2023 in foto’s

Brittanje se eerste kroningseremonie in 70 jaar het vanjaar plaasgevind, oorlog het uitgebreek tussen Israel en Hamas en vooruitgang in die verkenning van die ruimte is gemaak. Hier is ʼn paar van vanjaar se belangrikste nuusgebeure in foto’s.

Turkye: ’n Turkse soldaat loop tussen verwoeste geboue in Hatay nadat ’n aardbewing van 7,8 die suidooste van die land in Februarie getref het. Die dodetal van die massiewe aardbewing het tot meer as 20 000 gestyg. (Foto: Yasin Akgul/AFP)

Frankryk: ’n Betoger beskerm homself met ʼn sambreel teen traangas tydens ’n betoging. Frankryk het in Maart vanjaar ’n paar dae van erge stakings beleef weens ontevredenheid met pensioenhervormings. (Foto: Loic Venance/AFP)

Duitsland: Mickey en Minnie Muis neem deel aan ’n mediakonferensie vir die Europese première van die “Disney 100”-uitstalling. Die uitstalling het in April vanjaar geopen en die geskiedenis en werke van die Walt Disney-maatskappy uitgebeeld. Oorspronklike kostuums, rolprentrekwisiete en geskiedkundige dokumente is uitgestal. (Foto: Sven Hoppe/dpa (Foto: Sven Hoppe/DPA/AFP)

Verenigde Koninkryk: Brittanje se koning Charles III en koningin Camilla waai van die koninklike balkon by Buckingham-paleis nadat hulle ʼn lugvertoning van die Koninklike Britse Lugmag gekyk het. Die foto is in Mei vanjaar, kort ná die koning se kroningseremonie, geneem. (Foto: Oli Scarff/AFP)

Ysland: Mense bekyk vloeiende lawa tydens ’n vulkaniese uitbarsting naby Litli‑Hrutur suidwes van Reykjavik. Die vulkaniese uitbarsting het in Julie sowat 30 kilometer (sowat 19 myl) van Ysland se hoofstad Reykjavik begin. Die was die derde uitbarsting van hierdie vulkaan in twee jaar. (Foto: Kristinn Magnusson/AFP)

 

Brasilië: ʼn Boggelrugwalvis en haar kalf aan die kus van Vitoria in die staat Espírito Santo. Die foto is in Augustus geneem. (Foto: Carl De Souza/AFP)

Denemarke: ʼn Smeltende ysberg dryf as gevolg van warm temperature langs die Scoresby Sound-fjord aan die ooskus van Groenland. Die Franse Nasionale Sentrum vir Wetenskaplike Navorsing het in Augustus ʼn ekspedisie onderneem om Groenland se geïsoleerde fjords te verken. Die planeet se grootste fjordstelsel, ʼn lang, diep watermassa wat binnelands vloei, is hier geleë en min navorsing is tot dusver al hier gedoen.  (Foto: Olivier Morin/AFP)

Kanada: Inwoners aanskou die McDougall Creek-veldbrand in Wes-Kelowna, Brits-Columbië. Ontruimingsbevele is uitgereik vir gebiede naby Kelowna, aangesien die brand die stad bedreig het. Meer as 13,7 miljoen hektaar het in Augustus afgebrand en vier mense is dood. (Foto: Darren Hull/AFP)

Palestynse gebiede: ’n Missiel ontplof in Gaza tydens ’n Israeliese lugaanval. Israel en Hamas het in Oktober oorlog teen mekaar verklaar. (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Verenigde State: SpaceX se Starship-vuurpyl word in November van Starbase in Boca Chica, Texas, gelanseer. Die vuurpyl, die grootste wat nog ooit gebou is, het sy tweede toetsvlug onderneem.  (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Oekraïne: ’n Oekraïense dienspligtige van die Staatsgrenswagdiens op patrollie in Bakhmut, te midde van die Russiese inval in Oekraïne. (Foto: Yasuyoshi Chiba/AFP)

 Siya Kolisi

Suid-Afrika: Die Springbokkaptein, Siya Kolisi, in November tydens die trofeetoer in Oos-Londen. Die Springbokke het op ʼn toerbus met die Webb Ellis-trofee deur Gauteng, Kaapstad, Durban en Oos-Londen se strate gepronk. Duisende mense het die Bok-helde ingewag en die rugbywêreldkampioene (vir ʼn tweede agtereenvolgende keer) verwelkom. (Foto: Wikus De Wet/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.