Bemiddelaars spook om Gaza-wapenstilstand te reël

ʼn Rookwolk tydens Israel se bomaanval in Rafah (6 Februarie 2024) (Foto: Mahmud Hams/AFP)

Bemiddelaars spook om ʼn nuwe wapenstilstand in die oorloggeteisterde Gaza te finaliseer. Onlangse verklarings van die Amerikaanse president Joe Biden en ander wêreldleiers wil dit laat voorkom of ʼn deurbraak op hande is.

Die presiese voorwaardes van ʼn moontlike ooreenkoms bly egter steeds onduidelik – minder as twee weke voor die aanvangs van Moslems se heilige maand van Ramadan, die moontlike sperdatum vir die ooreenkoms.

Bronne beskryf ʼn plan vir ʼn ses weke lange wapenstilstand en die vrylating van talle gyselaars en honderde Palestynse gevangenes, insluitend verhoogde hulp aan die besette Gaza.

Biden het Maandag aan verslaggewers gesê ʼn ooreenkoms “in beginsel” sal tydens Ramadan geld (wat op 10 of 11 Maart begin, afhangende van die maankalender).

Qatar, waar Hamas se politieke buro gehuisves word, is “hoopvol, maar nie noodwendig optimisties nie” dat ʼn ooreenkoms voor Ramadan gesluit word. “Die situasie is nog vloeibaar op grondvlak,” het ʼn woordvoerder vir die ministerie van buitelandse sake Dinsdag gesê.

Die wapenstilstand sal na verwagting 42 dae lank duur, het ʼn bron in Hamas gesê wat anoniem wou bly weens die sensitiewe aard van die onderwerp.

Hamas wil ʼn permanente onttrekking van Israelse weermag uit die Gaza-strook hê, en die bron sê die wapenstilstand kan moontlik “hernu” word.

Biden het gesê Israel sal nie tydens Ramadan aan bedrywighede deelneem nie en die bron in Hamas het gesê Israeliese magte sal “uit stede en bevolkte gebiede in Gaza onttrek”.

Dit sal ontheemde inwoners van Gaza die kans gee om na hul huise terug te keer, het die bron in Hamas bygevoeg, maar gesê mans tussen 18 en 50 sal dit nie kan doen nie.

Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu het egter aangedui dat Israel by sy doelwit sal hou om Hamas uiteindelik te elimineer in reaksie op die groep se ongekende aanval op 7 Oktober. Die aanval het tot die sterfte van 1 160 mense in Israel gelei, hoofsaaklik siviele burgers, aldus ʼn AFP-telling gebaseer op amptelike syfers.

Israel se militêre aanslag het minstens 29 878 mense se lewens, hoofsaaklik vroue en kinders, geëis, aldus die Hamas-beheerde gebied se ministerie van gesondheid.

Wie sal vrygelaat word?

Tydens die enigste vorige wapenstilstand in die oorlog, wat in November vir een week lank geduur het, is meer as 100 gyselaars vrygelaat, insluitend 80 Israelse burgers wat tydens die aanval op 7 Oktober gyselaar geneem is. Sowat 240 Palestynse burgers wat in Israel in aanhouding was, is ook vrygelaat.

Sowat 250 persone is tydens die Hamas-aanval gyselaar geneem. Altesaam 130 van dié gyselaars is steeds in Gaza, alhoewel sowat 31 vermoedelik dood is, sê Israel.

Onder die voorstel vir ʼn nuwe wapenstilstand, het die Hamas-bron gesê, sal die groep 42 Israeliese burgers – vroue en kinders jonger as 18 – vrylaat, asook siek en bejaarde persone.

Palestynse gevangenes sal vrygelaat word in ʼn ratio van 10 teenoor een, het die bron gesê.

Wat beteken dit vir humanitêre hulp?

Toenemende internasionale druk vir ʼn nuwe wapenstilstand kom te midde van waarskuwings oor die humanitêre krisis in Gaza en kommer oor ʼn verwagte Israeliese inval in suidelike Rafah.

Netanyahu het gewaarsku dat enige ooreenkoms vir ʼn wapenstilstand bloot die grondbesetting van Rafah sal uitstel, nie voorkom nie. Sowat 1,5 miljoen Palestynse burgers het hier skuiling kom soek.

Volgens die ooreenkoms sal tussen 400 en 500 vragmotors met humanitêre hulp Gaza elke dag binnery, het die Hamas-bron gesê. Dit is ʼn toename van net meer as 100 vragmotors per dag die afgelope paar weke, aldus Amnesty International.

Tydens die periode sal daar ook pogings wees om hospitale, bakkerye en waterstasies weer aan die gang te kry, aldus die Hamas-bron.

Israel se Kanaal 12 het berig dat David Barnea, hoof van Mossad, aan die kabinet gesê het dat ʼn versuim om humanitêre hulp te verhoog die ooreenkoms in die wiele sal ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Hamas het die wêreld beïndruk met sy slim wiskundiges en sieners wat syfers kan kook tot dit oorborrel in ware leuens… 30 000 sterftes wat waar begrawe word en 70 000 beseerdes wat waar verpleeg word? Volgens hulle loop Joodse soldate net rond en skiet almal wat voorkom. En kameramanne is gelukkig om altyd op die regte plek te wees om die dramatiese effekte vas te lê vir ‘n epiese film wat eendag by die hemelpoort oorhandig sal word vir die betaling van sewe maagde vir elke storie van Hamas en sy Filistyne.

Michael ·

Die verskil tussen die vry gelaat mense is hamas is terroriste en die Israel is onskuldige mense wat ontvoer, verkrag en geskend is.Israel het ‘n verdediging dome om die hamas terroriste se aanvalle op onskuldige mense te verhoed.Ek staan 100% saam met Israel.

Deon ·

Michael, as jy vir ‘Israel’ staan, dan staan jy ook vir die dekade lange tereur wat hulle teen die Palestyne voer. Jy kan dan nie beswaar maak teen die verwerplike grondgryp wat die ANC wil pleeg nie want ‘Israel’ doen dit by uitstek oor die afgelope 60 jaar. Jy kan ook nie beswaar maak teen haatspraak soos ‘kill the boer kill the farmer’ want ‘Israelse’ politici maak uitsprake soos dit in dieselfde trant.

Grassie ·

Daar is 130 gyselaars in Gaza. Nou sê Hamas in alle erns en barmhartigheid hulle sal 42 plus enkele siekes vrylaat as Israel vir 6 weke totaal uit Gaza padgee, met ‘n Hamas opsie om die wapenstilstand te hernu. Dit is die mees arrogante optrede wat ek nog van gehoor het, ‘n verloorkant wat die septer wil swaai. Netanyahu moet klaarmaak waarmee hy begin het sonder verdere versuim. Dit is in elk geval sy laaste taak as staatshoof. ‘n Mens onderhandel nie met terroriste nie, jy vernietig hulle.

Deon ·

Een van die doelwitte van die gyselaars wat Hamas gevange geneem het, is om hulle uit te ruil vir Palestynse gevangenisse. Daar is sowat 8000 Palestyne in ‘Iraelse’ tronke waaronder 350 kinders. Omtrent 3000 is in aanhouding sonder enige aanklag.

Marthinus W ·

Israel wil die Palestyne in Egipte hervestig. Dis soos die ANC wat ons Afrikaners in Mosambiek of Zimbabwe wil hervestig. Sal ons dit aanvaar?

Hou bietjie die Arabiere dop: hulle bewe van woede oor die slagting. Wat gaan gebeur as hulle besluit om in hul miljoene Israel in te vaar en alles plat te vee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.