Video: Strand-gemeenskap snoer kragte saam vir vloedslagoffers

Die Kay’s-woonwapark in die Strand het oorstroom. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

“Daar is nie tyd om te gryp nie. Water is soos vuur, as hy kom, kom hy.”

Só beskryf, Hansie Nolan, ʼn inwoner van die Kay’s-woonwapark in die Strand, die verwoestende water wat in die vroeë oggendure van 14 Junie deur die baksteenstrate van dié woongebied gestroom het.

Hy sit op sy bed terwyl hy die vloedervaring herroep. Sy huis was een van die eerste huise wat deur die massawater getref is. Buite is inwoners en vrywilligers besig om meubels uit huise te dra, water met besems deur die strate te vee en noodhulp aan dié te bied wie se bene stukkend geskaaf is deur hul modderbedekte reënstewels.

Die gemeenskap is een van vele Kaapse gebiede wat die afgelope week onder swaar reënval en vloede gebuk gegaan het. Maroela Media het vroeër berig dat sekere skole ontruim moes word en verskeie sakeondernemings en informele nedersettings tydens kitsvloede oorstroom is.

“Die huise… die huise, as ek daaraan dink wil ek huil. Daar is soveel skade,” verduidelik Kathy Marsh, inwoner en oordbestuurder van Kay’s-woonwapark aan Maroela Media. Haar eie huis is ook in die vloed verwoes.

Hansie Nolan is een van die vloedslagoffers. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Marsh beduie hoe sy tot by haar heupe in die water, wat vanaf die Lourensrivier reg langs die karavaanpark gestroom het, gestaan het.

Sy het ook haar frustrasie teenoor die plaaslike munisipaliteit uitgespreek en meen dat meer van die staat se kant af gedoen moet word om te verhoed dat gemeenskappe weer soortgelyke skade weens vloede ly.

Dit is nie die eerste keer wat dié gemeenskap deur só ʼn ramp getref word nie.

“Ons is tien jaar gelede ook hierdeur. Dit was net so verwoestend,” het Nolan verduidelik.

Sandra Jacobs. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Terwyl Sandra Jacobs die water uit haar huis probeer vee, getuig sy oor die volharding van die Kay’s-gemeenskap. Sy bly al vir die afgelope drie jaar saam met haar man, Danie, en hul tienjarige tweeling in dié park. Hul 19-jarige dogter se huis is verder van waar die rivier deurgebars het, en kon die ergste skade van die vloede vryspring.

Toe die water deur die straat en hul huis begin stroom het, is haar kinders al waaraan Jacobs kon dink.

“Hier gaan lê ons nie. Ek moet opstaan vir my kinders. Hulle moet alles hê wat hulle moet hê. Jy kan nie jou kinders net los nie.”

“Toe my seuntjie Woensdag vir my vra of hy enigiets vir sy verjaardag gaan kry, toe sê ek vir hom: ‘My kind, jy lewe. Dit is jou verjaardaggeskenk.’.”

In dieselfde straat van Kay’s-woonwapark is Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand. Dié gebou is as voor- en nasorg vir kinders in die omgewing ingerig, maar dien tans as veilige hawe vir nagenoeg 50 inwoners wat hul huise moes ontruim.

“Ons moes van die mense uit hul huise red,” verduidelik Joey Lötter, sentrumbestuurder van die Strand se Ons Plek-sentrum.

“Daar was van die gesinne wat bolangs gebly het wat kon terugtrek na hul huise toe, maar daar is gesinne wat byna alles verloor het.”

Die span by die Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Woltemadestraat, waar die woonwapark geleë is, geniet nie ʼn oomblik van die rustigheid wat ʼn klein kusdorpie betaam nie. Daar staan ten alle tye ʼn lang ry motors in dié straat, elkeen daar om ʼn sak klere, kruideniersware, kos of tyd te skenk.

“Dit is eintlik net ongelooflik om te sien dat, al is dit só ʼn groot insident wat gebeur het, dat die gemeenskap hulself absoluut net toevou om hierdie mense,” het Lötter gesê.

Sedert die ramp ʼn paar dae gelede plaasgevind het, het hulp van alle oorde af ingestroom. Die dierebewaringsorganisasie, Pet Pals, het ingegryp om die gemeenskap se tientalle katte en honde te red. Organisasies soos Solidariteit, die Atterbury Trust en AfriForum het kragte saamgesnoer om die inwoners nie net uit hul huise te red nie, maar om behoeftes soos behuising en kos te verskaf.

AfriForum het reeds voordat die ergste vloede die woonwapark getref het, sandsakke aan die gemeenskap geskenk in ʼn poging om vloedskade te verhoed. Hoewel die water steeds deur dié sandsakwal gebars het, was die skade daardeur tot ʼn mate beperk.

Jacques Benadé, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, benadruk ook die gemeenskap se bereidwilligheid om saam te staan in nood.

“Ons het die AfriForum-noodfonds se bankbesonderhede aan mense beskikbaar gestel waarin mense skenkings kon maak. Daar het mense ook net opgedaag wat sop, matrasse en droë klere gebring het.”

AfriForum se takke in die Overstrand en Helderberg het ook skenkings aan die vloedslagoffers gemaak.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Die gemeenskap is ʼn voorbeeld. Nie spesifiek AfriForum, ons lede of Helpende Hand nie, maar die gemeenskap in geheel.”

Weervoorspellings dui daarop dat die ergste storms nog nie verby is nie. Volgens Lötter, is die gemeenskap nou gerat om verdere storms saam te trotseer.

“Ons weet daar is nog baie reën op pad, maar ons moet nou rustig wees. Ons sal saamstaan en as gemeenskap saam weer opbou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.