
Oudpres. Jacob Zuma in die hooggeregshof in Pietermaritzburg (31 Januarie 2022) (Foto: Jerome Delay/Pool/AFP)
Die appèlhof se uitspraak teen oudpres. Jacob Zuma is “teleurstellend maar nie onverwags nie”.
Só het die Jacob Zuma-stigting gereageer nadat een van Zuma se jongste pogings om die korrupsiesaak teen hom verder uit te stel in die hek geduik het toe sy aansoek dat staatsaanklaer Billy Downer aan die saak onttrek word, misluk het.
“Na ons beskeie siening het geregtigheid beslis nie in hierdie saak geskied nie. Die stigting is verstom oor die skreiende vaagheid en die dubbelsinnigheid wat inherent is aan hierdie besluit. ’n Kombersbenadering en roetine-bevel van ontslag verskaf nie die vereiste duidelikheid nie.”
Die appèlhof het Zuma se aansoek met koste van die hand gewys en bevind daar is geen “redelike vooruitsig” dat sy appèlaansoek kan slaag nie. Daar is ook geen ander “dwingende rede” waarom die appèlaansoek aangehoor moet word nie, het die hof bevind.
Die stigting meen hofuitsprake moet regsekerheid en duidelikheid verskaf sodat die subjektiewe afleidings nietig is. “Alle litigante is geregtig om die presiese en werklike redes te weet waarom hul sake suksesvol is of nie. Dit is nie hier die geval nie.”
Zuma het sy regspan opdrag gegee “om alles nodig te doen om die president van die appèlhof, in ooreenstemming met die relevante wetgewing, te nader om toepaslike remedies te soek, insluitend die heroorweging, wysiging of verduideliking van die besluit”.
“Al wat Zuma wil hê is ʼn regverdige verhoor, en sal hy geen steen onaangeroer laat nie om te verseker dat die grondwetlike beloftes van die oppergesag van die reg en gelykheid voor die reg eweredig op almal toegepas word.”
Zuma het Downer aanvanklik van vooroordeel beskuldig en ’n aansoek gebring om hom as aanklaer in die korrupsiesaak te laat verwyder.
Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales staan tereg op aanklag van onder meer bedrog, korrupsie en rampokkery. Zuma word ook daarvan beskuldig dat hy omkoopgeld van Thales ontvang het. Zuma en Thales pleit onskuldig op die aanklagte teen hulle in ʼn saak wat al langer as 20 jaar sloer.
Die saak word na verwagting op 11 April hervat. “Zuma se regspan sal op 11 April in die hooggeregshof in Pietermaritzburg wees met ʼn duidelike mandaat om die beskerming van hierdie heilige regte en waardes wat in ons Grondwet verskans is, te verseker.
“Vir die kriminele verhoor om onder die huidige omstandighede voort te gaan terwyl hierdie wetlike beskerming nagestreef word, sal ʼn bespotting van die reg en wraaksugtige aanval op ons Grondwet wees,” het die stigting gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Zuma sal ‘n regverdige verhoor kry sodra hy ophou met sy onregverdige eise en bewerings.
Met sy uitstel tegniek en gesloer maak hy n bespotting van die stelsel, tree op en vonnis die kader.
Net erge kriminele gaan tot uiterstes om vervolging te vermy. Sy spannetjie en volgelinge het verwronge en onintelligente menings wat geensins sin maak in die wêreld van die intelligentes nie.
Hy sal dit kry as hy ‘n slag opdaag by die hof en ophou lieg.
Hoe kan sy regspan met die president van die appèlhof vergader? Is dit ‘n ope vergadering en kan die publiek hoor en sien?