53 000 vlug uit Port-au-Prince oor bendegeweld

Die oorblyfsel van voortuie wat by ʼn vulstasie in Port-au-Prince aan die brand gesteek is (25 Maart 2024) (Foto: Clarens Siffroy/AFP)

Meer as 50 000 mense het verlede maand binne drie weke uit Port-au-Prince gevlug ná bendegeweld die hoofstad van Haiti geskud het, het die Verenigde Nasies Dinsdag gesê.

Tussen 8 Maart en 27 Maart het minstens 53 125 die stad verlaat, aldus ʼn verslag van die VN se internasionale organisasie vir migrasie (IOM). Hulle sluit by die Karibiese land se 116 000 mense aan wat die afgelope paar maande reeds ontheem is.

Meeste van diegene wat in Maart uit Port-au-Prince gevlug het, het in ʼn suidelike rigting beweeg, het die IOM gesê. Die oorgrote meerderheid sê dit is “as gevolg van geweld en onveiligheid”.

“Dit moet benadruk word dat [die ander] provinsies nie voldoende infrastruktuur of hulpbronne het om hierdie verplasing uit die hoofstad te hanteer nie,” lui die IOM-verslag.

Haiti beleef al sedert Februarie ʼn toename in geweld. Bendes het saamgespan en polisiestasies, tronke, die lughawe en die hawe aangeval. Hulle het ten doel om eerste minister Ariel Henry te ontsetel. Hy is al sedert die sluipmoord op pres. Jovenel Moise in 2021 aan bewind. Haiti het nog nie weer ʼn president gehad nie. Daar is ook nie enige sittende parlement nie en die laaste verkiesing was in 2016.

Die land word geteister deur armoede, natuurlike rampe, politieke onstabiliteit en bendegeweld.

Moise se sluipmoord het tot maande lange onveiligheid gelei voor die botsings in Februarie.

Die gevegte het ʼn ernstige humanitêre krisis laat ontstaan met voedseltekorte en ʼn gesondheidstelsel wat byna ineengestort het in die armste land in die westelike halfrond.

In die eerste drie maande van 2024, tot en met 22 Maart, is 1 554 mense dood en 826 beseer, het die VN in ʼn afsonderlike verslag verlede week gesê.

Die verslag beskryf die situasie as “katastrofaal” met onstuitbare seksuele geweld, insluitend vroue wat gedwing word om deur bendelede uitgebuit te word, die verkragting van gyselaars en van vroue ná hulle mans voor hulle doodgemaak is.

Minstens 528 gevalle van persone wat gelynch is, is verlede jaar aangemeld, insluitend 18 vroue, aldus die verslag. Nog 58 lynch-voorvalle is reeds vanjaar aangemeld.

Die verslag plaas ook die kollig op die werwing en mishandeling van kinders – seuns en dogters – wat nie uit die bendes kan ontsnap nie uit vrees vir weerwraak.

Ondanks ʼn internasionale wapenverbod wat in plek gestel is om die geweld hok te slaan, is daar steeds ʼn stabiele voorraad van wapens en ammunisie wat oor Haiti se “poreuse grense” vloei.

Henry het op 11 Maart aangekondig dat hy sal uittree om plek te maak vir ʼn sogenaamde oorgangsraad. Weke later is die raad egter steeds nie gevorm of aangestel nie, te midde van twis tussen politieke partye en ander belanghebbendes om die volgende eerste minister aan te kondig en as gevolg van vrae oor die wettigheid van só raad.

Kenia, wat ingestem het om ʼn VN-goedgekeurde sending na Haiti te stuur, het sy planne opgeskort totdat die oorgangsraad aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andries ·

Dit is Tot Siens vir daardie land. As ‘uughm’ (sogenaamde leiers) eers agtergekom het hy het enigsins mag, gaan hul dit nie sommer opgee nie.

Jacques Dawie ·

Is die nie maar net n herhaal van die geskiedenis nie? Oor en oor. Wil nie luister nie maar wil voel. Wil nie meer voel nie dan is jammer. Wil nie jammer wees nie so bedel van die wereld om die land te red met geld. Wil nie meer bedel nie want gee nie meer geld nie. Wil nie meer sukkel nie so kry hulp van die wat hul verjaag het. Lewe gaan goed so, wil nie luiste nie maar wil voel……

Marina ·

Ek woon tans in Amerika. Hier sypel hindered van die mense elke dag oor ons grense. Die kuswag sleep darem nou die bootjies terug Haiti toe! Dit is nou die wat hulle wel onderskep. Hierdie mense bring ongelukkig niks goed vir die land nie! Dwelmhandel en ander ongewenste aktitwiteite. Nie eens hul buurland, Dominican Republic, laat hulle in nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.