Apple hoop om teenwoordigheid in Indië te versnel

‘n Verbruiker verwonder hom aan die nuwe geel kleur van die iPhone 14 in die Nieu-Delhi iStore. (Foto verskaf)

Met Indië wat China na verwagting vanjaar as die wêreld se mees bevolkte nasie gaan onttroon, maak dit baie sin dat die Kaliforniese tegnologiereus, Apple, sy teenwoordigheid hier teen ’n ongekende tempo versnel. Dié groep, wat reeds vir 25 jaar in Indië sake doen en met ’n markkapitalisasie van R2,68 biljoen (trillion) spog, het onlangs nie minder nie as twee iStore-winkels (sy eerstes in Indië) in twee dae in onderskeidelik Moembaai en Nieu-Delhi geopen.

China spog sedert 1950, toe die Verenigde Nasies (VN) bevolkingsrekords begin hou het, met die grootste bevolking. Volgens die VN se vooruitskatting sal Indië se bevolking binnekort 1,4286 miljard, vergeleke met China se 1,4257 miljard, bereik. Dit sal noemenswaardige ekonomiese gevolge vir albei lande inhou.

Terwyl China se geboortesyfer van 7,52 geboortes per 1 000 inwoners tot 6,77 in 2022 gedaal het, gaan Indië se werkende bevolking oor die volgende dekade tot meer as ’n miljard toeneem. Volgens die Wêreldbank is die arbeidsmagdeelnamekoers – ’n skatting van die aktiewe arbeidsmag en mense wat werk soek – slegs sowat 46% in Indië teenoor China se 68%, wat beteken dat baie werkgeleenthede in ’n kort tydjie in dié land geskep sal moet word.

Die Wêreldbank meen voorts dat Indië vanjaar ’n ekonomiese groeikoers van 6,6% kan bereik teenoor die VSA se 0,5% en China se 4,3%. Volgens syfers van die Sentrum vir Ekonomiese en Besigheidsnavorsing kan Indië Duitsland teen 2026 verbysteek as die wêreld se vierde grootste ekonomie, Japan van sy derde plek in 2032 stroop en teen 2035 slegs die derde land met ’n bruto binnelandse produk (BBP) van $10 biljoen (trillion) word.

Dié opwindende groeivooruitsigte is ’n geleentheid wat Apple nie durf misloop nie, veral gegewe sy wipwastryd met Samsung. Apple het volgens Statcounter teen einde Maart met ’n wêreldwye markaandeel van 28,42% gespog teenoor Samsung se 27,1%. Net ’n jaar tevore was dié rolle omgeruil met Samsung op 28,22% en Apple op 27,57%.

Kopers staan tou voor die opening van Apple se iStore in Nieu-Delhi (Foto verskaf)

Ofskoon Apple die wedloop in die VSA ver wen met ’n markaandeel van 56,8% teenoor Samsung se 29,47%, gee Samsung in Asië en Afrika die pas aan op onderskeidelik 22,56% en 33,67% teenoor Apple se 18,35% en 14,98%. In Indië, tans op vier na die wêreld se grootste ekonomie, hou Apple volgens CNN ’n skamele 6%-markaandeel. China is die wêreld se grootste slimfoonmark, met Indië kort op sy hakke.

Apple, wat se iPhone reeds sedert 2017 ook in Indië vervaardig word, word hiér as baie duur beskou en deur Samsung en Chinese mededingers soos Xiaomi en Vivo in die skadu gestel. Laasgenoemde twee spelers se wêreldwye markaandeel groei stewig en staan tans op onderskeidelik 11,72% en 5,1%. Nog ’n Chinese speler, Oppo (op 6,37%), krap ook al meer in Apple se slaai.

Reuters berig dat Apple al minder op China wil steun en sy belegging in Indië drievoudig wil vermeerder. Altesaam 50% van alle slimfone wat tussen Augustus verlede jaar en Februarie vanjaar van Indië af uitgevoer is, ter waarde van sowat $9 miljard, was iPhones. Dié fone, asook ander Apple-produkte, word deur kontrakteurs soos Foxconn, Wistron en Pegatron in Indië aanmekaar gesit.

Volgens Counterpoint Research is 63% van slimfone in 2022 in China vervaardig, gevolg deur Indië op 17% en Viëtnam op 11%. Indië het volgens US News die laagste vervaardigingskoste. Apple het die produksie van die iPhone 14 kort ná sy bekendstelling in September verlede jaar na Indië verskuif, het Bloomberg berig.

Apple is deur verskeie struikelblokke in die gesig gestaar om fisieke winkels in Indië te open en moes tot met die opening van die twee winkels hier op e-handelwebtuistes staatmaak om sy produkte van die hand te sit.

Tim Cook, Apple se visioenêre grootbaas, het benewens die opening van dié twee iStore-winkels, ook met die Indiese premier Narendra Modi vergader en ná die tyd getwiet: “Van onderwys en ontwikkelaars tot vervaardiging en die omgewing – ons is daartoe verbind om reg oor die land te groei en te belê.”

Apple het op sy beurt in ’n verklaring gesê hy werk saam met verskaffers om al meer komponente hier te vervaardig. “Die maatskappy werk met Indiese verskaffers van alle groottes ten einde honderde duisende werksgeleenthede reg oor die land te skep.”

Apple se nuutste iStore is op 28 April in Shenzhen, China, geopen.

Apple se iStore in Moembai (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Voeg Brasilië by en BRICs lyk na die plek om te wees. Bye VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.