2024 Golden Globe-benoemings: ‘Barbenheimer’ bo!

(Foto: Facebook/Jello reviews)

Die benoemings vir die 81ste Golden Globe Awards, wat op 7 Januarie in Los Angeles in die VSA plaasvind, is Maandag aangekondig.

Maroela Media het vroeër berig Barbie en Oppenheimer – twee van die trefferflieks wat die loket vanjaar oorheers het en die inspirasie vir talle nuwe internet-memes was, sal na verwagting vanjaar Hollywood se Golden Globe-benoemings oorheers… en dit het!

Barbie lei die parade met nege benoemings, gevolg deur Oppenheimer wat agt benoemings ontvang het. Nuwe flieks soos American Fiction, Poor Things en The Zone of Interest sal met dié groot kanonne moet meeding. Killers of the Flower Moon is ook een van die aanspraakmakers, met altesaam sewe benoemings.

Barbie se nege benoemings sluit in Margot Robbie as beste aktrise in ’n musiekspel of komedie, Ryan Gosling as beste byspeler, en Greta Gerwig as beste regisseur.

Drie van Barbie se nege benoemings is vir die beste oorspronklike liedjie – naamlik “Dance the Night” deur Dua Lipa, “I’m Just Ken” deur Ryan Gosling en “What Was I Made For?” deur Billie Eilish.

Oppenheimer is benoem vir rolprent- en loketprestasie, ʼn nuwe kategorie wat vir die 2024-prysaand bekendgestel is en daarop gemik is om meer erkenning aan rolprente te gee wat gewild is by die publiek.

Christopher Nolan is benoem as beste regisseur, terwyl Emily Blunt ook benoem is vir haar ondersteunende rol in die rolprent.

Cillian Murphy is een van die ses benoemdes as beste akteur in ʼn drama vir sy rol in die biografiese fliek oor J Robert Oppenheimer.

(Foto: Valerie Macon /AFP)

Ander akteurs wat in dié kategorie benoem is, sluit in Bradley Cooper vir sy rol in Maestro, Colman Domingo vir sy rol in Rusin en Andrew Scott vir sy rol in All of Us Strangers.

In die TV-kategorie is Elizabeth Debicki in The Crown, Rosamund Pike in Saltburn en Meryl Streep vir haar rol in Only Murders in the Building benoem as beste akteurs in ondersteunende rolle.

Met 33 benoemings is Streep die rekordhouer vir die meeste Golden Globe-benoemings.

Taylor Swift het ook haar vyfde benoeming ontvang, hierdie keer in die nuwe loketkategorie, vir Taylor Swift: The Eras Tour. Haar vorige benoemings was almal vir die beste oorspronklike liedjie.

Dit is die eerste keer dat die loketprestasie-toekenning aangebied word en ander rolprente in die wedloop sluit in Guardians of the Galaxy Vol 3. en Mission: Impossible – Dead Reckoning Part One.

Die ander nuwe kategorie vir 2024 is die beste prestasie in skerpskets. Ricky Gervais, Trevor Noah en Amy Schumer is onder die benoemdes.

Daar was sprake dat die 81ste Golden Globes nie vanjaar op televisie uitgesaai sou word nie omdat die organiseerders gesukkel het om ʼn uitsaaivennoot ná onlangse meningsverskille te vind.

Nietemin het die vervaardigers onlangs ʼn ooreenkoms met die Amerikaanse netwerk CBS, wat ook die Grammy-toekennings uitsaai, aangegaan en die prysaand sal ook op Paramount+ gestroom word.

Die organisasie wat lank agter die Golden Globes was, die Hollywood Foreign Press Association (HFPA), het die afgelope paar jaar omstredenheid gelok weens bewerings van korrupsie en ʼn gebrek aan diversiteit binne sy ledetal.

Die Golden Globes het daarna veranderinge aangebring en in Oktober aangekondig “dat die ledetal van die stemliggaam van ongeveer 90 tot 300 vergroot is en nou aansienlik meer divers is”.

Bron: BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.