Sonskynskrywer PH Nortjé sterf

Lus vir net ‘n bietjie ontspan na ‘n dag van die gewone bedrukkende dinge? Geen probleem nie. Gaan haal net een van PH Nortjé se bundels sketsverhale uit die boekrak, sit agteroor, en verhuis na ‘n wêreld so eie aan die Afrikaner waar die son byna altyd skyn. Ontspan in ‘n wêreld van humor, maar waar humor nooit vervlak nie.

Maar nou is sy pen finaal stil na hy op 91-jarige ouderdom in ‘n aftree-oord in die Strand oorlede is. PH Nortjé sal veral as humorskrywer onthou word, maar sy oeuvre is baie, baie wyer. Die rou aardsheid van sy grootwordwêreld in die Baviaanskloof waar hy op 20 Oktober 1920 in sy ouers se hoofslaapkamer gebore is, tot jeugverhale, tot die sonskynboeke oor sy geliefde Wellington, wat om sy gesin, sy bure en oupa Grootbul van Bonnievale geweef is.

Aan die sonkant, Nuut onder die son, Operasie sonskyn en ander leesavonture, en Op die sonpad tel onder die bekende boeke wat PH Nortjé ‘n bekende naam onder Afrikaanse lesers gemaak het.

Na Nortjé self opgehou het om te skryf, is sy werk nog in verskillende bundels uitgegee, onder meer Op ‘n hoë noot, Die lekkerste stories van PH Nortjé, en Wellington se suiker, wat deur Danie Botha saamgestel is. Onder sy bekendste werke tel Die Groen Ghoen, Matewis se mense gaan boer, Bly of Gly, en Pennie se vuur.

Nortjé het homself nie as skrywer nie, maar as storieverteller, beskou. Skryf was volgens sy seun, Charl, harde werk, en hy het onder groot aanmoediging van sy vrou Mikie en bure sy hand aan die pen geslaan. Hy word deur sy hoofkarakters, sy seuns Charl, Francois en Pierre-Henry en agt kleinkinders oorleef.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Piet le Roux

Aangenaam om so mooi aan PH Nortjé herinner te word.

Pierre Henri

Baie dankie vir die mooi woorde oor ons pa.

Charl, Francois, Pierre-Henri en families

Susan Lombaard

Dankie vir die terugvoer, Pierre-Henri. Ons innige simpatie aan julle as gesin en familie. Susan Lombaard (Bestuurder: Maroela Media)

Jean Mackie (Beynon)

Dankie, dankie, dankie vir die mooi stories van die pen van Mnr Nortje. Ek het hulle graag gelees, en het baie keer gewonder – wat is die plek, ‘die Baai’. Now I must switch to English, as I have lived in Canada since 1964 and have had no opportunities to speak and write Afrikaans. In the early sixties I was approached by Oxford University Press to try to translate three of Mr. Nortje’s wonderful stories. This I did. I didn’t find out until after the publication of the English versions about the name of place referred to as ‘die Baai’.… Lees meer »

H J Bester

Het goeie herinngeringe aan P H Nortjé se “Pennie se Vuur” wat ek in 1965 in matriek aan die Hoërskool Outjo as voorgeskrewe boek gehad het.