Vuurwapenwetwysigings: Meer as 100 000 besware; meer tyd vir kommentaar

Die minister van polisie, Bheki Cele. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Daar is reeds meer as 100 000 geskrewe besware rakende die wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer ontvang en lede van die publiek het nou langer kans om hul kommentaar in te dien.

Die wysigingswetsontwerp het sedert die publikasie daarvan in die Staatskoerant op Vrydag 21 Mei hewige kritiek ontlok weens die voorgestelde wysigings wat onder meer selfverdediging as rede vir die besit van ʼn vuurwapen sal skrap. Die wysigings sal ook ʼn groot uitwerking op sportskuts en jagters hê.

Bheki Cele, minister van polisie, het Maandag die spertyd om kommentaar te lewer oor die omstrede voorgestelde wysigings met 21 dae verleng. Die oorspronklike spertyd vir kommentaar sou aanvanklik vandeesweek verstryk, maar lede van die publiek het nou tot 2 Augustus tyd om hul stem te laat hoor, het Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, bevestig.

Die kommentaar wat ontvang word, is volgens Themba in die algemeen in beswaar teen die bepalings rakende selfverdediging, oor die versameling van vuurwapens en ammunisie, die herlaai van ammunisie, die beperkings op die aantal vuurwapens en ammunisie wat sportskuts en jagters mag besit en die vermindering van die lisensietydperk.

Die besluit om die kommentaartydperk te verleng is volgens Themba geneem nadat die burgerlike sekretariaat van die polisie ʼn hele aantal versoeke ontvang het vir inligting rakende twee verslae wat die grondslag gevorm het vir die voorgestelde wysigings.

Die twee verslae waarna verwys word, is die sogenaamde Wits-verslag en ʼn verslag wat deur ʼn ministeriële komitee opgestel is. Die Wits-verslag is in 2015 opgestel, maar nooit aan lede van die publiek bekend gestel nie. Die sekretariaat het die verslag intussen beskikbaar gestel nadat ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien is.

“In die gees van billikheid en deursigtigheid is besluit om hierdie navorsingsverslae beskikbaar te stel en aan alle lede van die publiek die geleentheid te bied om behoorlike insig in die verslae te kry en sodoende ingeligte kommentaar te lewer wanneer hulle bydra tot die versterking van die wetsontwerp.”

Themba het egter daarop gewys dat die verslae nie die enigste bron van inligting was wat die bepalings van die wysigings tot gevolg gehad het nie en dat beleidsbesluite en misdaadstatistieke  ook gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Persheks Adri ·

Skrap die wet in totaal! Nou moet ons op ‘n verouderde verslag werk regtig! Die nuutste stats vir moord en roof ens moet gebruik word nie jou ou goed nie cowboy. Jy dink ons is vlak in die dak ne?

Mieke ·

Hulle moet eers navorsing doen omtrent hoeveel moorde deur die eerlike burger veroorsaak word. Dan gaan hulle mos weet dis die krimineel wat die probleem is!!! Maar dit pas seker nie in hulle planne met ons nie..

Anoniem ·

Reg. Natuurlik is dit makliker om die gehoorsame burger in die hande te kry, as om die werklike kriminele probleme aan te spreek.

Helgard ·

Dis amper niks, in die Witstudie is daar bevind dat minder as 5% van geweldadige misdaad wat gerappoteer word enige iets met vuurwapens te doen het.

So dis klein fraksie van 5% van alle geweldadige misdaad.

gpsa ·

Gaan se jou se op Dear South Africa se web site. Baie mense se veiligheid hang hiervan af. Kom ons keer saam hierdie wysiging.

Tipper ·

100 000 besware,60 miljoen inwoners, plaas nog meer mense teken.

Aai ·

Dit is die geskrewe waar is die wat aanlyn geteken is?Daar moet miljoene wees.

Persheks Adri ·

Ek’s seker sy syfers is wéér nie reg nie soos altyd! Hy vergeet van al die ander organisasies waar ons ook beswaar teken…

Helgard ·

Moet net teken nie, teken behoorlike beswaar aan soos die 115 000 via DearSA.

Al die petisies wat deur DA en VF+ etc opgestel is tel slegs as enkele beswaar of 10 of 10 miljoen dit teken.

Die Boerepompie ·

Kyk almal moet skryf dat hulle met 40 mijoen skrywe sit

Persheks Adri ·

Casper, as jy wil kommentaar lewer op die vuurwapenwet is die maklikste opsie om bo by Maroela se snuffel gedeelte in te gaan dan sit jy vuurwapenwet in en sien sommer al die berigte met “links” in hulle vir kommentaar by baie organisasies asook by Dear South Africa. Laat weet of jy regkom asb anders sal ons jou help in die regte rigting.

Michelle ·

Ek vermoed hulle het opgehou met tel by 100,000 komentare. Nie n enkele mens wat ek ken, of mee gepraat het, stem saam met die voorgestelde wetsontwerp nie.

KB ·

Wat ‘n pot twak. Skrap die voorgestelde verandering aan die wet. Het Cele enigsinds die Grondwet van SA al onder oë gehad? Hy laat my wonder…
Hy’s nie die minister van Polisie-titel werd nie, maar eerder minister van Posisie, met sulke voorstelle.

gpsa ·

Help niks om hier te kla nie. Stuur die e-pos na parlement deur Dear South Africa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.