Alex Murdaugh swaar gestraf vir finansiële misdade

Alex Murdaugh saam met sy vrou Maggie en seun Paul (Foto: Skermgreep uit Netflix-lokprent)

Alex Murdaugh, die bekende prokureur van die Amerikaanse deelstaat Suid-Carolina wat verlede jaar skuldig bevind is aan die moord op sy vrou en seun, is Maandag tot 40 jaar tronkstraf gevonnis vir finansiële misdade.

Murdaugh (55) dien reeds lewenslange tronkstraf uit nadat hy sy vrou, Maggie, en seun, Paul (22), in Junie 2021 op die gesin se landgoed vermoor het.

Murdaugh het verlede jaar skuld beken op staatsaanklagte van diefstal van miljoene dollar van kliënte van sy prominente regsfirma en is tot 27 jaar tronkstraf gevonnis. Hy was Maandag terug in die hof vir vonnisoplegging op federale aanklagte van sameswering om bedrog en geldwassery te pleeg.

Die 40 jaar tronkstraf sal gelyklopend met die 27 jaar wat hy reeds ontvang het, uitgedien word.

Murdaugh het sy vrou en seun vermoor nadat hy besef het dat sy jarelange plundertog van miljoene dollar van sy prokureursfirma en van kliënte om vir sy verborge opioïedverslawing te betaal, op die punt was om bekend te word. Die moordverhoor van drie weke is regstreeks uitgesaai en het kykers reg oor Amerika en buite die land geboei.

Bewyse van sy seun se selfoon het aangedui dat Murdaugh die enigste persoon by hulle was etlike minute voordat Maggie met ’n aanvalsgeweer en Paul met ’n haelgeweer vermoor is.

Murdaugh het ontken dat hy sy vrou en jonger seun vermoor het, maar het erken hy het miljoene dollar van kliënte van sy prokureursfirma gesteel om ’n opioïedverslawing vol te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.