31 beseer toe tuimeltreine bots

Legoland in Duitsland. (Foto: Twitter)

Minstens 30 mense is beseer, van wie een ernstig, toe twee tuimeltreine Donderdag by Legoland se pretpark in Duitsland teen mekaar gebots het.

Die ongeluk het op die Fire Dragon-rit by die pretpark naby Günzburg in die Duitse deelstaat Beiere plaasgevind, toe die een tuimeltrein tot stilstand gekom het, maar ’n tweede tuimeltrein weens “tot dusver onbekende redes” nie heeltemal stilgehou het nie.

Die twee tuimeltreine het saam 38 insittendes gehad ten tyde van die botsing.

Sommige besoekers was ná die botsing in die tuimeltreine vasgekeer. Hulle is met behulp van die brandweer uit die tuimeltreine bevry.

BBC berig 31 van die 38 insittendes het ligte beserings tydens die botsing opgedoen. Altesame 14 van dié pasiënte is na hospitale gehaas vir mediese waarneming. Een persoon is egter in ’n ernstige toestand hospitaal toe vervoer.

Duitse media berig drie helikopters is na die toneel ontplooi.

Die Beierse Rooi Kruis, wat op die voorval gereageer het, sê egter die ongeluk kon baie erger gewees het.

Legoland het intussen ’n ondersoek na die voorval gelas.

“Die park se personeel het dadelik goed ingeoefende veiligheidsprosedures gevolg en gaste is onmiddellik uit die treine verwyder en deur opgeleide oordpersoneel bygewoon,” sê die maatskappy in ’n verklaring.

“Legoland-noodpersoneel, asook paramedici, dokters, die polisie en brandbestryders, was binne enkele minute op die terrein. Die parkgebied is ontruim.”

Die pretpark is Vrydag weer oopgestel. Die Fire Dragon-rit bly egter gesluit hangende die uitkoms van die ondersoek.

Dié rit is volgens Legoland se webwerf geskik vir kinders van ses jaar en ouer mits hulle deur volwassenes vergesel word. Kinders van agt jaar en ouer hoef nie deur ’n volwassene vergesel te word om die rit mee te maak nie.

Die tuimeltrein, wat ontwerp is om soos ’n vuurspuwende draak te lyk, beweeg deur ’n donker binnenshuise gebied voordat dit insittendes teen ’n spoed van tot 29 km/h na ’ groot, kronkelende spoor in die opelug lei.

Dié voorval volg kort nadat ’n vrou verlede week tydens ’n ongeluk by ’n pretpark in Klotten, Duitsland, dood is, berig The Guardian.

Die 57-jarige vrou het uit die tuimeltrein geval terwyl dit beweeg het. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karen ·

Ek weet dit is ‘n dom vraag….. wat presies is ‘n tuimeltruin? Op ‘n radioberig oor die ongeluk het hulle gepraat van ‘n wipwa. Ek kan nog indink tuimeltruin = rollercoaster? Maar wipwa kan ek nie ‘n prentjie in my gedagtes sien nie ????

Byekonfyt ·

Dis seker n wa wat op en neer gaan. Ek stem saam dat tuimeltuig / tuimeltrein ‘n raak beskrywing van rollercoaster is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.