Aanval op Iranse bevelvoerder om ‘oorlog te beëindig’

Pres. Donald Trump spreek Vrydag die media toe in Miami. (Foto: Evan Vucci, AP)

“Ons het aksie geneem om ’n oorlog te beëindig. Ons het nie opgetree om ʼn oorlog te begin nie.”

Só het pres. Donald Trump van die VSA Vrydag aan joernaliste in Florida gesê nadat genl. Qassem Soleimani, hoof van Iran se elite Koeds-mag, vroeër die dag in ’n Amerikaanse lugaanval op Irak gesterf het.

Trump het beweer dat Soleimani dreigende en onheilspellende aanvalle op Amerikaanse diplomate en militêre personeel beplan het.

“Die Islamitiese Rewolusionêre Wag en sy meedoënlose Koeds-mag het onder Soleimani se leiding jare lank honderde Amerikaanse burgerlikes en dienspligtiges geteiken, gewond en vermoor,” het die president gesê.

Volgens Trump was onlangse aanvalle op Amerikaanse teikens in Irak, waaronder vuurpylaanvalle wat die lewe van ʼn Amerikaner geëis en vier Amerikaanse dienspligtiges beseer het asook ʼn gewelddadige aanval op die Amerikaanse ambassade in Bagdad, uitgevoer in opdrag van Soleimani.

‘n Seun hou Vrydag ‘n portret van Soleimani vas in Tehran, Iran. (Foto: Vahid Salemi)

“Soleimani het die dood van onskuldige mense sy siek passie gemaak, wat bygedra het tot terreurkomplotte so ver as Nieu-Delhi en Londen”, het Trump gesê.

Trump het opgemerk dat hoewel die VSA nie ʼn regime-verandering in Iran wil hê nie, die Iranse regime se onlangse aggressie in die streek, insluitend die gebruik van vegters om sy bure te destabiliseer, end moet kry.

Daar heers tans groot spanning in die Golf-gebied oor Soleimani se dood met Iran wat reeds gedreig het om wraak teen die VSA te neem.

Die Amerikaanse ambassade in Bagdad, die Irakse hoofstad, het Amerikaanse burgers aangespoor om onmiddellik die land te verlaat en Amerikaanse amptenare het gesê duisende ekstra troepe sal as ʼn voorsorgmaatreël in die Midde-Ooste ontplooi word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.