Ál meer skepe vermy Rooisee, vaar om Afrika

Groot vragskepe sal om Afrika na die Kaap herlei word te midde van aanvalle deur Houthi-terroriste van Jemen op skepe in die Rooisee.

Die skeepsreus Maersk het Vrydag gesê hy sal in die “afsienbare toekoms” alle vaartuie om Afrika herlei in plaas daarvan om die Rooisee en Suez-kanaal te gebruik. Dit volg ná sy handelskepe in die afgelope twee maande al 25 keer aangeval is.

Die Deense maatskappy het na die hoogs wisselvallige situasie verwys en gesê dat die sekerheidsrisiko hoog bly.

“Ons het dus besluit dat alle Maersk-vaartuie wat deur die Rooisee of baai van Aden vervoer word, in die afsienbare toekoms suid om die Kaap die Goeie Hoop herlei sal word,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

ʼn Skeepsvrag wat van Singapoer na Port Suez in Egipte vervoer is, is Sondag deur ʼn missiel in die Bab al-Mandab-seestraat getref.

Vier skepe – wat deur Jemen se Iran-gesteunde Houthi-rebelle bestuur is – het daarna op die vaartuig losgebrand in ʼn poging om die vaartuig te onderskep.

Die Amerikaanse weermag sê vloothelikopters het drie van die skepe gesink. Die vierde skip het egter daarin geslaag om te vlug.

Sedert 18 November is altesame 25 kommersiële vaartuie wat in die suidelike Rooisee en baai van Aden bedrywig is, aangeval.

Op Woensdag het 12 nasies – gelei deur die VSA – gesamentlik ʼn beroep op Jemen se Houthi-rebelle gedoen vir ʼn “onmiddellike beëindiging van hierdie onwettige aanvalle” terwyl hulle ook gewaarsku het oor “gevolge”.

Volgens die internasionale kamer van verskeping (ICS) is die Rooisee ʼn “noodsaaklike waterweg” met 12% van wêreldhandel wat daardeur gaan. Die waterweg verbind die Middellandse See met die Indiese Oseaan, en dus ook Europa met Asië.

Sowat 20 000 skepe gaan elke jaar deur die Suez-kanaal.

Die Deense maatskappy het in die middel van Desember – soos ander wêreldwye skeepsreuse – die deurgang van sy vaartuie deur die roete gestaak. Hulle het aangekondig dat dit op 24 Desember weer hervat sal word, net om dit weer op 31 Desember, een week later, op te skort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Die aanvalle op die skepe , maak net nie vir my sin nie. Sekerlik is daar finansiële voordele met verbygaande skepe , vir die lande aangrensend tot die Rooi see en op die roete na Suez kanaal . Iewers gaan daar groot verliese gely word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.