Waarskuwing vir paartjies wat kafoefel

Argieffoto

Die polisie in die Noord-Kaap het paartjies gewaarsku om op hul hoede te wees in die gebied naby Kimberley wat as “minnaars se den” [lover’s den] bekend staan.

“Paartjies wat by die bekende “minnaars se den” op pad na Barkly-Wes aftrek en kafoefel, word deur kriminele geteister wat vir hulle wag,” het kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, gesê.

‘n 29-jarige man van Galeshewe is Sondagoggend in die gebied geskiet. Hy is verskeie kere geskiet en sy vriendin is twee keer verkrag. Dit is die derde soortgelyke aanval by dieselfde plek hierdie jaar. Volgens die polisie het die paartjie eers by ‘n plaaslike kroeg in Galeshewe, Kimberley, gekuier waar hulle mekaar ontmoet het. “Hulle het na “minnaars se den” gery. Terwyl hulle buite die motor was, het ‘n onbekende gewapende persoon hulle oorval. Die aanvaller het die vrou in die motor gedwing en in die rigting van Bloemfontein begin ry. Sy is weer verkrag voordat hulle Petrusburg bereik het.

Naidu sê die motor het meganiese probleme net voor Petrusburg begin kry, maar die man het na ‘n motorhawe gery. Hy het ‘n vrou en man, wat geryloop het, glo ook opgelaai en steeds in Bloemfontein se rigting gery. “Terwyl die vier onderweg was na Bloemfontein, het die voertuig weer gestol. Die passasiers het uitgeklim en die verdagte agtergelaat,” het Naidu bygevoeg.

Die vrou het aan die twee rylopers vertel wat gebeur het en hulle het die polisie in kennis gestel. “Die polisie in Galeshewe is dadelik in kennis gestel van die beseerde man in die veld. Toe die polisie by die plek opdaag waar die voertuig glo gestol het, was die verdagte nêrens te sien nie.”

Die gewonde man is na Kimberley-hospitaal geneem in ‘n ernstige, maar stabiele, toestand. Naidu het gesê die man het sig in sy linkeroog verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.