Afrika-Unie amptelik deel van G20-beraad

Indië se eerste minister Narendra Modi (middel) spreek die G20-beraad toe by Bharat Mandapam in Nieu-Delhi (9 September 2023) (Foto: Ludovic Marin/Pool/AFP)

Die Afrika-Unie het Saterdag formeel sy sitplek ingeneem as ʼn nuwe lid van die G20 op uitnodiging van die Indiese eerste minister Narendra Modi.

Die uitbreiding van die groep is ʼn diplomatieke oorwinning vir Modi, wat volgende jaar deur nasionale verkiesings in die gesig gestaar word en die gasheerregte vir vanjaar se forum gebruik het om sy beeld as ʼn internasionale staatsman uit te bou.

Modie het, net voor sy openingstoespraak, die voorsitter van die Afrika-Unie en president van die Comore-eilande, Azali Assoumani, met ʼn omhelsing begroet.

“Indië het ʼn aanbod ingedien om permanente lidmaatskap van die G20 aan die Afrika-Unie toe te ken. Ek glo dat almal hiermee saamstem,” het Modi in sy openingstoespraak by die beraad gesê. “Met almal se goedkeuring, versoek ek die hoof van die Afrika-Unie om sy sitplek in te neem as ʼn permanente G20-lid.”

Assoumani het daarna sy sitplek tussen wêreldleiers ingeneem.

Dit was die afgelope paar jaar al hoe moeiliker om konsensus te bereik tussen lede met groot verdeeldheid oor die oorlog in Oekraïne.

“Die wêreld is in ʼn vertrouenskrisis,” het Modi bygevoeg. “Die oorlog het dié vertrouensbreuk vergroot. As ons Covid-19 kon oorkom, kan ons ook hierdie gesamentlike vertrouenskrisis oorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.