33 jaar tronkstraf vir oud-Mianmar-leier

Aung San Suu Kyi (September 2016) (Foto: Jewel Samad/AFP)

Die ontsetelde demokratiese leier van Mianmar, Aung San Suu Kyi, is ʼn verdere sewe jaar tronkstraf opgelê ná ʼn rits hofsake Vrydag tot ʼn einde gekom het. Die Nobelpryswenner sal nou 33 jaar agter tralies deurbring.

Suu Kyi (77), wat al sedert verlede jaar in aanhouding is ná ʼn militêre staatsgreep, is skuldig bevind op elke aanklag wat teen haar aanhangig gemaak is, insluitend korrupsie, die besit van tweerigtingradio’s en dat sy Covid-19-beperkings oortree het.

Sy is Vrydag sewe jaar tronkstraf opgelê op vyf aanklagte van korrupsie oor die huur, instandhouding en aankope van ʼn helikopter vir ʼn minister.

Die hofverrigtinge het 18 maande lank geduur en menseregtegroepe het dit as bedrog afgemaak.

“Al die sake is nou afgehandel en daar is nie enige verdere aanklagte teen haar nie,” het ʼn bron wat vertroud is met die saak, op voorwaarde van anonimiteit aan AFP gesê.

Verslaggewers is verbied om die verhoor by te woon en Suu Kyi se prokureurs is ook verbied om met die media te praat.

Die voormalige Mianmar-president Win Myint, wat ʼn medebeskuldigde was in Suu Kyi se jongste hofsaak, is dieselfde vonnis opgelê, het die bron gesê. Albei sal appèl aanteken.

Suu Kyi is slegs een keer gesien sedert haar hofsaak begin het, in dowwe staatsmediafoto’s uit ʼn kaal hofsaal. Sy het op haar prokureurs staatgemaak om boodskappe aan die wêreld uit te stuur.

Talle persone in die stryd om demokrasie in Mianmar het intussen haar kernbeginsels van geen geweld nie laat vaar. Die “Volksverdedigingsmag” bots gereeld met die weermag van die land.

Die Verenigde State en die Europese Unie het Suu Kyi se vonnisoplegging veroordeel en Washington het haar onmiddellike vrylating geëis.

Volgens die EU is die hofsake polities gemotiveerd en hulle het ook Win Myint se vonnisoplegging veroordeel.

Die Verenigde Nasies se veiligheidsraad het verlede week ʼn beroep op die junta gedoen om Suu Kyi vry te laat in sy eerste resolusie oor Mianmar sedert die staatsgreep. Dit was ʼn seldsame oomblik van relatiewe eenheid in die raad ná permanente lede en junta-vennote China en Rusland buite stemming gebly het.

“Die korrupsieaanklagte is belaglik,” het Htwe Htwe Thein, ʼn assosiaat-professor aan die Curtin-Universiteit in Australië gesê. “Niks in haar leierskap, regering of leefstyl dui op die kleinste teken van korrupsie nie,” het sy gesê.

Richard Horsey van die International Crisis Group het gesê die vraag is nou wat om met Suu Kyi te maak. “Dit is nou ʼn kwessie of ons haar toelaat om haar vonnis uit te dien deur middel van ʼn tipe huisarres of ons moet buitelandse gesante toelaat om beperkte toegang te kry tot haar. Die regime sal waarskynlik nie haastig wees om só besluit te neem nie.”

Die weermag het aangevoer daar was grootskaalse bedrog tydens die verkiesing in November 2020 waar Suu Kyi se Nasionale Liga vir Demokrasie (NLD) ʼn oorwinning behaal het. Internasionale waarnemers het egter gesê die verkiesing was grootliks vry en regverdig.

Die junta het intussen die uitslag gekanselleer en sê hy het meer as 11 miljoen gevalle van kiesersbedrog onthul.

Mianmar beleef politieke onrus sedert die weermag aan bewind gekom het. Die land se kort eksperiment met demokrasie het tot ʼn einde gekom en dit het tot groot betogings gelei.

Regtegroepe sê die junta het reageer deur dorpe af te brand, massa buitegeregtelike moorde te pleeg en lugaanvalle op burgerlikes te loods. Meer as 1 miljoen mense is haweloos gelaat sedert die staatsgreep, aldus die Verenigde Nasies se kinderagentskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.