Stakers in die motorbedryf sal Dinsdag aan ‘n optog na Naamsa se kantoor deelneem, het die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) Maandag gesê.
“’n Betoging van 11 000 werkers in die motorbedryf wat uitgebuit en te min betaal word sal deur Mphumzi Maqungo, nasionale tesourier van Numsa, gelei word,” het Castro Ngobese, woordvoerder vir die vakbond, gesê. Hulle sal glo ‘n memorandum van verstandhouding aan die Automobile Manufacturers Employers’ Organisation oorhandig. Die betogers sal om 09:00 by die Putco-depot in Potgieterstraat bymekaarkom.
“Die optog vorm deel van ons organisatoriese strategie en is ‘n instrument om die goue seuns en meisies van klasuitbuiting in die motorbedryf te dwing om aan werkers se eise te voldoen,” het Ngobese gesê.
Dit is die derde week van die staking in die motorbedryf. Werkgewers het ‘n 10%-loonverhoging aangebied, maar die vakbond het dit verwerp.
Die National Association of Automobile Manufacturers of SA (Naamsa) het Maandag in ‘n verklaring gesê dat een van die negatiewe gevolge van die staking is dat dit Suid-Afrika se status as ‘n betroubare verskaffer aan internasionale uitvoermarkte ondermyn. Die vereniging het gewaarsku dat dit toekomstige uitvoerkontrakte negatief kan beïnvloed. “Indien ‘n ooreenkoms nie binne die volgende paar dae bereik word nie, sal die skade aan toekomstige vooruitsigte verreikend wees en moontlik jare neem voordat dit herstel kan word,” het Naamsa gesê.
Sewe groot motorvervaardigersaanlegte, naamlik BMW, Ford, General Motors, Mercedes Benz, Nissan, Toyota en Volkswagen word deur die staking geraak.
Ek wonder hoe leef hulle. My man nie bekostig om te staak nie. En met al die gestakery gaan alles weer op. Ons kan maar nie wen nie.
Haha net nie nou staak nie, dis my BMW wat daar in die lug hang!