Tronkstraf vir twee wat bedreigde plante onwettig smous

Hof

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Twee mans van die Noord-Kaap, wat op heterdaad betrap is toe hulle skaars soorte vetplante onwettig verkoop het, is agt jaar tronkstraf opgelê.

Die landdroshof op Springbok het Benedict Beukes (28) en Quinton Steenkamp (30) gevonnis vir verskeie oortredings wat verband hou met die besit en verkoop van beskermde plantspesies.

Die twee is in Desember 2020 tydens ʼn polisielokval in hegtenis geneem.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Noord-Kaap, het Steenkamp boodskappe gestuur waarin hy te kenne gegee het dat hy plante te koop het.

Dié boodskappe het by kapt. Karel du Toit, hoof van die Springbok-polisie se veediefstaleenheid, uitgekom, waarna die hof magtiging gegee het dat ʼn lokval vir Steenkamp gestel mag word.

ʼn Ondersoekspan het op 20 Desember vir Beukes en Steenkamp naby Spoegrivier ontmoet – met die plante in hul besit.

Die oomblik toe die transaksie beklink is, is die twee in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op 900 Conophytum pellucidum-plante, met ʼn geraamde waarde van sowat R13 500, en 2 464 Conophytum Pageae-, met ʼn waarde van R86 240.

Beukes en Steenkamp het later in die hof skuld beken op die klagte teen hulle.

Basil Kock, staatsaanklaer, het die hof gevra vir ʼn swaar vonnis omdat die diefstal van bedreigde plantspesies al hoe meer toeneem.

Volgens Kock is daar gesofistikeerde sindikate wat hulle toespits op bedreigde plantsoorte. Dié sindikate maak gebruik van plaaslike inwoners wat in armoede verval het om die plante te stroop.

Pieter van Wyk, verbonde aan die Richtersveld- Nasionale Park, het getuig dat skaars plante heeltemal uitgewis kan word indien sindikate nie gestop word nie.

Die hof het egter hierna Beukes en Steenkamp se pleit teruggetrek omdat die plantspesies Conophytum nie ingesluit is in die Noord-Kaapse Wet op Natuurbewaring (Wet 9 van 2009) nie.

Gevolglik is die aanklagte teen Beukes en Steenkamp tydelik ter syde gestel.

Die appèlhof het egter bevind die hof het fouteer en opdrag gegee daar moet voortgegaan word met die saak teen hulle.

Gevolglik het die hof albei mans se oorspronklike pleit van skuldig aanvaar, waarna hulle gevonnis is.

Al twee is agt jaar tronkstraf opgelê, waarvan twee jaar opgeskort is op voorwaarde dat hulle in die tyd nie weer skuldig bevind word aan soortgelyke oortredings nie. Beukes en Steenkamp is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.