Video: Kampioen Dricus terug in SA

Dricus du Plessis spog met sy titel en die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Terwyl honderde mense spesiaalgemaakte “hulle weet nie wat ons weet nie”-plakkate rondgeswaai het en met Bonnie Tyler se Holding out for a hero wat deur die luidsprekers weerklink, het Dricus “Stillknocks” du Plessis Donderdagoggend sy verskyning op die OR Tambo-lughawe gemaak.

Die nuwe UFC-middelgewigkampioen, getooi in ʼn swart T-hemp en sweetpakbroek met ʼn paar wit tekkies, het die Suid-Afrikaanse vlag en sy titelgordel in die lug gehou terwyl hy sy pad tussendeur die flitsende kameras van die media en die selfone van die ondersteuners probeer oopvleg het.

“Dit voel ongelooflik,” het Du Plessis gesê toe hy uiteindelik ʼn oomblik van stilte in ʼn mediavertrek gevind het.

“Ek weet dat mense besig is om te werk, terwyl daar ook soveel dinge in hul lewe aangaan; tog het almal tyd gemaak om ʼn landgenoot te ondersteun wat sy droom nagejaag het. Ek was sommer emosioneel toe ek dit sien.”

Die 30-jarige Pretorianer is Suid-Afrika se eerste UFC-kampioen, maar hy beloof dat dit hoegenaamd nie die einde van sy paadjie is nie.

Die gróót drome begin nou eers.

“Ander vegters was al kampioene in twee gewigsafdelings. Nou, as húlle dit kan doen, beteken dit mos dat ék iets soortgelyks kan vermag. Ek kan nog hoër hoogtes bereik en dít is maar slegs die begin.”

Honderde ondersteuners het Du Plessis op die OR Tambo-lughawe verwelkom. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Daar word reeds in die gemengdegevegskunskringe van ʼn moontlike tweestryd by UFC 300 gepraat, maar Du Plessis is bereid om te wag vir die kersie op dié skop-en-slaan-koek: ʼn Appelswaaisessie teen Israel Adesanya in Suid-Afrika.

“As iets in Afrika op die spyskaart is, sal jy baie hard moet soek om ʼn groter trekpleister as ʼn Du Plessis/Adesanya-geveg te vind. Dit is die geveg wat ek soek. Reg hier op tuisbodem.”

Vergeet vir eers van vorige bekgevegte, die Suid-Afrikaner meen dat Adesanya een van die topatlete in die sport is.

“Israel is een van die bestes en hy het weliswaar al vantevore ʼn spul dreigemente gemaak, maar soos wat ek gereeld sê: Hulle weet nie wat ons weet nie,” het die kampioen onder groot toejuiging gesê.

Hoewel hy die titel ná vyf aksiebelaaide rondes omhoog gehou het, is dit eintlik ʼn prestasie waarop elke liewe Suid-Afrikaner trots kan wees.

“Dit gaan oor soveel meer as net my eie pyn of uithouvermoë; dit gaan vir my oor die hele Suid-Afrika. Dit beteken ongelooflik baie om die titel terug na my land te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michele ·

Dricus daai titel is joune , jy het dit verdien!!! Welkom terug!!

Jacobus ·

Fantasties baie geluk ek hoop jy baklei jou tot in die rekordboeke.

Helena ·

Die ondersteuning sou soveel beter gewees het as hy Saterdag geland het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.