‘n Aardbewing wat 5 op die momentmagnitudeskaal geregistreer het, het Maandagoggend 58 kilometer van Palmerston op Nieu-Seeland se Noordeiland voorgekom.
Die episentrum was betreklik diep – 36,2 kilometer, en daar word nie verwag dat dit veel skade sou aanrig nie. Die episentrum was sowat 88 kilometer van Napier af, en 182 kilometer van die hoofstad, Wellington.
Die sterkste aardbewing wat die afgelope dag voorgekom het, was egter een van M5,3 in die noordweste van China.
Nog interessante aardbewings die afgelope 24 uur is een van M4,5 in Oklahoma in die VSA. Dié streek word die afgelope jaar gereeld deur ‘n aardbewingswerm geskud, die meeste lig. Die belang hiervan is dat die Amerikaanse geologiese opnamesentrum, die USGS, meen dat dit grootliks die regstreekse of onregstreekse gevolg van die terugpomp van afvalvloeistof in olieskagte.
‘n Paar ligte skuddings het ook in die omgewing van die Yellowstone Nasionale Park voorgekom. Die aktiewe, maar lank reeds rustende vulkaan waarop die park geleë is, was pas weer die onderwerp van akademiese besprekings.
Die sterkste aardbewing die afgelope week was een van M6,5 wat net suid van Fidji voorgekom het.
Los Angeles, wat die “uitstaande grote” binne die volgende dertig jaar verwag, het die afgelope week ‘n skudding van M 5,1 beleef wat by La Habra voorgekom het. Soos die meeste Kaliforniese skuddings en trillings was die episentrum ook vlak – slegs sowat 7,5 kilometer. Dié skudding het gekom net ‘n dag na die VSA die vyftigste herdenking van die VSA se ergste aardbewing in herinnering geroep het.