Zuma terug tronk toe? Nie sommer nie – kenner

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: ANA)

Oudpres. Jacob Zuma gaan waarskynlik aansoek doen om verlof tot appèl teen die besluit van ʼn volbank regters dat die mediese parool waarop hy in September verlede jaar vrygelaat is, onregmatig en ongrondwetlik is. En hoewel die kans skraal is dat ʼn ander hof tot ʼn ander besluit gaan kom, is dit na alle waarskynlikheid steeds die roete wat Zuma gaan volg.

Die appèlhof het Maandag beslis Zuma moet terug tronk toe vir ʼn tydperk soos bepaal deur die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Dr. Llewellyn Curlewis, ʼn regskenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, meen nie dat Zuma se verlofaansoek sal slaag nie en dit sal beteken hy moet die hoofregter, Raymond Zondo, nader om toestemming te vra vir sy aansoek om in die land se hoogste hof aangehoor te word.

Dit kan egter as ʼn botsing van belange beskou word. Zondo was voorsitter van die kommissie na staatskaping wat gevra het dat Zuma gestraf word vir sy versuim om voor die kommissie te getuig. Die Konstitusionele Hof het Zuma daarna 15 maande tronkstraf vir minagting van die hof opgelê.

Curlewis sê Zondo sal hom waarskynlik aan die saak onttrek.

Sou Zuma se aansoek in die appèlhof misluk en hy hom tot die Konstitusionele Hof wend, sal sy petisie daar aangehoor word. Indien die Konstitusionele Hof-regters dan besluit Zuma se saak moet aangehoor word, begin die regsproses daar van voor af.

“Die proses kan maklik nog ʼn jaar duur en baie water moet nog in die see loop,” sê Curlewis.

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Hy meen die Zuma-uitspraak, sowel as in die Konstitusionele Hof se uitspraak dat Janusz Walus (was skuldig bevind is aan die moord op Chris Hani) op parool vrygelaat moet word, is wetgewing reg toegepas.

“Tot nou toe het hulle politiek gespeel en nie die reg toegepas nie.”

Prof. André Duvenhage, ʼn dosent en politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê ook indien Zuma die uitspraak betwis, die saak weer hangend sal wees.

“Ek verwag nie dat daar dadelik enige handeling gaan wees nie. Ek verwag wel ʼn weerstandigheid van die DKD om teen Zuma op te tree en ek voorsien ʼn verlenging van die Stalingrad-strategie wat hy tot dusver gevolg het.”

Duvenhage sê streng gesproke moet die oudpresident terug tronk toe, maar hy gaan waarskynlik oudergewoonte vertragingstaktiek inspan om hom ʼn vry man te help hou.

“Ek dink nie Zuma gaan weer tronk toe nie.”

Indien die oudpresident in ʼn verrassende wending besluit om wel weer by die tronk aan te meld, kan emosies oorkook – soos tydens die Julie-onluste van verlede jaar gesien is.

“Dit lyk egter nie of Jacob Zuma baie lief is vir die tronk nie…” sê Duvenhage.

“Zuma in die tronk? Onwaarskynlik. Ek sal baie verbaas wees.”

Onseker tydperk lê voor

Polisiebeamptes tydens die oproer in KwaZulu-Natal in Julie verlede jaar. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Duvenhage sê verskeie faktore kan oor die volgende paar maande ʼn uitwerking op die bestendigheid van die land hê en hy verwag ʼn potensieel onstabiele tyd oor veral Desember.

Eskom steier om die ligte aan te hou en armoede en werkloosheid neem toe.

“By die ANC se nasionale konferensie volgende maand is daar reeds potensiaal vir moeilikheid en dan is die 2024-verkiesing net meer as ʼn jaar weg.

“Hierdie is ʼn baie vreemde, onsekere en moeilike tyd en dít terwyl al hoe meer strukture en stelsels besig is om uitmekaar te val,” sê Duvenhage.

“Hier is ʼn stel omstandighede waaroor ons rede het om bekommerd te wees.

“Dit sal ook interessant wees om te sien hoe Zuma en sy groepering hierop gaan inspeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jan ·

Verseker sal hy nie tronk toe gaan nie.

Die ANC weet dat hulle dan weer chaos sal hê wat deur die pro-Zuma RET faksie gereël sal word.

Althes ·

Wie betaal Zuma se regskoste? Daardie persone trek seker al hul hare uit hul kop – dis ñ peperduur lopie om uit tronk uit te bly.

Anel ·

Maar kan die hof nie ook vir hom besluit dat hy nie mag appél aan reken nie? Dit word dan so in baie ander gevalle gedoen!

Di ·

Nee wat die skelm is te slinks! Hy sal nooit die binnekant van die tronk weer sien nie.

Samuel ·

Kom ons vergeet maar van Zuma wat teruggaan tronk toe. Dit is dagdrome.

Maritza ·

Net nog weer ‘n verskoning wees vir sy kaders om weer chaos te veroorsaak

Nettie ·

Dankie, dis gaaf om Prof Duvenhage se insette te kry.

Dit verstom my dat iemand so kan wegkom met “Stalingrad tegnieke”. Hoe is daar nie teenvoeters in ons regstelsel daarteen nie? Dis seker maar soos die “wigte en teenwigte”…. dit gaan oor interpretasie.

gatgogga ·

Hy kom nie slegs weg met sy streke nie – hy word ondersteun deur die sogenaamde regstelsel. Hulle weet: van uitstel kom afstel.
As ons nie so ‘n bangbroek soos Ramapauser in beheer gehad het nie, sou dinge baie anders en volgens wet verloop het.

Onnie ·

Almal weet die land sal (weer) brand as hy moet tronk toe gaan. Sien ons regtig kans vir dit? Is die kool die sous werd??

Gustav ·

Ons lomp regstelsel met die baie beskermings vir menseregte maak dit so lomp, ons bly steeds ʼn paradys vir skelms. Moet die stelsel nie hersien en bondiger gemaak word nie?

Lillian ·

In my eerlike opinie, Zuma was nooit agter tralies nie, ons was ge-bs soos altyd. En nou sal hy ook nie gaan nie.

annie ·

As die geskiedenis oor die verloop van die Zoeloe-nasie in die tyd sedert die eerste kennismaking met trekkerboere bekyk word, het hulle nie eers hul naaste, selfs broers en kinders gespaar wanneer eiebelang tel nie. Shaka is deur Dingaan vermoor en lg se gedrag was…. Nou trek ons by Zuma en die jonger geslag. Koes mense koes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.