65 sterf toe aardbewing China tref

Reddingswerkers in China ná ʼn aardbewing. (Foto: STR/CNS/AFP)

Reddingswerkers in China het Dinsdag etlike kilometer van puin gefynkam op soek na oorlewendes nadat ʼn aardbewing in die suidweste van die land die lewe van minstens 65 mense geëis het.

Terwyl reddingswerkers spook om mense onder die puin uit te grawe, het die land se meteorologiese eenheid gewaarsku dat modderstortings moontlik in die rampgeteisterde gebiede kan voorkom.

ʼn Aardbewing het Maandag ʼn bergagtige gebied met afgeleë dorpies suidoos van die stad Kangding in die Sichuan-provinsie op ʼn diepte van 10 km getref. Die aardbewing het 6,6 gemeet en grootskaalse verwoesting gesaai.

Minstens 65 mense is teen Dinsdag dood verklaar, terwyl reddingswerkers steeds nie toegang tot meer as 200 mense kan kry nie weens die massas puin.

Beeldmateriaal wat deur die land se uitsaaier China Central Television (CCTV) gedeel is, wys hoe brandbestryders ʼn bebloede vrou uit die puin trek en nog ʼn oorlewende op ʼn draagbaar oor ʼn rivier op ʼn tydelike brug dra. Talle geboue is deur die aardbewing beskadig en stukke bouwerk lê die strate vol.

Daar word boonop voorspel dat die afgeleë dorpies tot Donderdag “aansienlike reënval” sal kry wat tot modderstortings kan lei.

Die jongste beeldmateriaal van een van die bergagtige dorpies wys hoe rotse teen berghange in die Luding-distrik aftuimel en erge skuddings veroorsaak ná die aardbewing. Minstens een dorp het reeds ernstige skade opgedoen weens die grondverskuiwings.

CCTV berig dat meer as 200 mense, wat by die Hailuogou-natuuroord was ten tyde van die skudding, steeds gestrand is. Skootskrapers maak egter werk daarvan om rotse en ander puin te skuif om toegang tot die gebied te verkry.

Altesame 100 mense is reeds uit die bergagtige gebiede ontruim weens vrese vir kitsoorstromings. Dit kom nadat ʼn grondverskuiwing ʼn sytak na die Dadu-rivier afgesny het. Reddingswerkers het inwoners van die klein dorpies in kajakke stroomaf vervoer.

China se kabinet het Maandagaand gesê hy het ʼn span van meer as 6 500 mense uitgestuur om die reddingspogings te lei.

Pres. Xi Jinping het ʼn beroep op plaaslike owerhede gedoen om “die redding van lewens die eerste prioriteit te maak, alles in te span om mense in rampgeteisterde gebiede te red en lewensverlies te verminder”, berig CCTV.

Plaaslike regeringsamptenare het ook hand uitgesteek vir skenkings om met die noodreddingswerk te help.

Inwoners van naburige stede het aan AFP vertel dat die aanvanklike aardbewing so wyd gevoel is dat geboue in die provinsiale hoofstad van Chengdu – waar miljoene mense tot hul huise beperk is onder streng Covid-19-maatreëls – en in die nabygeleë megastad Chongqing geruk het.

Minstens tien naskokke van 3,0 is kort ná die aardbewing gevoel.

ʼn Kleiner skudding van 4,6 het ʼn uur ná die aanvanklike aardbewing die ooste van Tibet getref.

Reddingspogings is steeds in die rampgeteisterde dorpies aan die gang, maar amptenare vrees dat die sterftesyfer moontlik oor die volgende paar dae kan styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.