61 sterf toe trein in skare inploeg

ʼn Skare by die plek waar die ongeluk in Amritsar, Indië plaasgevind het (20 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Prabhjot Gill

Polisie-owerhede in Indië het Saterdag begin met ʼn ondersoek ná ʼn tragiese voorval Vrydagaand in Amritsar waarin 61 mense dood is toe ʼn trein in ʼn skare mense ingeploeg het wat besig was om na ʼn vuurwerkvertoning te kyk.

Amritsar is ʼn stad in die noordoostelike staat Punjab in Indië.

Die slagoffers het op die treinspoor gestaan om na die vuurwerkvertoning te kyk, wat deel was van die Hindoe-fees van Dussehra, toe die ongeluk gebeur het. Beamptes het gesê die mense wat deur die trein getref is, kon nie die trein hoor aankom nie weens die ontploffende vuurwerke. Verskeie mense was ook besig om met hul selfone video’s van die vertoning te neem.

ʼn Huilende vrou hou aan haar man vas tydens die verassing van haar seun wat dood is toe die trein in die skare ingeploeg het (20 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Prabhjot Gill

Volgens berigte het ongeveer 700 mense na die vertoning staan en kyk en was daar meer as 300 mense op die treinspoor. Die trein wat deur die skare geploeg het, was van Jalandhar na Amritsar op pad.

Polisiebeamptes het die masjinis ingeneem vir ondervraging. Amptelike beamptes het aan die IANS-nuusagentskap gesê die treindrywer beweer hy is die groen lig gegee sodat hy voort kon ry en het glad nie geweet dat daar honderde mense op die spoor staan nie.

Vrae word gevra oor hoe daar toestemming gegee kon word dat die Dussehra-viering naby die treinspoor gehou mag word. Plaaslike politici dring aan om te weet, selfs indien daar toestemming hiervoor gegee was, hoekom daar nie pogings aangewend is om die trein te stop nie. Politici meen iemand moet vir die voorval aanspreeklik gehou word.

ʼn Skare by die plek waar die ongeluk in Amritsar, Indië plaasgevind het (20 Oktober 2018). Foto: AP Photo/Prabhjot Gill

Ashwani Lohani, hoof van die Indiese spoorweg, het gesê die maatskappy is nie in kennis gestel van die Dussehra-viering wat naby die treinspoor plaasgevind het nie. “Dit sal foutief wees om te sê die spoorweg is verantwoordelik vir die ongeluk. Dit is die hoofspoorlyn wat bedoel is vir vinnige treine. Mense was op die spoor besig om na die vuurwerk te kyk. Mense moet meer bewus wees [en] moet nie treinspore betree nie,” het Lohani gesê.

Beseerde ooggetuies het aan die uitsaaier NDTV gesê baie mense het op die treinspoor gaan staan om die vuurwerk beter te kan sien, aangesien die spoor op ʼn hoër grondvlak was. Minstens 48 mense wat beseer is word in verskillende hospitale behandel.

Amarinder Singh, hoofminister van Punjab, het ʼn nasionale routydperk aangekondig in die lig van die tragedie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hilda ·

……ek mis iets……… ek is rerig jammer oor die ramp……….. maar hoe staan jy in elke geval op treinspoor??

Lukas van Zyl ·

Eintlik het die trein nie in die mense ingeploeg nie, die mense het in die trein ingeploeg, want vir wat staan hulle op die trein se spoor?

Nicoleen ·

Hoe staan jy op ‘n treinspoor. ‘n Trein kan nie net stop nie dit vat km om te begin briek. Sterkte aan die Treindrywer dis nie ‘n maklike dink wat met hom gebeur het nie. En so het hierdie mense sy lewe en ook die pasasiers indien enige se lewe ook ingevaar gestel. So hulle moet aangekla word.

Hendrik van George ·

Indië is omtrent 200 jaar agter die res van die wêreld in meeste opsigte. Verbaas my glad nie dat die ongeluk gebeur het nie.

Adam ·

Hendrik, die kommentaar verstom my. Alle lande ervaar armoede, ten minste ondere sekere dele van die bevolking en sommige meer as ander, maar besef jy Indiers het die derde grootste ekonomie in die wereld. Die skare se gedrag was boonop niks anders as die van ‘n klomp nuuskieriges wat by ‘n ongelukstoneel in SA stop nie. Maar nou ja, hope van ons mede-Afrikaners baak en gedy in ellende.

Deon ·

Hendrik jy weet nie waarvan jy praat nie! Indië mag wel ongelooflik baie mense hê en armmoede gedy maar hulle is alles behalwe agter. Ek was vir ‘n lang tyd daar en glo my ek het onkundig groot geword en nooit besef dat Indië een van die vooraanstaande lande is met kennis en vermoë wat jou sal verbaas nie!!

Dawie ·

In die berig staan dat die spoor “meer hoog “is as die omgewing maar op die foto is dit laer.
Ns hoer klink nie reg en foon het nie n deelteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.