewel dit wil voorkom of vordering gemaak word tot stabiliteit. Altesaam 39 voorvalle is oornag en vandag aangemeld en ʼn bykomende 392 mense is in hegtenis geneem. Dit bring die getal inhegtenisnemings in KwaZulu-Natal op 1 478 te staan. Altesaam 91 sterftes word direk met die geweld in KwaZulu-Natal verbind.

Sy sê die regering is steeds besorg oor lede van die gemeenskap wat self wapens opneem in reaksie teen die geweld en onluste en reg in eie hande wil neem. Sy maan die gemeenskap om met wetstoepassers en gemeenskapspolisiëringsforums saam te werk.

“Die regering is besorg oor die ekonomiese impak van die geweld, plundery en verwoesting van infrastruktuur. Hoofpaaie is die afgelope paar dae versper en kommer word uitgespreek oor die impak op die verskaffingsketting en vervoer van goedere van die hawens in Durban en Richardsbaai na verskeie bestemmings. Lede van die SANW is ontplooi en beamptes van die SAPD sal vragmotors vergesel.” Die gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) werk daaraan om die N2 en N3 so vinnig as moontlik weer oop te maak.

Sy bedank gemeenskappe wat reeds met skoonmaakoperasies begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eugene ·

Ek sal my wapen gebruik om myself en my familie en andere te beskerm

Anel ·

Net ‘n 1500? Dan het my oë my bedrieg, want ek het duisende gesien!!!

Vonkprop ·

Ses liggame op die dak wat nie verband hou met die onluste nie? Lyk my ‘n reeksmoordenaar is ook nog besig.

Blomme ·

Goeie een Vonkprop.. Bring darem bietjie humor ook in.. Ons is klaar so depressief oor al die dinge.. Ekt lekker gelag vir jou kommentaar.

Persheks Adri ·

Die regering is besorg, maar sorteer nie die situasie uit nie! Teen die tyd dat alles afgebrand is gaan hulle wakker skrik. Ons beskerm soos ons moet punt. Klomp patete pffft

FBS ·

Kan net met kokerboom saamstem die regering is definitief nie in SA nie.

Wayne ·

Die regering is besorg oor diegene wat self wapens opneem in reaksie teen geweld. Wat moet ons doen, toelaat dat ons vermoor, verkrag en geroof word? Dit is die regering se pligsversuim om sy burgers te beskerm en die ondersteuners van die haar party se geweld waaroor sy haar moet bekommer. Was dit nie daarvoor nie, het geen burger aan ‘n wapen geraak behalwe om ‘n bokkie te loop skiet nie! Haar opmerking bewys des te meer dat die regering geen erg het aan onskuldiges se lot nie en dat die regering se poging om burgers te ontwapen en sy versuim om burgers te beskerm dalk nie toevallig is nie. Dit is immers die regering se ondersteuners, en dus hulleself, wat alle die moeilikheid veroorsaak.

annie ·

40 000 mense wat van hul werke wegbly om die rommel te kom opruim. Alles wat oorgebly het, mmm? En toe staan net ‘n paar pap swartsakke hier en daar. Die ruimtetuig wat laasnag onder die sekelmaan oor die stad gedraal het, het seker die res kom oplaai uit simpatie met almal wat pyn ervaar.

Baardman ·

As die regering se magte nie kan beskerm nie, beskerm die gemeenskap hulleself, ek sal ook.

Kobus ·

Uit my weermag opleiding baie jare gelede sou ek se die N3 behoort as ‘n Nasionale sleutelpunt verklaar te word en dus dienooreenkomstig beskerm te word.Ons “leiers” hou vergaderings waar die een meer onbeholpe as die ander is. Hulle het almal klomp redes / verskonongs / teoriee oor wat aangaan maar tipies geen oplossing nie. Cele trek nou al by 3e magte , wat ‘n grap. Is daar ‘n wet wat gebruik kan word om Zuma van hoogverraad aan te kla en ook CR en sy kabinet van minagting van die eed wat hulle tydings inhuldiging af gele het? CR klou aan sy populisme binne die ANC , net soos Zuma stel hy dus sy party eerste en nie land nie.

Jack ·

Hoekom word die konvooistelsel nie gebruik om goedere by kzn te kry nie. Dieselfde soos wat destyds in zimbabwe gedoen is om die terroriste af te weer. Kom afriforum reel dit en kry die sekuriteit om dit te beskerm. Die Indiergemeenskap het reeds die leiding geneem. Daar is geen ander manier nie. Dit is reeds n ramptoestand en daar kan nie gewag word vir die regering wat nie regeer nie.

Bertus ·

Vandag het ek ‘n probleem met die opskrif van die artikel. Inhoud is goed, maar met opskrif Zuma- Onluste gee ons eenvoudig teveel erkenning aan Zuma en dat hy steeds in beheer is. Ek ken Zuma nie persoonlik nie, maar is beskadiging van eiendom en stropoery nie nie deur kriminele elemente geskaak nie. Zuma was die aanvanklike oorsaak nou weet ek nie meer nie. Wat gaan die resultaat wees as ons minder erkenning aan Zuma vir sy “sukses” gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.