Aktivis tronk toe oor skade aan Van Gogh-skildery

Vincent van Gogh se Peach Trees In Blossom. (Foto: Courtauld Galery)

Twee aktiviste is Dinsdag daaraan skuldig bevind dat hulle “onherstelbare skade” aan ʼn eeue oue raam van ʼn Vincent van Gogh-skildery aangerig het nadat hulle hulself daarteen vasgegom het.

Louis McKechnie (22) en Emily Brocklebank (23), albei verbonde aan die Just Stop Oil-omgewingsaktivistegroep, het skade van sowat £2 000 (meer as R40 000) aan die betrokke raam aangerig.

Die twee het op 30 Junie hulself teen die skildery genaamd Peach Trees in Blossom vasgegom in protes teen die skade wat aan die omgewing aangerig word deur oliemaatskappye. Die skildery hang in Londen se Courtauld-galery.

McKechnie is tot ʼn drie week lange tronkstraf gevonnis, terwyl Brocklebank ʼn opgeskorte vonnis toegedien is, berig BBC.

“Ek het nie gedink dit sal soveel skade aanrig nie. Gom kom mos af,” het Brocklebank in die Westminster-landdroshof gesê.

Distriksregter Neeta Minhas het egter gesê die skade is “aansienlik”.

“ʼn Raam uit die 18de eeu is permanent beskadig. Dit is nie in ʼn toestand waar dit na sy oorspronklike toestand kan terugkeer nie,” het Minhas in haar uitspraak gesê.

Sy het aan die hof gesê dat die skildery “ʼn aansienlike historiese en kunswaarde het” en dat die skade wat aangerig is “nie gering, onbeduidend, tydelik of onbenullig is nie”.

“Ek bevind julle albei skuldig aan strafregtelike skade, aangesien julle geen wettige verskoning gehad het om dié soort skade te veroorsaak nie, maar op ʼn roekelose grondslag opgetree het.”

McKechnie, van Weymouth in Dorset, was al by verskeie geleenthede in die tronk vir ʼn aantal oortredings, waaronder die verbreking van ʼn bevel wat ontwerp is om padblokkades te voorkom, en vir verswarende betreding nadat hy homself aan ʼn doelpaal by ʼn Premierliga-sokkerwedstryd vasgebind het.

Ter verdediging van die twee het hul prokureur, Francesca Cociani, een van die galery se kurators gevra of die kunswerk in waarde toegeneem het “weens die protes waaraan die verweerders onderworpe was”.

Die kurator was egter duidelik daaroor dat die waarde van die skildery nie in die komende jare sal toeneem weens die protesaksie nie. Sy glo inteendeel dat die skildery nou glad nie meer verkoop kan word nie.

Talle bekende skilderye van oor die wêreld is die afgelope paar maande aan verskeie protesaksies onderwerp – veral deur aktiviste verbonde aan Just Stop Oil.

Meer onlangs het klimaatsaktiviste van die Last Generation-groep sowat 8 kg meel oor een van Andy Warhol se skilderye in Milaan gegooi. Terwyl veiligheidswagte van die aktiviste uitgegooi het, het ander hul hande teen die vloer vasgegom.

“Kunswerke is geteiken om die skynheiligheid van ons samelewing se waardes uit te lig. Raak ons werklik woedend oor die nabootsing van skade aan kunswerke, terwyl die voortdurende vernietiging van werke van die natuur, ekosisteme en ons eie lewens ons onverskillig laat?” het Last Generation in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jan ·

Dit moes baie langer as net 3 weke gewees het. Eerder 3 jaar.

Dit moet ‘n afskrik middel wees vir andere wat dieselfde streke trek.

Cherokee ·

Dit vergelyk mi met die gooi van klippe na karre en die breek van winkelvensters om teen die regering te betoog.

Johan Botha ·

Gisteraand, in die nuus, praat die vrou van boorgatte!? Dis mos boorgate!

Johan ·

Ek dink hul doen baie skade aan hul veldtog, kom eerder met bewyse wat hul saak ondersteun of nog beter, kom met oplossings. Dit sou vir my meer sin maak as wat hul nou aanvang.
Daar is inelkgeval baie ander besoedeling wat moet aandag kry, hoekom nou net kla oor olie, wat hul self ook elke dag gebruik.

Anonymouse ·

So ‘n raam van ‘n skildery is meer werd as ons planeet?

Cherokee ·

So jy sal ook skilderye gaan besmeer oor ‘n onverwante klag.

Gaitsigubib ·

Dis moeilik om te verstaan maar die verligte, verlinkse gemeenskap dink en redeneer nie soos jy nie. Geweld en vandalisme is al 100% reg as dit strook met hul eie ideologie. As jy dit as verwronge beskou sonder om te beledig, sal jy versigtig moet trap want jy sal ook die teiken van n sopgooiery word. Hierdie is n baie goeie voolbeeld, mens sukkel dus baie om n geenskaplike grond te vind. Sterkte as jy wil probeer.

Vexed ·

Kan jy meer spesifiek wees? Regtig spesifiek? Daar is geen verband nie.

Gaitsigubib ·

Johan, die meeste aktiviste, BLM, woke far left, radikaal groen, anti godsdienstig………. alles is voels van die selfde vere.

Gaitsigubib ·

Ek hou nogal van kuns, maar my idee van kuns is Pierneef en Adriaan Boshoff, tewyl ander se smaak soms meer lyk na n totale morele verval as kuns. As hierdie mense werklik n bydrae wou maak dan kon hulle, want dit is edel om die omgewing te wil bewaar, maar hulle wil eerder deel wees van afbreking en verval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.